Oudpolisiekommissaris Phahlane se hofsaak uitgestel

Voormalige polisiekommissaris Khomotso Phahlane

Lt.genl. Khomotso Phahlane, voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Maandag vlugtig saam met sy vrou Beauty en ʼn sakeman van Pretoria, Durandt Snyman, in die Pretoriase handelsmisdaadhof verskyn.

Volgens die klagstaat staan die voormalige polisiehoof en sy vrou tereg op ses aanklagte van korrupsie dat hulle geld van Snyman, ʼn gebruiktemotorhandelaar, ontvang het. Snyman word daarvan beskuldig dat hy forensiesevoorraadmaatskappye, wat sake gedoen het met die polisie, gehelp het om groot bedrae kontant aan Phahlane en Beauty, ʼn brigadier in die polisie, oor te betaal.

Die Phahlanes en Snyman is vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.

Landdros Nicca Setshogoe het die saak tot 7 Junie uitgestel om die verdediging en staat die geleentheid te bied om verskeie tegniese kwessies op te los.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) voer aan dat Snyman se maatskappy deur Forensic Data Analysts (FDA) gebruik is om die oorbetalings aan die Phahlanes te verseker deur voertuie by Snyman se maatskappy aan te koop.

Keith Keating, eienaar van FDA, word daarvan beskuldig dat hy die betalings gereël het.

Phahlane was in daardie stadium die hoof van die polisie se forensiese eenheid.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê daar is ʼn sterk saak teen Phahlane en sy medebeskuldigdes. Die bedrag ter sprake beloop ongeveer R900 000 en die saak word gekategoriseer as ʼn skedule 5-oortreding.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het verlede jaar ʼn klopjag uitgevoer op Phahlane en Keating se eiendomme. Phahlane het vroeër skuld ontken op enige aanklagte van korrupsie en voer aan die motors was deel van ʼn borgskap.

Snyman hou vol hy het die motors geborg.

Sommige van die motors wat die Phahlanes ontvang het, sluit ʼn Land Rover Discovery 4, ʼn Nissan Navara, ʼn Toyota Hilux 3.0, ʼn Mercedes Benz C250, ʼn Volkswagen Polo en ʼn Ford Ranger in.

Keating ontken ook enige skuld en voer aan Phahlane het nie sy motors van hom ontvang nie.

Phahlane is in Junie 2017 van al sy ampte as waarnemende polisiehoof ontneem te midde van die bewerings van korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dafer ·

So, dit is nou al amper ‘n jaar wat hy NIKS doen nie, en nog steeds ‘n salaris kry!!!!!!!!!!!

Philip ·

Dafer ek dink hy het in elk geval niks gedoen nie, nou is hy ten minste nie in die posisie om nog verder skelmstukke uit te dink nie al kry hy nog salaris.

Duitser ·

As die leierskap so is dink net hoe die klomp op stasie vlak is al wat ek kan sê dit is n skande .

Buffel ·

Dit was definetief nie hy wat korrup was nie dit is ‘n smeer veldtog om sy naam te diskrediteer…….as hy sy dag in die hof kry sal dit als uitkom……..

LV ·

Ek dink weer nie so nie Buffel,ek vermoed hy was daarby betrokke. Absolute skande dat n foto van hom in uniform so geplaas word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.