Oudpolisielede kan dalk vervolg word oor Timol-moord

Ahmed Timol (Foto: Zetaboards.com)

Die laaste persoon wat Ahmed Timol lewend gesien het, het Woensdag gehoor indien hy 46 jaar gelede betrokke was by Timol se dood, kan hy vervolg word vir meineed, sameswering om moord te pleeg en moord.

Ondanks talle teenstrydige bewyse, het Jan Rodrigues, voormalige veiligheidspolisiebeampte, volgehou dat Timol sy eie lewe geneem het deur uit die 10de verdieping van die John Vorster Plein-polisiestasie (nou Johannesburg Sentraal) “geduik” het.

Roderigues hou vol hy het gesien hoe Timol kop en hande eerste uit die venster geduik het. Hy het probeer om hom te red, maar het self oor ʼn stoel gestruikel en geval.

Adv. Howard Varney, vir die Timol-familie, het aan Rodrigues gesê die familie soek nie wraak nie, hulle wil net die waarheid hoor. Rodrigues het gesê hy vertel die waarheid en hou vol hy is onskuldig.

Varney het egter vir hom gesê alles dui daarop dat hy met lede van die voormalige veiligheidstak saamgewerk het om Timol se “moord” te verbloem en dit soos ʼn selfmoord te laat lyk. Varney het gesê bewyse is gefabriseer om te verbloem dat Timol ernstig gemartel en gevolglik beseer is toe hy in September 1971 ondervra is.

Hy het ook aan Rodrigues gesê hy het ingestem om die sondebok te wees, sodat die persone wat Timol ondervra het, kapt. Hans Gloy en kapt. Johannes van Niekerk en “moontlik ander”, nie Timol se beserings hoef te verduidelik wat hy voor die val opgedoen het nie.

Varney het daarop gewys dat die patoloog, wat in 1971 die nadoodse ondersoek gedoen het, verskeie beserings aangetoon het wat voor die val opgedoen is.

Dit was in daardie stadium dat die ondersoekbeampte in die saak, genl. Stoffel Buys, Rodrigues gevra het om sy verklaring aan te pas om in te sluit dat hy en Timol fisies baklei het voor hy uit die venster geval het.

Rodrigues het vandeesweek vir die eerste keer bely dat hy onder druk was om sy verklaring aan te pas, maar het gesê hy het geweier om dit te doen. Hy is herhaaldelik gevra waarom hy versoek is om dit te doen, maar hy het gesê hy weet nie.

Rodrigues het erken hy was in die vertrek toe Timol uit die venster geval het.

Varney het gesê hy sal tydens sy finale betoog dit aan die hof stel dat Rodrigues moontlik nie die laaste persoon was wat Timol gesien het nie. “Die laaste persone was vermoedelik Gloy, Van Niekerk en ander.”

Regter Billy Mothle het Rodrigues se getuienis bevraagteken en gevra of hy miskien meineed gepleeg het in sy getuienis, omdat dit teenstrydig is met die verslag van die patoloog. “As ek ʼn keuse moet maak tussen die mediese bewyse en jou weergawe, dan moet ek een laat vaar,” het hy aan Rodrigues gesê.

Rodrigues het egter gesê hy kan nie sy verklaring aanpas volgens dit wat kenners in die hof gesê het nie, want hy was die een wat saam met Timol in die vertrek was en gesien het wat gebeur. “As ek my weergawe moet verander, beteken dit dat ek gelieg het. Ek het net gesê wat gebeur het en ek hou by my weergawe.”

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Michael ·

Wat n mors van belasting geld die vervolging van witmense wat gehoorsaam was aan die regering van die dag …vervolg die leiers fw de klerk en sy gevolg nie hulle onderdane nie.

THEA SWART ·

michael stem 100% saam net so goed dat die voormalige army manne almal vandag gekruisig moet word omdat hulle almal op die grense geveg het vir dit wat hulle gedwing was om te doen

MissDemeanor ·

Michael. As jou baas vir jou vra om iemand te martel/ geld te steel/ jou vrou te verneuk (enige iets wat moreel “ingewikeld” is) en jy luister na hom, dan verdien jy geen medalje vir jou gehoorsaamheid nie.

