Oudpolisieman weerspreek homself tydens moordsaak

Walter Francis. Foto: ANA via Facebook.

ʼn Voormalige polisiekonstabel, wat skuldig bevind is op aanklag van strafbare manslag ná sy amptelike vuurwapen tydens ʼn moord gebruik is, het homself in die getuiebank weerspreek, het die hooggeregshof in Port Elizabeth Woensdag bevind.

Walter Francis is skuldig bevind op aanklag van strafbare manslag, maar vrygespreek op aanklag van moord.

Konstabel Walter Francis (29), Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29) was op 25 Oktober 2014 in Shane Potberg (34) se huis toe ʼn skietery plaasgevind het.

Francis het ná die skietvoorval sy amptelike polisievuurwapen en patrone aan Potberg, ʼn bekende bendelid in die stad se noordelike dele, oorhandig. Hy het aangevoer dit was vir veilige bewaring.

Francis was in daardie stadium by die Humewood-polisiestasie gestasioneer.

Die staat voer aan Potberg, Kroates, Kogana en ʼn ander persoon het die volgende dag na Bethelsdorp gery om Denton Rademeyer “uit te haal”.

Regter Jannie Eksteen het bevind Francis het geweet Potberg was deel van die Spotbouers-bende en het verder bevind die voormalige polisieman het teenstrydige getuienis gelewer.

Francis het tydens die hofsaak aan staatsaanklaer Jason Thysse gesê hy het nie geweet Potberg was by bendes betrokke nie. Hy het egter in sy pleitverduideliking gesê hy was bewus daarvan dat Potberg vriende was met bendelede.

Francis het ook getuig dat hy geweet het bendelede kuier by Potberg se huis en die hof het gevolglik beslis dat Francis bewus moes wees van die aard van bendegeweld in die gebied.

Regter Eksteen het bevind Francis sou beslis geweet het daar is ʼn moontlikheid dat die vuurwapen gebruik sou word. Deur sy vuurwapen te oorhandig, het die hof bevind hy het deur nalatigheid Rademeyer se dood veroorsaak.

Eksteen het gesê die “redelike mens” sou kon voorsien dat Potberg die vuurwapen sou gebruik of aan ander bendelede sou oorhandig in reaksie op die skietery wat die vorige dag by sy huis plaasgevind het.

Die hof het ook gesê daar is ʼn paar dinge wat Francis kon doen om die misdaad te vermy: hy kon die vuurwapen aan sy pa oorhandig het wat net ʼn paar minute van Potberg se huis woon; en hy kon die vuurwapen aan twee beamptes oorhandig het wat by Potberg se huis was ná die skietery, maar hy het gekies om dit nie te doen nie.

Francis is daardie aand huis toe en beweer nadat hy die mense hospitaal toe gevat het, het hy “vergeet” om weer die vuurwapen by Potberg se huis te gaan haal.

Alex Ferreira, ʼn staatsgetuie, wat glo die wegkomvoertuig bestuur het tydens Rademeyer se moord, sou in die saak getuig het. Hy is egter verlede jaar doodgeskiet. Ferreira se verklaring is ontoelaatbaar verklaar. Francis is gevolglik ook in ʼn afsonderlike saak aangekla van Ferreira se moord.

Die voormalige polisiebeampte het erken dat hy sy dienspistool en ammunisie aan Potberg oorhandig het, maar beweer hy het niks te doen gehad met die moord nie.

Potberg is ook aangekla, maar hy is doodgeskiet toe skieters in Februarie 2016 op sy huis in Dolphweg in Bethelsdorp losgebrand het.

Francis se medebeskkuldigdes Kroates en Kogana is vroeër onskuldig bevind op aanklag van moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die saak is tot 9 Oktober uitgestel vir die voorvonnisverhoor. Francis se borgtog is verleng.

Lees alle vorige berigte oor Walter Francis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

Wat ek nie kan verstaan en nooit sal kan verstaan nie is hoekom hulle altyd n moordenaar op Borg laat uitkom hy is n moordenaar en klaar hy moet sit en glad nie eers borg kry nie.
N Vrou wat n K woord gebruik het was onmiddelik tronk toe gestuur en n boete opgele en n Moordenaar en n Polisie Man van alle dinge kry Borg lekker Suid Afrika

Pierre ·

Wat ek nie kan verstaan en nooit sal kan verstaan nie is hoekom hulle altyd n moordenaar op Borg laat uitkom hy is n moordenaar en klaar hy moet sit en glad nie eers borg kry nie.
N Vrou wat n K woord gebruik het was onmiddelik tronk toe gestuur en n boete opgele en n Moordenaar en n Polisie Man van alle dinge kry Borg lekker Suid Afrika

Wondermaarnet ·

Dit kry seker nog volle salaris en voordele al stry hulle en sê dit is nie waar nie, maar by HK in Pretoria is die werk so ver agter dat hierdie krimineel nog 5 jaar sy salaris sal kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.