Oudskoolhof aangekla van aanranding van kleuter

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die medestigter en voormalige hoof van ʼn bekende kleuterskool in Pretoria-Oos het verlede week in verband met die beweerde aanranding van ʼn minderjarige kind in die hooggeregshof in Pretoria verskyn.

Die beweerde voorval het in 2021 plaasgevind toe die betrokke kind drie jaar oud was. Name word weerhou om die identiteit van die kind te beskerm.

Llewellyn Curlewis, die vrou se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media bevestig dat sy kliënt wel verskyn het. Hoewel hy nie al die besonderhede van die dossier gehad het nie, het hy gesê dat hulle in dié stadium beplan om onskuldig te pleit.

Die seuntjie se ouers het aan Maroela Media vertel dat hulle op 15 September groot rooi hale oor hul kind se boude en bobene tydens badtyd opgemerk het. Dit was op dieselfde dag as wat die beskuldigde ʼn boodskap aan die ouers gestuur het om hul kind by die skool te kom haal omdat hy “moeilik” is.

Maroela Media het verskeie WhatsApp-boodskappe van die beskuldigde aan die ouers onder oë gehad, asook ʼn stemboodskap waarin sy sê dat sy die kind “nie so hard geslaan” het nie. Die ouers het ook ʼn opname gemaak van hul seuntjie se weergawe van die gebeure, wat aan Maroela Media gespeel is, asook foto’s van die hale oor sy lyfie wat steeds duidelik sigbaar was ure nadat die kind vroeër die middag by die skool afgehaal is.

“Sy was veronderstel om vir ons kind ʼn plek te bied waar hy veilig voel. Dit was nie die geval nie,” het die pa gesê.

“Ons is nie onder ʼn wanindruk dat sy sal tronk toe gaan indien sy skuldig bevind word nie, maar hoop wel dat sy nooit weer met kinders sal mag werk nie.”

Die ouers voer aan die beskuldigde het hul kind se broek afgetrek en hom geslaan omdat hy nie die kos by die skool wou eet nie. Uit sessies wat die kind met maatskaplike werkers van die polisie gehad het, het dit ook aan die lig gekom dat die vrou die kind vermoedelik in ʼn kas of vertrek toegemaak het, waar hy nie kon uitkom nie. Sy eie kosblik – met die kos wat sy ouers vir hom ingepak het – is volgens sy pa in die asblik ontdek op die dag waarop hulle hul kind by die kleuterskool gaan haal het.

“Ons kind was in ʼn toestand toe ons hom by die skool gaan haal.”

Die seuntjie was in dié stadium al meer as twee jaar by die skool, waar sy ouer boetie ook jare lank ʼn leerder was.

Omdat die ouers ʼn lang pad met die skool gestap het, het hulle nie dadelik polisie toe gegaan nie, maar ʼn vergadering met die skool aangevra. Tydens dié vergadering is glo ooreengekom dat die beskuldigde haar bedanking sou indien, uittree en nie verder by die skool of leerders betrokke sou wees nie. Die skool sou glo ook regstellende maatreëls by die skool instel. Die seuntjie is kort daarna uit die skool gehaal.

Volgens die pa het die skool egter nooit daad by die woord gevoeg nie en is die vrou steeds aktief by die skool betrokke. Dit is ook deur verskeie ander bronne aan Maroela Media bevestig.

“In die lig hiervan het ons besluit om die saak verder te voer – nie net om vir ons eie kind op te staan nie, maar ook vir die welstand van ander kinders wat moontlik in haar sorg kan beland.”

Volgens Curlewis het sy kliënt wel in September 2021 by die skool bedank en daarna ʼn ander onderneming op die been gebring wat nie met die kleuterskool verwar moet word nie, hoewel dit ʼn soortgelyke naam het.

Curlewis het aan Maroela Media bevestig dat die beskuldigde die skool in 2016 gestig het en die direkteur daarvan was. Sy het eienaarskap daarvan in September 2020 oorgegee en was daarna die skoolhoof tot haar bedanking.

Die saak is tot 28 Maart uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Snowball ·

Daar is goeie kleuterskole, maar daar is ook dié wat net geld wil maak en nie oor genoeg opgeleide personeel beskik nie. Te veel skole word eenvoudig oorlaai. Niemand gaan ‘n kleuter versorg soos sy Ma nie en as jy jou kind daar afgelaai het, is hy aan die genade van vreemdes uitgelewer op ‘n ouderdom wat hy homself nie kan beskerm of behoorlik kan uitdruk as iets met hom gebeur het nie en dit is eintlik ‘n vreesaanjaende gedagte!

blyweg ·

Ek verstaan n pakslae op sy tyd is reg, maar om n kind te slaan dat die merke nog daar sit, sy kosblikkie in die asdrom gooi – daai is on aanvaarbaar. Ek sou die onderwyser te lyf gegaan het nevermind hof toe sleep

Aanhouer ·

Geen vreemdeling moet aan jou kind slaan nie. So geen “pakslae op sy tyd” is reg nie.

