Oudpolisieman drie keer geskiet om plaasaanvallers te keer

Amanda Brooks saam met Danie Robbertse in die hospitaal.

Amanda Brooks saam met Danie Robbertse in die hospitaal.

Danie Robbertse, ʼn voormalige polisiebeampte van Pretoria, is Vrydagaand drie keer gewond nadat hy verbete geveg het om sy verloofde en dié se dogter tydens ʼn plaasaanval naby Buffelspoort in Noordwes te beskerm.

Robbertse (43) se verloofde, Amanda Brooks, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar “liefie” is ʼn ware “hero”.

Die paartjie woon in Mooinooi en Brooks se dogter, Alicia Harmse (26),  woon saam met haar man op die plaas naby Buffelspoort waar die aanval plaasgevind het.

Danie Robbertse.

Danie Robbertse.

“Alicia se man was weens werksverpligtinge nie by die huis nie. Elke keer dat hy weggaan vir werk, gaan bly ek en Danie by haar,” het Brooks gesê.

“Ek was die hele Vrydagaand onrustig. Omstreeks middernag, net toe ek aan die slaap geraak het, het ek wakker geword van ’n geraas in die kombuis. Die kamer waarin ons oornag, is naby die kombuis en ek en Danie het besluit om te gaan kyk wat aangaan.”

Brooks het gesê hulle kon sien die onderkant van die kombuisdeur is oopgestoot. Die aanvallers was toe nog buite die huis.

“Hulle moes ons in daai stadium gehoor het, want hulle het skielik die onderkant van die deur oopgeskop. Danie het teen die deur gaan staan en dit met alle mag probeer toehou, toe begin hulle deur die deur op hom skiet.”

Brooks het na haar dogter gehardloop en gesê sy moet in haar kamer bly en hulp ontbied. Sy is terug na haar verloofde wat nog in die spervuur teen die deur staan om die aanvallers uit te hou.

“Hulle het hom raakgeskiet, maar hy het nie opgegee nie en ons het aanhou baklei deur die skote,” het Brooks gesê.

Een van die aanvallers het deur die onderkant van die oopgebreekte deur geglip en ʼn wapen op Brooks en Robbertse gerig. Brooks het die verdagte met ʼn plank gemoker om te verhoed dat Robbertse nie verder geskiet word nie. Robbertse het intussen ʼn gholfstok in die hande gekry en kon die aanvaller daarmee afweer.

“Die man het toe na die kombuistafel gehardloop en Alicia se tabletrekenaar en handsak gegryp. Hy is ook in ons kamer in en het albei ons selfone op ons bedkassie gesteel. Intussen het een aanvaller steeds van buite af deur die deur geskiet.”

Die verdagte in die huis het met die buit deur die deur gevlug en die aanvallers het weggekom.

“Ek het by Danie gesit totdat hulp opgedaag het. Hy is in sy skouer, linkerbeen en regterbeen getref. Een koeël het sy regterbeen gebreek en sy linkerarm is ook gebreek nadat die aanvaller hom in die huis met ʼn stuk plank geslaan het.”

Brooks het gesê die aanval het soos ʼn ewigheid gevoel. “Dit het gevoel of die skote nooit gaan ophou nie. Alicia se skoonouers woon in ʼn ander huis op die plaas. Hulle het gesê hulle het agt skote gehoor, maar dit het vir my meer soos honderd gevoel. Ek weet glad nie hoe lank die aanval geduur het nie, dit is moeilik om te sê, maar dit het baie lank gevoel.”

Robbertse is ná die aanval na ʼn hospitaal in Brits geneem en is Saterdag na die dr. George Mukhari-hospitaal in GaRankuwa oorgeplaas waar hy tans in die trauma-eenheid behandel word.

“Hulle het hom baie gemaklik gemaak, hy voel goed en maak grappe, maar hy sê hy kan nog die aanvaller se gesig voor hom sien. Hy moet binnekort ʼn operasie ondergaan om van die koeëls te verwyder en daarna hoop ons dat hy so gou moontlik terug oorgeplaas kan word Brits-hospitaal toe, want ek kan hom tans net daagliks tussen 15:00 en 16:00 besoek.”

