Oudpolisieman wat oor vrou se dood vervolg is, glo doodgeskiet  

Dawn Basdeo se liggaam is nooit gevind nie.

Forensiese toetse word gedoen om te bepaal of dit wel Prem Basdeo, die voormalige polisieman wat aangekla word vir die moord op sy vrou, Dawn, is wat aan skietwonde in ʼn hospitaal in Atteridgeville beswyk het.

Basdeo is na bewering gister in die vroeë oggendure deur rowers geskiet toe sy motor wes van Pretoria onklaar geraak het. Basdeo se seun, Jordan, wat saam met hom in die motor was, is ongedeerd. Die Basdeo- pa en seun was van Hartbeespoortdam na Pretoria op pad.

Basdeo se verhoor sou Maandag in die hooggeregshof in Pretoria hervat word, maar sy prokureur het die staatsaanklaer kort voor die aanvang van die verhoor laat weet dat sy kliënt dood is en glo ook ʼn foto van Basdeo se liggaam na die aanklaer se selfoon gestuur.

Polisiebeamptes het hulle voor die hofsitting na die lykshuis in Atteridgeville gehaas om Basdeo se liggaam uit te ken, maar forensiese toetse gaan ook uitgevoer moet word om te bevestig dat dit wel Basdeo is wat dood is.

Lumka Mahanjana, streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig dat die saak tot Vrydag uitgestel is vir die afhandeling van die nadoodse ondersoek en DNS- en ander forensiese toetse.

Dawn Basdeo word sedert 8 Junie 2018 vermis en hoewel haar motor binne dae ná haar verdwyning in Soweto opgespoor is, is haar liggaam nooit gevind nie. Haar man is dae later in hegtenis geneem en van moord aangekla. Hy is op borgtog van R50 000 vrygelaat. Die verhoor sou Maandag voortgesit word nadat dit vroeër weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

Kate Llewellyn-Smith, regsverteenwoordiger en woordvoerder van Dawn Basdeo se twee volwasse dogters, wou nie oor die jongste verwikkeling kommentaar lewer nie en het gesê hulle wag vir Vrydag se hofsitting. In ʼn inskrywing op die Facebook-groep Justice for Dawn word daar gevra dat belangstellendes die familie, wat geskok en in volslae ongeloof is, in hul gebede moet hou.

Maroela Media het onlangs berig dat Basdeo en Jordan in 2004 onskuldig bevind is aan die moord op Neetha Basdeo, Jordan se ma en Prem se eerste vrou. Haar liggaam is in 2000 met ʼn skietwond in Phoenix, KwaZulu-Natal, gevind.

In ʼn onverwante saak word Basdeo se suster, Zaheera Boomgaard, ook tans in twee gevalle van moord aangekla. Die verbrande lyke van ʼn Britse burger, Hari Nathvani, en Lynette Mustapha van Johannesburg is onderskeidelik in Maart en Augustus naby Walkerville gevind. Mustapha was Boomgaard se vriendin en Nathvani het by Boomgaard aan huis gekuier toe hy tydens ʼn besoek aan Suid-Afrika verdwyn het.

Boomgaard word ook ondersoek vir die verdwyning van John Naisby van Kaapstad wat in 2012 vermis geraak het nadat hy Boomgaard in Johannesburg besoek het. Sy het destyds as Zaheera Wookey bekend gestaan. Die polisie ondersoek ook die onnatuurlike dood van haar twee vorige mans, Andrew Wooky en Saban Boomgaard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elize ·

OMW. Gevaarlike famile. Mag my pad nooit met hulle sin kruis nie.

Blikke ·

Hierdie verhaaltjie kom dan nou ook met so effense snaakse reukie sou ek reken…..

Alexander ·

Beslis ‘n familie om te vermy, daar is baie “geraamtes” in die kas.

Racheltjie Debeer ·

Nee vrek, dis ‘n moordlustige spul! Hoop die polisie kan hulle gou agter tralies sit, wel, die 2 wat nog leef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.