Willie ·

Die insident het in 1976 plaasgevind. Genade mense dis 40 jaar gelede. Maak vrede daarmee, sit dif agter julle en gaan aan. Dit is belaglik.
Wanneer gaan ons ‘n saak oopmaak teen Herodes?!

MissDemeanor ·

As jou pa/ma of broer/suster of seun/dogter doodgaan onder vreemde onstandighede en daar is bewerings dat hul gemartel is…en jul familie soek al vir 40 jaar antwoorde…gaan jy jou skouers optrek en se “ag kom ons los dit?”

Domvraag ·

Ja maar vir almal. Ondersoek al die bomplanters soos die Pretoriabom. Of is hierdie maar weer bewys van dubbele standaarde ?

MissDemeanor ·

@Domvraag. Die mense wat die kerkstraat bom geplant het is in die ontploffing dood. Jo Slovo en Oliver Thambo wat die leiers was van die groep terroriste, is nou ook dood. Jo Slovo se vrou Ruth First is dood nadat Craig Williamson vir haar n bom gestuur het uit wraak uit. Craig Williamson het amnestie gekry by die WVK. So ek sien geen rede waarom daar verder ondersoeke nodig is nie. Die mense wat na bewering vir Timol gamartel en vermoor het, het ook n kans gehad op amnestie as hul WVK toe sou gaan. Maar hul het nie. Nou haal die verlede party van hul in.

Linette ·

Weer eens ek, MissDemeanor. Wat Domvraag hierbo sê, is waar. As één insident waar iemand in die Apartheidsjare ondersoek word, dan moet álmal en álles ondersoek word. Timol is ook dood, so wat maak dit saak van Joe Slovo, Oliver Tambo en Ruth First wat ook al dood is? En die WVK was nie die towerstaf waarmee alle ongeregtighede uit die Apartheidsjare reggestel is en vergifnis gegee is vir diegene wat (moet ek sê, onder OPDRAG) ‘verkeerd’ gedoen het nie. Wat van Janusz Walus wat nou nog in die tronk sit vir die moord op Chris Hani, maar Shabir Shaik wat vrolik vry-loop, al is hy “terminaal” siek?

Daar is, soos party kommentators hier meen, dubbele standaarde. As Timol se familie ‘n posthumus omdraaiing van die oorspronklike hofbevinding van Oktober 1971 en apologie kry – en daar selfs na 46 jaar vervolging geskied – so moet alle ander sake waar onskuldige lede van die publiek (en hul nasate) posthumus ondersoeke na die onderskeie sake kry – veral dié waar soveel jong soldate op die Grens gesterf het in die Grensoorlog of soveel gesterf het in openbare bomaanvalle en terreur-operasies uitgevoer deur die SAKP en ANC. “All is fair in love and war”.

Js ·

Vir die wat dit nie ken nie gaan google gerus die ANC se Camp Quatro; hulle is nie eers seker hoeveel mense daar dood is nie. Baie lelike goed het gebeur in daai jare, maar dit was maar al die rolspelers, nie net die Apartheid regering nie.

vrikie ·

Hulle probeer ‘n moordklag praktiseer wat heel moontlik ‘n selfmoord was, die bewyse teen hom is maar baie eina. Die ‘sogenaamde bewyse’ sal nie staan as hy van moord aangekla word nie

HPV ·

Lê hierdie eensydige vervolgings voor FW de Klerk en Roelf Meyer se deur. Ons wag steeds vir hul teenwigte,

Cherokee ·

Maroela, julle wat oordrewe versigtig is met woordgebruik en verdagtes en aanhalingstekens in berig tot berig gebruik, het nie dieselfde protokol hier gebruik waar julle in die titel van die berig besluit het dat dit moord was, nie. Daar is nog nie uitsluitsel gegee daaroor nie en as Dawani kon wegstap met ‘n uitspraak van geen bewyse, sal dit dalk in die betrokke saak ook die geval wees.

