Oudskoolhoof sterf in Klerksdorp-huis

Ansie en Willie Hindley. Foto: Facebook via. Hoërskool Wesvalia

Ansie en Willie Hindley. Foto: Facebook via. Hoërskool Wesvalia

Die liggaam van Willie Hindley (87), oudskoolhoof van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp, is Maandag in sy huis gevind, meters van waar sy verswakte vrou, Ansie, buite op die stoep gelê het. Ten spyte van gerugte dat die egpaar in hul huis aangeval is, het die polisie bevestig geen vuilspel word vermoed nie.

Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die egpaar se huiswerker het omstreeks 09:30 by die egpaar se huis in die Wilkoppies-omgewing op hulle afgekom en hulp ontbied.

Hennie Botha, voorsitter van die Wilkoppies-buurtwag, was gou saam met paramedici en ander rolspelers op die toneel.

“Mnr. Hindley het op die grond voor die televisie gesit met ʼn glas water op die tafeltjie voor hom,” het Botha gesê. “Mev. Hindley is buite op die stoep gevind. Sy was yskoud, swak en kon nie praat nie.”

Botha het gesê daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie en geen teken dat die huis geplunder is nie.

Paramedici meen Hindley is moontlik aan natuurlike oorsake, soos ʼn hartaanval, dood. ʼn Nadoodse ondersoek sal egter gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Ansie, wat glo aan Alzheimers se siekte ly, wou vermoedelik hulp ontbied en het op die stoep gegly en geval of daar ineengestort.

“Sy moes ʼn geruime tyd buite in die koue gelê het en was yskoud toe hulp opdaag het. Sy was swak en kon nie praat nie. Sy is na die hospitaal geneem vir behandeling en haar lewe is buite gevaar.”

Die egpaar het geen sigbare beserings gehad nie.

Moleko het gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Hoërskool Wesvalia het in ʼn huldeblyk op hul Faceboek-blad gesê: “Wesvalia leerders, ouers en oud-leerlinge, is diep geskok om te verneem van Mnr. Hindley, ons eerste skoolhoof, se afsterwe. Mnr. Hindley was ʼn steunpilaar waarop ons kon voorbou om Wesvalia as spogskool uit te dra. Mnr. Hindley se nalatenskap sal ons altyd na aan die hart lê.”

Die skool het meegevoel aan Hindley se vrou en familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Louwboepens ·

Amanda wat probeer jy se??Ons huishulp kom ook eers laat in want as pensioenaris slaap ons laat !!

Sandra ·

As ‘n 1982 matrikulant aan Hoërskool Wesvalia , sal ek altyd met groot respek terugdink aan Mnr Hindley as skoolhoof en mens.

Nico Zaayman ·

Hierdie msn was my skoolhoof tot ek gematrikuleer het in 1986. Een van die strengste, regverdigste, dierbaarste, eerbare mense wat ek ooit die voorreg van gehad het om te kon ken. Mnr. Hindley het van ons die mense gemaak wat ons is vandag, almal is suksesvolle, geballanseerde, produktiewe mense in ons samelewing en oorsee, groot klomp ware uitskieters ook tussenin. Dit was ‘n absolute voorreg om deur hom onderrig te kon word en deur hom ( en die bekende kweperlat nou en dan ), gevorm te kon word. Sterkte aan tannie Ansie en Andre en die familie. Rus in vrede Meneer. Jy laat groot en diep spore na. Ons gaan jou mis.

Kokkie ·

Nico Zaayman, ek het groot respek en waardering vir die woorde wat jy sê. Ek ken jou nie maar jy stel n pragtige voorbeeld.
Ek wil ook aan Mevr. Hindley, familie en vriende sterkte toewens in die tyd wat voorlê.

Ilma Dodge ·

Ditto en Amen Nico en Kokkie. Ek sou dit self nie beter kon stel nie. Dankie Jesus dat ons mag weet hierdie gesin en familie sal deurlopend die nodige ondersteuning en vertroosting op U skoot, na aan U hart beleef en ervaar.

Elmien ·

Baie snaaks. Huiswerker kom half 10 eers op hul af en Tannie is al koud en was lank buite. Iets is fout.

Karien ·

Die bediende was op verlof en heg defnitief voor 9h30 by die huis opgedaag. Teen half 10 was die ambulans en polisie reeds op die toneel gewees nadat die huiswerker n buurvrou gaan roep het

Heila ·

Dit kan gebeur, my pa het een middag geval, toe wil my ma hom gaan help, toe val sy ook. Albei het baie seer gekry.

Paul ·

Ja nee, as almal wat op Maroela kommentaar lewer, maar net polisiespeurders was, dan is alle misdaad in Suid-Afrika sommer in ‘n agtermiddag hokgeslaan!

Gesiggie ·

As ek Nico se comments lees, kan ek net weet dat hierdie n eerbare mens was. Altwee lyk na dierbare mense. Ja sjaim sy vrou het seker nie geweet hoe om als te hanteer en die oomblik was net te veel skok vir haar…so bly dat sy nou buite gevaar is. Die twee is seker ook al vir jare getroud..dit nie maklik om jou lewensmaat te verloor. Mev Hindley, so jammer vir u verlies… Sterkte aan die Familie

Illze Coleman ·

My ouers is ook bejaard maar weier om nader aan ons te trek sodat ons hulle kan versorg. Ek wil huil as ek dink hierdie oumensies kon my ouers wees.

Anoniem ·

Ai mense dis bejaarde mense..n bediende gaan nie vroeg inkom nie….

Hannelie ·

Here staan asb hierdie familie by. Ek is net dankbaar dat die huishulp opgedaag het, en die arme tannie wat buite gelê het in die koue. My hart is seer vir hulle wat hierdeur moet gaan. Sterkte aan die familie en alle beterskap aan die tannie.

Mel ·

Ek is ook vanaf Klerksdorp , my innige simpatie met di familie en vinnige beterskap vir tannie Ansie, ons dra jul op in ons gebede

Petoors ·

Die berig wys 09:30 so dit beteken dit was in die oggend gewees.

Maurita ·

Ons vier kinders is almal oud-Wessies wat die voorreg gehad het om Mnr Hindley as skoolhoof te hê, en vanaf 1984-1988 (uitsluitend 1987) was daar elke jaar ‘n Mulder in matriek. Hoe geseend was ons nie om hierdie womderlike gentleman, geduldige raadgewer, streng dissipliner en eenvoudig pragtige mens as rolmodel te hê nie. Groot held in my lewe – u sal gemis word Meneer!

magda ·

So jammer vir die twee bejaardes dat hy so moes sterf…ek is 63 jaar oud en my huishulp daag in die winter ook na 09:00 vir werk op , veral in winter want is koud en in Kaap nog amper donker as dit reen. Dus is 09:30 nie vir my vreemd nie.

JC ·

Alhoewel hierdie sleg is bring dit mens weer in herinnering met jou skooldae in die 80’s.Wonder hoe gaan dit met oud onnies soos Hildane Nel en Hendrik Badenhorst,Alta Coetzee,Ria Conradie, Elsje Redelinghuys en Willa Knoetze. Watter voorreg om deur hulle onderrig te word.

rudi ·

Hy was my hoof gewees in Klerksdorp en hy was uitstekende gewees. Van sy kaliber is daar min. Net bly hy was nie vermoor soos ander bejaardes. Aan die familie wil ek se jul kan trots wees en sterkte met jul verlies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.