Oudpolisieman en kie weer in hof oor Marikana

Genl.maj. William Mpembe, Gideon van Zyl, Dingaan Madoda en Oupa Pula gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: ANA)

Die verhoor van die voormalige adjunkhoof van die polisie in Noordwes, genl.maj. William Mpembe, en agt ander polisiebeamptes hervat vandag in die rondgaande hooggeregshof in Mogwase in Noordwes.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met ʼn skietvoorval op Marikana, naby Rustenburg, kort voor die Marikana-slagting van 16 Augustus in 2012.

Mpembe, nou die hoof van veiligheid by ʼn myn in Marikana, word van die moord op Semi Jokanisi, Tembelakhe Mati, ao. Hendrik Tsietsi Monene en ao. Sello Ronnie Lepaauku aangekla.

Sy medebeskuldigdes, kol. Salmon Johannes Vermaak (53), konst. Nkosana Mguye (38), ao. Masilo Mogale (49), ao. Katlego Joseph Sekgweleya (39) en Khazamola Phillip Makhubela (49) word verdink van Pumzile Sokhanyile se moord.

Vermaak staan ook tereg op aanklagte van dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Kommissiewet en is destyds saam met Mpembe borgtog van R5 000 elk toegestaan. Mguye, Mogale, Sekgweleya en Makhubela is op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig Mpembe word ook saam met Gideon van Zyl, Dingaan Madoda en Oupa Pula van verskeie oortredings aangekla omdat hulle voor die Farlam-kommissie van ondersoek glo leuens vertel het oor die dood van die 60-jarige mynwerker Madisaotsile van Wyk Sagalala.

Die kommissie is ingestel om die slagting wat gelei het tot die dood van 34 betogers tydens ʼn onwettige staking by Lonmin se platinummyn by Marikana, te ondersoek.

Die staat voer aan die polisielede het versuim om aan te meld dat Sagalala in polisieaanhouding dood is en nie in ʼn hospitaal of op die koppie waar die ander mynwerkers gesterf het nie. Volgens die staat is 30 mynwerkers op die toneel van die betoging dood en nog vier in ʼn hospitaal.

Van Zyl, Madoda en Pula is sedertdien op waarskuwing vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

@ne. Die staat sal aanvoer dat n deeglike ondersoek, vervolging en n regverdige verhoor altyd tydrowend is! Hoe jy ookal blaas en raas, jy gaan daarby moet berus net soos jy ook daarby berus dat alle kommissies van ondersoeke waarby staatskaders by betrokke is, n gegewe tydrowende affere blyk te wees. Daarom is dit so belangrik dat die burgery moet verstaan dat daar nie met die gereg gebots moet word nie, omrede dit n lang uitgerekte affere kan raak, voordat dit heeltemal kan nag raak. Lekker slaap ou grote!

Annelize ·

My vraag is net, wie is vir die gruwelike moorde aangekla op die Sekuriteitsbeamptes en Polisiebeamptes? Moorde wat deur die stakende werkers gepleeg is?

EK HET DIE FOTOS GESIEN van daardie vermoorde lede, dis gruwelooslik verby, MM sal NOOIT toelaat dat ek oor die hier skrywe nie, maar wat ek julle wel kan se, is dat ‘n Polisie koeelvaste baadjie, MIDDELDEUR gekap is met ‘n panga. Die res laat ek aan julle verbeelding oor. Wie is daarvoor verantwoordelik gehou?

Die mense wat wet en orde moes handhaaf, word van moord aangekla, terwyl die wat fisies bloed aan hulle hande het, NIKS oorgekom het nie!

Blom ·

Annelize, waar het jy die foto’s gesien?????? Dit is hoogs vertroulike inligting wast slegs gedeel is met sekere mense wat by die sekuriteit en nood dienste werk asook SAP en dan die Farlam kommissie. Was jy deel van die Farlam kommissie, want jy werk defnitief nie vir SAP, myn sekuriteit of myn nood dienste nie.

Michael P ·

n Gen Majoor in die hof hy is veronderstel om n leier en n voorbeeld te wees. Wys jou net nog n Kader

George in Bloem ·

En wanneer kom die moordenaars van die sekuriteits mense en ander wat vermoor was wat die skietery voorafgeloop het wonder ek? Alweer erge dubbele standaarde sien ek tog so duidelik hier. Mens sal sweer die slagoffers wat by Marikana geskiet was was doodonskuldig?

Lolla ·

Ken Mpembe baie goed was saam met my by die selfde SAPD stasie gewees in die middel 90’s.

GM ·

As die polisie meer gereeld so kon optree tydens betogings (sonder om aangekla te word omdat hulle hul werk doen), dan sou daar heelwat minder betogings gewees het. Nou het die kriminele mos meer regte as die wetgehoorsame burgers.

Boet Vermeulen ·

Daar stem ek 100 persent met jou saam. Dit moet sommer met elke onwettige staking, of plundertog gebeur

Alida ·

Genade dit is al 7 jaar gelede. Hoekom kom hulle nou eers voor?

JV ·

Dit was die betogers of hulle. Kyk na die video, as die polisie nie geskiet het nie was hulle self die statistieke. So word die misdadigers bekerm.

Anoniem ·

aI die mense het hulle werk ge doen. Stakers rowers en moordenaars het meer regte in hierdie land wat ge doem is. Moes in die eerste plek nie on wettig ge staak het nie. Wat n joke.

patriot ·

Twee punte…
1) ONWETTIGE STAKING
2) Wat van die polisieman wat se kop oop gekap was met `n byl…. En hulle wil wragtig nog die polosie aankla omdat hulle net hul werk gedoen het?

George in Bloem ·

Wanneer kom daai toordokters ook voor die hof wat die muti verkoop het aan die ouens wat die koeels moes keer en toe nie so mooi gewerk het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.