Oudpolisieman skiet vrou, haar sibbe en toe homself

(Argieffoto: Unsplash)

’n Vrou en haar drie volwasse sibbe is Sondag deur haar man – ’n voormalige polisiekonstabel – geskiet voordat hy die vuurwapen op homself gerig het. Die vrou veg tans om haar lewe in die hospitaal terwyl haar sibbe en man almal noodlottige skietwonde opgedoen het.

Dié “gru- en skokkende” voorval van huishoudelike geweld het hom in Standerton, Mpumalanga, afgespeel, sê brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder.

Luidens die polisieverslag is die 36-jarige vrou, haar twee susters, onderskeidelik 40 en 44 jaar, en haar 37-jarige broer omstreeks 20:15 deur haar man in die oprit van sy huis in Standerton geskiet.

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat ʼn bakleiery tussen die skieter, sy vrou en haar familielede in die oprit van die huis uitgebreek het, voordat die 37-jarige man glo sy vrou en haar sibbe geskiet het. Die moordwapen is langs sy liggaam op die toneel gevind.

Sy vrou, die enigste oorlewende, is by die polisie en paramedici se aankoms op die toneel in ’n ernstige toestand aangetref en na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek tans drie aanklagte van moord en een van poging tot moord. ’n Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen wat die vermeende skieter betref.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiehoof, het die voorval ten sterkste veroordeel en haar kommer uitgespreek oor voorvalle van huishoudelike geweld.

“Ons doen ʼn beroep op lede van die samelewing om nie hul gevoelens op te krop nie, maar eerder so gou as moontlik professionele hulp te soek wanneer hulle struikelblokke in die lewe teëkom eerder as om geweld te gebruik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kattebol ·

Dit gaan my verstand te bowe Dat n moord- en poging tot moord saak oopgemaak word as die moordenaar reeds dood is. Dis n vermorsing van hulpbronne en belastingbetalers se geld.

Hermien ·

Dit word as een saak ondersoek. Daar word twee klagtes (moord en poging tot moord) op die dossier aangebring. Dis nie twee aparte dossiere wat deur twee verskillende ondersoekbeamptes ondersoek word nie, dus is daar nie addisionele kostes aan verbonde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.