Oudpolisieman help glo om winkel te beroof

’n Oudpolisiesersant is saam met drie ander verdagtes in Mbombela in hegtenis geneem nadat ʼn winkel by die Illanga-winkelsentrum beroof is. (Foto: Verskaf / SAPD)

ʼn Oudpolisiesersant is Maandag saam met drie ander verdagtes in Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga, in hegtenis geneem nadat ʼn winkel vroeër die dag by die Illanga-winkelsentrum beroof is.

Die verdagtes, almal tussen 30 en 39 jaar oud, staan nou tereg op aanklagte van sakeroof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die oortreding van verkeerswette. Die oudpolisiesersant was voorheen glo by die polisie se misdaadintelligensiekantoor in dié provinsie werksaam.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het ’n groep gewapende verdagtes omstreeks 08:00 by die betrokke winkel ingestorm waar hulle werknemers gyselaar gehou en met kabelbinders vasgebind het. Die rowers het onder meer selfone, skootrekenaars, kontant en rekenaarbokse gebuit. ʼn Werknemer wat tydens die voorval in die toilet was, het hulp ontbied. Die naam van die winkel is nie deur die polisie bekendgemaak nie.

’n Oudpolisiesersant is saam met drie ander verdagtes in Mbombela in hegtenis geneem nadat ʼn winkel vroeër die dag by die Illanga-winkelsentrum beroof is. (Foto: Verskaf / SAPD)

“Die winkelsentrum se veiligheidsbeamptes het vinnig gereageer en die verdagtes in ʼn hoek vasgekeer toe hulle met ʼn wit Toyota Corolla Quest van die toneel af probeer vlug het. Die voertuig het nie nommerplate of ʼn lisensieskyf gehad nie.

“Die polisie in Nelspruit is in kennis gestel en dadelik na die toneel ontbied. Die verdagtes was tydens hul inhegtenisneming in besit van die goedere wat vermoedelik tydens die rooftog gesteel is. Daar is ook op twee vuurwapens met ammunisie beslag gelê.”

Mohlala sê die verdagtes sal binnekort in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Hierdie Oudpolisieman het seker baie wenke opgetel toe hy in die polisiediens was. Nou sommer deel geword van die kriminele spul in die land. Crime don’t pay, dit het hy baie gou uitgevind

Misky ·

Sal ons maar aanneem die oudpolisieman is ontslaan, want hy kan definitief nie op pensioen wees nie.

JohanR ·

Daar is nie net een oud en huidige polisiemane in hierdie goed betrokke nie daar is duisende. Elke keer wat daar ‘n transito rooftog is kan jy seker ‘n oud of hudige polisieman is iewers betrokke. Dis ANC was hulle leermeesters!

Jacques ·

Ai, hoe pateties: om aan beide kante van die reg in ‘n loopbaan te faal….

Shakespeare ·

Welkom SAP polisielede wat aangesluit het by die kriminele in Suid Afrika. Ons mik vir 90% en ons raak nou aan 80% “lede”. Sluit aan en maak ons sterker !!!!

Swerwer ·

Mooi, pragtig! 10 uit 10 vir die ANC se opvoeding strategie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.