George ·

Pakslae is nooit reg nie. Dis agv pakslae dat sommiges so optree “ek was geslaan, so ek gaan slaan”

Papsak ·

Pas op vir kleuterskole maar ek hoop hy of sy kry op hulle herrie jy rand nie n kleuter aan nie dit n klein kind kan hom nie verdedig nie

Wonder ·

ek is geleer as kind jy eet wat jy kry of jy bly honger want daar is baie kinders wat nie het nie… Pakslae werk eks nie dood nie ek lewe nog met maniere en respek vir ander, maar ja om merke te slaan stem ek nie saam nie, ekt geleer met my eie kinders dit gaan nie regtig oor die “seer” van pakslae nie maar wel die geluid dit mag wreed klink maar n opgerolde koerant maak lekker geraas sonder om merke te los…

Wonder ·

My kinders (tweeling) is al 18 baie trots op hulle, het maniere en respek vir ander…

George ·

Want dit is wreed, dit laat letsels op wat julle nie sien nie.

TruthDealer ·

Weet jy George, toe ek n kind was, het ons byna daagliks pak gekry, by die skool en huis. By die skool het die meisies ook pak gekry, meesal op hulle hande, maar soms moes ons ook buk. Een ding wat baie mense nie verstaan nie: As jy in daai era grootgeword het, het kinders pak slae as normaal aanvaar. Wat WEL letsels gelaat het wat dekades se psigologiese skade gelaat het, was die wrede woorde van my ma. Ek moes gedurig hoor dat sy so spyt was dat sy my aangeneem het. Toe eendag so op 15 jarige ouderdom sê ek vir haar: “Weet Ma, ek is nog Meer spyt. Ma is nie kapabel om n klein hondjie groot te maak nie. Kyk hoe het jou seuns uitgedraai, een n volslae alkoholis en een n senuwee wrak”. Dit was laaste wat ek Daardie ou deuntjie van haar gehoor het. Maar oor hierdie onderwerp, klein kindertjies behoort nie hard geslaan te word nie. Een of twee rapse op die hand of n streng stemtoon behoort genoeg te wees. Peuters weet nog nie of hulle kom of gaan nie.

George ·

Ek is ook so oor die “want daar is wat nie het nie” in daai geval, moenie n verhoging vra of aanvaar nie, want daar is wat minder het. Alhoewel dit so is, om n kind te manipuleer om te doen wat jy wil he hul moet doen, is abuse in n ander manier. Julle sien nie altyd die trauma wat sulke goed veroorsaak nie, maar hul terapeute doen.

TruthDealer ·

Ja maar dis nie manipulasie nie, dis om n feit te stel. Terwyl die kind sy neus optrek vir n kossoort wat nou nie sy/haar gunsteling is, is iemand reg op daai oomblik besig om letterlik te sterf van hongersnood. Dit word gesê vir twee redes: Om die kind te leer om sy/haar seëninge te tel. Want om dit as lewensgewoonte vroeg al te leer, is een vd fondamente van n gelukkige lewe. Tweedens: Vir n gesonde liggaam en groei het kinders n verskeidenheid kosse nodig. Nie net die 3 of 4 kosse wat hul gunstelinge is nie.

Sandvygie ·

Waarom nou die baie vrae oor die hooggeregshof sekerlik n rede hoekom dit na hooggeregshof gegaan het is ons in elke geval seker die polisie sou enigiets aan die saak gedoen het en INDIEN wel WANNEER

Regtigegtig ·

My kind het vandag begin by n kleuterskool in Pretoria oos area, wonder nou wat die skool se naam is. Skole kan kinder goed doen maar ook baie skade wat hul res van hul lewens in inpak moet he. Hierdie vrou moet gestraf word sodat skole sal skrik en nie hierdie tipe gedrag sal verdra nie. Ek is self as kleuter heeldag in die buite toilet laat sit omrede ek te veel gehuil het en dit het geweldige skade gedoen.

Ouvrou ·

Hoekom word die skool en skoolhoof se naam nie bekend gemaak nie ?

Name and Shame !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.