Oudpolisieman vra parool ná kinders se skietdood

Marius van der Westhuizen (Foto: SAPA)

Parool wink dalk vir die oudpolisieman Marius van der Westhuizen nadat hy meer as 17 jaar gelede sy drie kinders die een ná die ander ten aanskoue van hul ma, Charlotte, in 2006 doodgeskiet het.

Marius sal teen die middel van volgende maand weer aansoek om parool doen nadat ʼn vorige aansoek misluk het. Hy het in dié stadium 12 jaar tronkstraf – vier jaar vir elke kind se moord– uitgedien.

Gerhard van Niekerk, Charlotte van der Westhuizen se regsverteenwoordiger, het Woensdag bevestig dat haar eksman se nuwe aansoek om parool op 13 Desember by die Malmesbury-gevangenis aangehoor sal word.

Na verneem word sal Charlotte, ook ʼn polisiebeampte, op aanbeveling van haar sielkundige nie aan die slagoffer-oortreder-dialoog deelneem nie. Sy is wel bereid om voor die paroolraad te getuig, mits Marius nie teenwoordig is nie.

Marius, destyds waarnemende bevelvoerder van die polisiestasie in Claremont, het sy drie kinders, Bianca (16), Marius Eben (5) en die 21 maande oue Antoinette, op 28 Julie 2006 in hul slaap met sy dienspistool in die gesin se huis in Brackenfell doodgeskiet.

Marius het Charlotte voor die moorde daarvan beskuldig dat sy haar werk bo haar gesin gekies het. Hy het al drie kinders daarna, voor Charlotte, van naby in die kop geskiet.

Luidens destydse mediaberigte het Marius ná die moorde vir Charlotte saam met haar kinders se liggame in die huis toegesluit.

Marius het homself daarna in die ken geskiet nadat hy gedreig het om lede van die polisie se spesiale taakmag te skiet en dié skote op hom afgevuur het. Marius het die skoot in sy ken oorleef.

Hy is in Oktober 2009 in die Kaapstadse hooggeregshof tot effektief 24 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy drie kinders.

Marius het later teen die vonnis geappelleer omdat hy volgens hom nie ʼn regverdige verhoor gehad het nie. Die aansoek is in 2011 van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Casper ·

Dit beteken hy het nou al 14 jaar gevangenisstraf uitgedien.Hy is 24 jaar gevangenisstraf opgelê,’n skamele 8 jaar per kind.Is parool dus geregverdig,laat die paroolraad besluit.

Christina ·

Wat sou hy kon aanvoer as regverdige verhoor. Hy het 3 kinders se lewens geneem, die rede was sekerlik dat as sy vrou leef sy met die pyn en verlies moet saamleef.

Gaitsigubib ·

Sy aansoek vir parool is vir my genoeg getuienis dat hy nog nie besef wat hy gedoen het nie. As hy self daarop aandring dat hy nooit weer vrygelaat mag word nie, kan mens na 30jaar weer praat oor parool en dan se ek nie dit moet toegestaan word nie……

Michele ·

En hy lewe nog….Kan jy glo. Toe hy gevonnis word het sy prokurower voorgestel geen tronk want hy sou dit nie oorleef nie. En ek kyk hy het 14 jaar oorleef in die tronk. Sit jou narsistiese monster

Micheal ·

Die mense het sulke dubbel standaarde, die een moordenaar moet sit en dan die ander een word jammer gekry en hy moet nou vry gelaat word omdat hy n bekende is

Martie ·

Elke moord is anders. Party word beplan, ander word in die oomblik gepleeg. Dan is daar die wraak moorde en die moorde op onskuldige mense, soos plaasmoorde. En dan is daar die moorde wat toegesmeer word omdat niemand ooit sal weet nie want die omstandighede is so. Hulle word nooit gestraf nie.

Juanita ·

Sy gehoor was duidelik NIE regverdig nie, hy moes nog langer gekry het. Hy het nie aanregverdigheid gedink toe hy drie onskuldige lewens geneem het omdat hy sy vrou wou “spite” nie. Hy kan maar die res van sy lewe sit.

Bolandse Nooi ·

Reg, laat die een wat sonder sonde is, die eerste klip gooi. En hier haak @Micheal ook nou weer uit oor Oscar Pistorius wat parool gekry het omdat “hy bekend is”. Die feit dat hy meer as die helfte van sy tronkstraf uitgedien het, is bloot ‘n bysaak. Dié oud-polisieman het óók 12 jaar van die opgelegde 24 jaar uitgedien; hy mág dus om parool aansoek doen. Dit is nie te sê dat hy parool gaan krý nie. Moeghydien Pangaker het hoeveel veroordelings teen hom gehad, was in-en-uit-die tronk o.m. vir die moord op sy eie seun … hy het parool gekry en toe verkrag en vermoor hy wéér. Party mense het duidelik dubbele standaarde.

AH ·

Hy behoort lewenslank sonder parool te sit! Iemand wat sy gesin so kan uitwis behoort nooit weer in die samelewing vrygelaat te word nie!

Ann ·

Ek het hierdie verhaal op Huisgenoot – Warr verhale gesien en dit was vir my een van die ergstes wat ek nog gesien het. Watter regdenkende persoon sal drie kinders vòòr hul ma doodskiet?
Nee wat, hy kan maar nog sit. Sulke mense kan nie gerehabiliteer word nie. Net my mening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.