Dirk Jonker ·

Ongelooflik dat ‘n Regter ‘n getuie so dreig oor sy getuienis – so hy het eintlik reeds besluit wat gebeur het!

Jeanette ·

Waarom ondersoek julle nie liewers al hierdie plaasmoorde nie. Huidige onopgeloste sake. nou word daar tyd gemors met iemand wat al so te sê vergete is. Familie en vriende gaan aan met julle lewe. DIe huidge is skrikwekkend want ons kindertjies en kleinkinders en oumense loop deur.

Kiepie ·

Waarom moet dit die een of die ander wees Jeanette? Moet albei nie dieselfde mate van aandag kry nie? Of iemand nou 40 jaar of 4 dae gelede dood is, as die vermoede daar is dat hulle gemartel en vermoor is moet albei deeglik ondersoek word en die skuldiges (indien dit bo alle redelike twyfel bewys kan word) aan die pen ry.

Justice ·

Ek glo dat Timol in hart en siel geglo het in wat hy doen – hy het moontlik die eerbare ding gedoen om nie onder ondervraging te swig en sy makkers se name te verklap nie. Hulle behoort hom eerder die eer daarvoor te gee as om vergelding te soek – die veiligheidspolisie het op daardie stadium net hul werk gedoen om netwerke oop te vlek en individue te identifiseer wat met terrorisme verbind kon word. Ek het nog nooit van `n spioen of terroris wat gevang is gehoor wat om `n gesellige tafel met koek en tee alles uitgeblaker het nie.

Sputnik ·

Ek het gisteraand die hele ondervraging van Sers. Jan Rodriquez aanlyn gekyk. Ek moet eerlik sê dat as ek terugdink aan ‘n voorval wat gedurende 1970 in my kantoor plaasgevind het, is daar darem baie van die fyner detail wat ek ook gladnie meer kan onthou nie. Dit was wel ‘n baie, baie minder ernstige voorval – twee van ons soldate wat (vermoedelik) gedros het, aangekeer is en na ons basis gebring is vir verhoor (weereens vermoedelik). Tydens die oorhandiging het een ontsnap. Vrae soos bv. hoe lank hulle in my teenwoordigheid /kantoor was en in watter volgorde gesprekke plaasgevind het sal ek ook nou na al die jare nie kan antwoord nie. Dit het eenvoudig te lank gelede plaasgevind.

Linette ·

@Sputnik – antwoorde op sulke tipe vrae is maklik om te omseil (dink ek) ….. “Ek kan nie onthou nie” of “Ek weet nie” – dis goeie standaard antwoorde en niemand kan bewys jy lieg nie. Leuenverklikker toetse sal nie eens werk nie, want dit is nie toelaatbaar in die hof nie. So sê net eenvoudig: “Ek weet nie” of “Ek kan nie onthou nie”.

Charmaine Coetzee ·

Plaas hulle jare teruf se dinge in die verlede los en hulle liewer fokys op plaas moorde en al die oumensies wat vermoor en child trafiking fokus maak ons land n beter n land on in te woon xx

Ester ·

Miskien voel Maroela my kommentaar het niks te doen met die onderwerp nie… maar wil weer vra as hulle dan vervolging wil toepas in dinge wat in verlede gedoen is. Dagvaar Engelse Regering vir die verskroeide aarde beleid. Dan sou blankes nie in so ñ minderheid gewees het nie. Ons voorouers moes na oorlog terug kom nadat NIKS oorgebly het van hulle plase nie. Vroue het alleen met klein kindertjies vanaf konsentrasiekampe gekom en moes van vooraf probeer om alles weer op te bou. Het hulle by howe gaan kla, was daar OOIT ENIGE GEREGTIGHEID of hofsske hieroor?

Ann ·

Dit is baie jare terug. Ek nou nie meer jonk nie maar was wel in 1971. As dit dalk sou gebeur het, moet die waarheid seëvier. Glo al die partye moet antwoorde kry. Want niemand kan afsluit as jy altyd wonder nie. Volg asb op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.