Volgens Brooks het die polisie ses uur op die toneel deurgebring en kon glo goeie bewyse kry.

Maroela Media wag vir terugvoer van die polisie oor vordering van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Alisha ·

Sterkte aan julle almal! Ek lees nou hierdie artikel en kan nie glo dat die een wragtig nog deur die deur kom en kom steel nie. Hoop Danie word gou beter, jy was n held!

SNEL ·

Hy is n yster van n man en beslis n held. Bly julle almal lewe, sterkte vir die operasie en herstel.

neelsie ·

Danie, jy is dapper om teen gewapende barbare te veg.
Laat Jack Russel maar in die huis slaap.
Sterkte . Jy sal gesond word…

PURE BOER ·

Moet nie te veel voel oor my kommentaar nie, maar as dit Oscar was wat geskiet het, was dit anders….. :-)
Gee Danie n dop en n tjop vir sy trots en wil om te lewe

Gawie Botha ·

Hierdie waarskuwings is nie meer “grappies” nie,wees100% paraat,dra jy hand vuurwapen te alle tye by jou! die waarskuwing geld vir alle blankes in Suid Afrika wat n lissensie gekry het vir self verdediging,om n vuurwapen in sy besit te mag he,,,,,,,daar gaan wetgewing kom dat sulke lissensies ingetrek gaan word,van die persoon wat aangerand word,en nie sy vuurwapen by hom het waarvoor hy n lissensie uitgereik is!

Dave ·

Ag Gawie, party van julle stories is te belaglik selfs vir Suid Afrika. Jy sê ook nie eens dat daar so ‘n storie die rondte doen of dat iemand so iets vertel het, maar jy vertel dit as ‘n voldonge feit. Nee man, hou kop! Moet tog nie jou storie verder versprei; netnou word dit ‘n nuwe Watchap-wolhaarstorie.

Milan Bye ·

Ek is baie bly niemand is dood of gemartel nie. Dit is wonderlik om te hoor dat ten spyte van sy been en arm wat gebreek was, het hy nogsteeds aanhou terugbaklei. Ek haal my hoed af vir hom.

pop ·

Die skuim het daai wapens by iemand anders geroof, niks keer die gemors nou om aanhoudend mense te skiet wat in hulle pad kom nie. En ons regering se grootste bekommernis is hoe vinnig hulle geld in hulle rekenings kan stort pleks van die land bewoonbaar te maak. Ek raak al naar as ek van al die minagting vir lewens lees.

Winston ·

Puik. Jy is in murg en bloed nog n polisieman. Jy het lewens gered en hoop dat jy ook n medalje sal ontvang hiervoor. Sterkte en voorspoed vir die herstel pad. Die aanvalle sal net erger word want dit is staatsondersteun.

Sollie ·

Sterkte vir die ysterman maar regtig Maroela – as jy die opskrif mooi lees klink dit asof die arme man drie keer geskiet is SODAT hy die plaasaanvallers moes gaan keer!’n Geval van: “Kom, kom as jy nie NOU die skelms gaan keer nie, dan skiet ons jou NOG ‘n keer!” En voordat ek deur die hyenas aangeval word, ons moet tog mos GOEIE Afrikaans bevorder dan nie?

Sollie ·

Ek bedoel natuurlik hiënas – jammer maar ek is eintlik Engels en probeer leer en dana maak ek ook maar foute. Maar ek is darem nie ‘n joernalis wat moet seker maak ek skryf korrek nie!

Dave ·

Verkeerd Sollie, as jy kritiek wil lewer moet jou taalgebruik reg wees. Geen nie-joernalis verkonings. Betreffende die titel stem ek saam met jou èn ek het dit ook onmiddelik opgemerk. Somtyds doen die berigskrywers vertalings vanuit Engelse berigte en dìt is juis waar partykeer halwe werk gedoen word. Betreffende Maroela, die mense bied ‘n wye verskeidenheid van nuus gratis, verniet en vir mahala aan. En dan aanvaar Sunè kritiek met ‘n glimlag. So, gee ruimte en wees self bo kritiek!

