Oudpolisieman weer in hof vir moordsaak

Walter Francis (Foto: Facebook via ANA)

Drie mans, wat tereg staan op aanklag van moord waartydens ʼn oudpolisiebeampte se vuurwapen glo gebruik is, het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin.

ʼn Voormalige polisiekonstabel, Walter Francis (29) en die vermeende bendelede Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29) het skuld ontken op alle aanklagte.

Alex Ferreira, ʼn artikel 204-getuie, wat gevolglik verlede jaar doodgeskiet is, het na bewering in Oktober 2014 ʼn rygeleentheid in Bethelsdorp vir Kroates en Kogana aangebied. Die twee mans het daarna na bewering op ʼn bendelid, Denton Rademeyer (24), geskiet.

Francis was in daardie stadium by die Humewood-polisie gestasioneer en het na bewering sy amptelike vuurwapen en ammunisie vir die skietery verskaf.

Terry Price, vir Francis, het in sy kliënt se pleitverduideliking bevestig Francis se amptelike vuurwapen is wel tydens die moord gebruik. Price het egter gesê Francis het die verdwyning van sy vuurwapen by sy stasiebevelvoerder, brig. Ronald Kohl, aangemeld, ʼn dag ná Rademeyr in Oktober 2014 doodgeskiet is.

Francis het in sy pleitverduideliking ontken dat hy hoegenaamd iets met die skietery te doen gehad het en ontken dat hy sy vuurwapen aan die twee mans verskaf het.

Rademeyer se tannie, Alfreda Arnold, het Maandag as ʼn staatsgetuie gesê sy “kan nie snags slaap nie”. Sy was buite haar huis toe Rademeyer sy agtjarige susterskind oor die straat gehelp het. Sy het ʼn wit Volkswagen Golf met donker vensters gesien wat baie stadig gery het. Sy onthou die oomblik toe Rademeyer en die meisie uit die winkel gekom het en sy het geskree om hulle te waarsku. “Ek het gesê daar kom ʼn kar met donker ruite, en daar was onmiddellik skote.”

Arnold het gesê die motor het in Rademeyer se rigting gery en hy het die kind agter hom beskerm.

Terwyl die skote gevuur is, het sy gesien hoe die meisie na ʼn nabygeleë huis hardloop, hoe Rademeyer ʼn bollemakiesie doen en in die winkel terughardloop. Hy het later aan sy beserings beswyk.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Walter Francis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.