Oudregter lei ondersoek na beweerde rassisme by US

Die Universiteit Stellenbosh. (Argieffoto: US)

Oudregter Sisi Khampepe is aangestel om ’n onafhanklike kommissie van ondersoek na bewerings van rassisme by die Universiteit Stellenbosch (US) te lei.

Dié ondersoek sal na verwagting in middel Junie begin en hou verband met beweerde rassistiese voorvalle waar ʼn student onlangs op sy medestudent se besittings geürineer het, asook “rassistiese en lasterlike opmerkings” wat glo by ʼn dans vir regstudente gemaak is.

Die US sê dat die kommissie tydens hul ondersoek aandag aan dié voorvalle sal gee, asook die “huidige stand van diversiteit, billikheid en insluiting binne die universiteit se kampuskultuur, met spesifieke verwysing na rassisme”.

Die kommissie sal onder meer ook oorweeg of die huidige strukture van die universiteit en die bestaande beleide, reëls en prosesse voldoende en doeltreffend is om die geleefde ervarings van studente en personeel ten opsigte van rassisme in al sy vorms te hanteer.

Luidens ’n verklaring deur die universiteit sal Khampepe aanbevelings aan prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, doen “om die US by te staan om sy kultuur van diversiteit, billikheid en insluiting ten opsigte van rassisme te verbeter, ten einde die waardigheid en selfwaarde van alle studente en personeel te beskerm en te bevorder”.

De Villiers meen Khampepe is die regte persoon om die kommissie te lei omdat sy het ’n uitstekende professionele reputasie en waardevolle ondervinding het. Hy beskou haar ook as iemand wie se integriteit onberispelik is.

“Ons is dankbaar dat iemand van oudregter Khampepe se kaliber haar beskikbaar gestel het om die US by te staan met hierdie belangrike kommissie.

“Die US se standpunt is dat geen rassisme, diskriminasie, vooroordeel en geweld op kampus geduld word nie. Soos reeds gekommunikeer, wil ons bestaande maatreëls versterk en nuwe omvattende maatreëls instel om skendings te beveg en wil ons hierdie maatreëls op ’n voortgesette grondslag verbeter. Die US se leierskap is sensitief vir die welstand van die hele studente- en personeelgemeenskap en die invloed wat sulke voorvalle op die US-gemeenskap het,” het De Villiers gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat Theuns du Toit afgeneem is terwyl hy op sy medestudent, Babalo Ndwayana, se besittings urineer. Die video is wyd aanlyn versprei en Du Toit is intussen tydelik van die universiteit geskors hangende ʼn tugverhoor. Strafregtelike aanklagte staar hom ook nou in die gesig.

stellenbosch urineer video

‘n Skermgreep uit die video van waar ʼn student onlangs op sy medestudent se besittings geürineer het.

Die tweede voorval het glo voor dié een by ʼn dans vir regstudente op die kampus plaasgevind, toe ʼn Indiërstudent versoek het dat ʼn Indiese liedjie gespeel word. Daar word beweer dat ʼn ander regstudent glo op hierdie versoek “rassistiese en lasterlike opmerkings gemaak het wat aanstootlik en afbrekend was”.

Volgens die US kan die kommissie volgens eie diskresie enige bewyse wat op sy mandaat van toepassing is, ontvang van enigiemand en op enige manier soos bepaal deur die kommissaris (Khampepe).

Dit kan onder meer getuies wie se bewyse voorgelê sal word, insluit, asook ’n uitnodiging vir geskrewe vo

orleggings van die kampusgemeenskap en enige ander optrede wat as nodig beskou word.

“Die kommissie sal die ondersoek deur geslote verrigtinge onderneem ten einde vertroue in die ondersoek te skep en om openhartige deelname op ’n breë grondslag aan te moedig. Die identiteit, ander persoonlike inligting en bewyse of getuienis sal as vertroulik gehanteer word.”

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het ook vroeër aangedui dat hy die beweerde rassistiese voorvalle self wil ondersoek. Die MRK het die US reeds versoek om sy verslae oor die twee voorvalle aan die kommissie beskikbaar te stel.

“Hoewel die MRK daarvan bewus is dat die US die urineerder-saak ondersoek, wil hy bevestiging hê dat die voorval by die dans ook behoorlik ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.