Peet Schabort ·

Dave, meer met ‘n opregte glimlag as iets anders die volgende:
Verkonings=Verskonings; èn=én; onmiddelik=onmiddellik;
En onse Sunè=Suné.
Nou moet ek erken dat ek hopelik nie iewers hiermee ‘n spel(v)out gemaak het . . .

Dave ·

Toegegee met net so breë glimlag Peet, omdat dit nie ek was wat kritiek gelewer het en dus kon bekostig om dit te doen. Ek sit en doen 3 dinge gelyktydig al sê die vroumense ons mans kan dit nie doen nie.

Sollie ·

Dave, jammer jy neem dit nou tog so awregs(??) op – ek het gedink die titel is nogals grappig en omdat ek geweet het die gewone spul gaan nou dadelik my aanval as ek daaroor opmerkings maak, het ek genoem van die hiënas en toe self foute gemaak – en dit erken! Jy moenie so happerig wees nie man, soms hou ek baie van jou kommentaar, maar ander kere dink ek jy kan nooit net kommentaar lewer/saamstem met ander sonder om ‘n angeltjie êrens te hê. Ek is nie ‘n joernalis en jy ook nie, dus as ons foute (soos ek EN jy gedoen het!)maak is dit wat my aangaan nie so ernstig as wanneer ‘n joernalis foute maak nie. Ek het nog altyd waardering vir die gratis media bydrae van Maroela, dis hoe ek bly Afrikaans verbeter, Met ‘n Blink glimlag en Gratis Rennies aan die wat se maagsuur in hul kele opstoot, die uwe, Sollie

Dave ·

Skuus Sollie, dit was minder ernstig bedoel as wat dit geklink het. Ek het ook in mondelingse geselsskap die gewoonte om te grap sonder ‘n glimlag en is al daarop gewys dat dit somtyds misverstaan word (deur mense wat nie daarop reageer).
:D

kardoesie ·

Ek stem, die bewoording is misleidend in die berig se opskrif – definitief!
Elk-geval, dis verblydend dat die mense almal oorleef het.

HEVW ·

Die hoofopskrif lees net nie vir my reg nie. OUDPOLISIEMAN DRIE KEER GESKIET OM PLAASAANVALLERS TE KEER. Kan verstaan word hy is geskiet sodat hy die plaasaanvallers kan keer. (Wreede manier van aansporing). Moet dalk lees; OUDPOLISIEMAN IS GESKIET TERWYL HY PLAASAANVALLERS KEER.

Sollie ·

Dave.. daai angeltjie. Non-joernaliste mag fouteer, soos jy ook doen. Laat ons dit daar laat en as mens Maroela wil aanspoor tot beter Afrikaans dan is dit nie dat ons nie dankbaar is vir hul gratis nuus nie! Rennie vir jou??

EMK ·

HEVW, – jou bewoording vir die opskrif dalk beter ja. Laat ons die opskrif dan maar sien as iets om oor te glimlag in ‘n berig wat gaan oor iets ernstigs.

Vicky Botha ·

Baie trots op jou. En dankie Maroela Media dat ons die nuus gratis by julle kan lees.

Zhara ·

Dis tyd dat daar n voorbeeld van een so aanvaller gemaak word. Bly dat hulle lewe darm nog gespaar is.

Dave ·

Ditsem Michiel… :-) (so leer ons almal as dit in goeie gesindheid gedoen en aanvaar word.)

Michiel ·

Dave ek ondersteun Sollie EN die ander wat hier vir Maroela kopwas oor taalgebruik. Kyk wat sê PR hieronder ook ne. Ek dink niemand is lelik met Maroela, maar foute is foute en moet stop. Jy was onnodig lelik met Sollie.

HEVW ·

Sumari, kyk na Zhara se darm en my wreede, so lag, lag help ons mekaar. Ek was baie lank gelede op skool. Die destydse onderwysers het die bietjie spelvermoe wat daar was voor die swartbord uit my geneuk.

PR ·

Baie trots op jou Danie. Maroela Media “… deur die deur gevlug”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.