Oudsoldaat trap driewielfiets, plaas kollig op stresversteuring

Potgieter se pelgrimstog sal by die Voortrekkermonument se militêre gedenkmuur begin en hy gaan sy fiets tot by Ondangwa in die verre noorde van Namibië trap. (Foto verskaf)

Stan Potgieter, ʼn man wat ’n soldaat tydens die Grensoorlog was, gaan Saterdag ʼn tog van duisende kilometers met ʼn driewielfiets aanpak vir bewusmaking van persone met posttraumatiese stresversteuring.

Potgieter se reis sal by die Voortrekkermonument se militêre gedenkmuur in Pretoria begin en hy gaan sy fiets tot by Ondangwa in die verre noorde van Namibië trap.

Met dié rit wil Potgieter geld insamel vir die Wear it for the Woundedorganisasie wat voormalige soldate met hul geestesgesondheid bystaan.

Op 23 Junie 1984 het Potgieter se lewe vir die eerste keer handomkeer verander toe hy en sy makkers in ’n kontaksituasie met aanvalsmagte tydens ʼn patrollie in Namibië was.

Sy vriende “Piesang” en “Willie” is in die skermutseling dood. Later jare het hy uitgevind sy ander vriend “Hennie” het sy eie lewe geneem.

Weens die trauma wat hy ervaar het wat tot posttraumatiese stresversteuring vir hom gelei het, het hy besluit om iets daaraan te doen en sielkundige hulp te kry. Dit is toe dat hy besef het hy moet bewusmaking doen oor die probleem wat by soldate voorkom.

(Foto verskaf)

Potgieter beskryf dié reis as ’n pelgrimstog wat hy nou aanpak.

“Ek was 17 jaar oud toe ek met diensplig begin het. Toe die voorval gebeur het, was ek 18 jaar oud. ʼn Mens verstaan nie watter langtermynskade so iets aan mens kan doen nie.

“Die tog is vir bewusmaking, maar dit het ook ’n veel dieper betekenis vir my. Dit is ’n pelgrimstog, ek wil die seun gaan haal wat ek daai dag verloor het toe my maatjies dood is,” vertel ’n emosionele Potgieter.

Hy glo ook die nadraai van die oorlog het ’n enorme impak op die vroue en kinders gehad.

“Daar is meer vroue en kinders emosioneel gewond as wat daar soldate en veterane is. Daarom is dit van kardinale belang dat ons ook na hulle omsien.”

Potgieter beplan om sy tog op 23 Julie in Ondangwa af te sluit en te eindig by die plek waar sy makkers gesneuwel het.

Nadat hy sy rug gebreek het op 25-jarige ouderdom en verskeie beserings aan sy knieë opgedoen het, kan hy ook nie meer met ʼn gewone fiets ry nie.

Daarom is ’n spesiale driewielfiets vir hom gemaak waarmee hy oor die afgelope jaar duisende kilometer op die Voortrekkermonument se terrein afgelê het ter voorbereiding vir sy tog.

Hy spring Saterdagoggend 21 Mei om 12:00 by die militêre gedenkmuur by die monument weg.

Stan het ‘n spesiale driewielfiets waarmee hy oor die afgelope jaar duisende kilometer op die Voortrekkermonument se terrein afgelê het ter voorbereiding vir sy tog. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman ·

Saluut Stan! My bede is dat jy daardie seun en berusting sal vind.

Delia ·

Ek bid dat jy veilig sal wees op ons paaie. Baie manne en families het nooit PTSD hulp ontvang nie. Go for it

Henri ·

Baie sterkte Stan!

Elke keer wanneer Roger Whittaker se “No I Don’t Believe In If Anymore” speel, dink ek aan manne wat Grens toe was. Ek was te jonk, maar as seuntjie het ons gereeld die konvooie op die paaie gesien en troepe wat ryloop huistoe of terug na hul verskeie basisse toe. Ons het ook van hulle gehelp wanneer ons spasie gehad het.

Waarnemer ·

Ek staan agter jou …..sterkte en ek glo jy sal veilig anderkant uitkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.