Oudregter bevraagteken uitspraak in Zuma-verkragtingsaak

Zuma. Foto: GCIS

Zuma. Foto: GCIS

Oudregter Zak Yacoob het die uitspraak in pres. Jacob Zuma se destydse verkragtingsaak, bevraagteken en gesê hy sou Zuma skuldig bevind het, het The Times Vrydag berig.

“Ek het ‘n ernstige meningsverskil. Ek het ‘n ernstige probleem gehad met die Zuma-uitspraak. As dit ek was, sou ek die uitspraak ter syde gestel het,” het Yacoob glo gesê.

“Verhore en regters besluit nie die waarheid nie … regters weet nooit wat is die waarheid nie.”

Regters is mense en hulle besluite is tot ‘n mate subjektief, het Yacoob glo Donderdag tydens die Arts of Human Rights-werkswinkel gesê.

Yacoob het gesê dat hy ‘n “ernstige probleem” het met regter Willem van der Merwe van die Johannesburgse hooggeregshof se uitspraak, dat Zuma nie die vrou, geïdentifiseer as “Khwezi”, verkrag het nie.

Hy glo dat die Zuma-verhoor nie ten doel gehad het om die waarheid te vind nie maar ‘n “storievertel-kompetisie” was tussen twee opponerende kante, met die uitspraak wat gebaseer was op watter kant die beter storie vertel het.

Hy sê waarheid en geregtigheid is soms nie aan dieselfde kant nie.

Van der Merwe het destyds besluit dat die staat nie bo redelike twyfel bewys het dat Zuma beoog het om te verkrag nie.

Hy het in sy uitspraak Khwezi se geloofwaardigheid in twyfel getrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.