Oudpolisielid laat Springs-boewe spaander

‘n Buurman het onraad gemerk toe hy ‘n hek sien oopstaan het.

ʼn Gewoonlik rustige buurt in Springs in Gauteng moes Woensdag soos ʼn oorlogsone in die kleine geklink het toe ʼn groep rowers op ʼn inwoner van Selection Park losgebrand het.

Dirk van Zyl (63) sê sy buurman se alarm het Woensdag omstreeks 13:40 afgegaan. Die bure was nie tuis nie en Van Zyl, wat ʼn oog oor die huis vir hulle gehou het, het gaan ondersoek instel.

Hy het gesien die hek van die perseel staan oop en het terug na sy eie huis gestap om sy vuurwapen te gaan haal.

In die erf was vier mans reeds besig om ʼn televisiestel in ʼn motor te laai.

Van Zyl, ʼn oudpolisielid, sê kort nadat hulle hom gesien het, het een van die boewe al begin losbrand.

“Daar was vier mans en dit het gelyk of minstens drie van hulle gewapen is,” het Van Zyl gesê.

Van Zyl het teruggeskiet, waarna die mans in die huis in gevlug het.

Hulle is kort daarna weer uit die huis en die hele groep het oënskynlik op Van Zyl losgebrand.

Die rowers het daarna in hul motor gespring en in die rigting van KwaThema weggejaag.

Van Zyl is nie gewond nie en sê hy kon ook nie sien of hy moontlik een van die rowers gewond het nie. Hy het moontlik hulle wegkommotor raakgeskiet.

Die televisiestel het agtergebly en dit lyk of die rowers ʼn kluis uit die huis probeer verwyder het voordat Van Zyl hulle verwilder het. Die rowers het wél juwele gebuit.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie. ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
toy

Welgedaan Dirk van Zyl, iemand om op staat te maak. Baie bly jy is veilig.

magda

Dankie Dirk – wens jy was my buurman, en baie bly jy is okay.

Chris Ws

Mnr.Van Zyl ,u kort ‘n medalje!Ek hoop van harte u bure gaan hul waardering aan u deeglik bewys.

Jan Devenish

Welgedaan oom Dirk. Beste buurman waarvoor ons kon vra. Ek bly net oor die pad van hom en hy is altyd bereid om te help.

Niklaas

Bure wat so dapper en bereidwillig is om n ogie te hou en betrokke raak , is baie skaars . Knap gedaan, meneer , hul sal nie gou terugkeer na jou area nie.