Oudsoldate mor oor voordele

“Dit is edel om na al jou oudsoldate te kyk, maak nie saak wie of waar of onder watter omstandighede hulle gewerk het nie. (Foto: SA Weermag)

Suid-Afrika se militêre veterane verdien beslis respek, maar begrotingsbeperkings beteken daar moet met omsigtigheid na sommige van hul eise gekyk word.

Só het Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, vandeesweek gesê nadat die presidensiële taakspan oor militêre veterane die parlement op die hoogte gebring het van vordering met sy werk.

Die taakspan is vroeër op die been gebring om na die behoeftes van militêre veterane – diegene wat in die voormalige weermag (statutêre magte) gedien het, óf by die land se vryheidstryd betrokke was (nie-statutêre magte) – om te sien.

Gesondheidsorg sukkel

Cyril Xaba, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging en militêre veterane, het sy kommer te kenne gegee oor veral toegang tot behoorlike gesondheidsorg vir oudlede. “Die komitee is bekommerd dat die verskaffing van gesondheidsorg aan afhanklikes van militêre veterane weens beleidsonsekerheid vertraag word.”

Daar word nou ook al veels te lank gewag vir ʼn hersiening van beleid en die vertraging met ʼn moontlike wysiging aan wetgewing daaroor is onaanvaarbaar, sê Xaba.

Marais sê toegang tot gesondheidsorg is inderdaad ʼn uitdaging vir talle militêre veterane. Diegene op die databasis is dikwels honderde kilometers ver van die drie militêre hospitale – Pretoria, Kaapstad en Bloemfontein – waar hulle veronderstel is om behandeling of medikasie te ontvang.

Hy het vantevore al die voorstel gemaak dat die weermag die drie hospitale na die provinsiale gesondheidsdepartemente oordra en dat militêre veterane dan toegang tot sorg by enige provinsiale hospitaal kry.

“Dit gaan oor toegang tot dienste,” sê Marais.

“Dit is nou vir hulle onprakties om toegang tot daardie dienste te kry. Jy moet byvoorbeeld ʼn taxi na een van die drie hospitale neem en daar sonder ʼn afspraak sit en wag en hoop jy word nog dieselfde dag gehelp.”

Gebrekkige behuising

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Nog een van militêre veterane se groot griewe is ʼn gebrek aan toegang tot behuising. In sommige gevalle vra veterane egter vir huise van minstens 80 m², terwyl beskikbare huise net 40 m² groot is.

Die taakspan het in sy voorlegging aan LP’s gesê dié voorstel sal ondersoek word, maar dat daar gevare daaraan verbonde is as die huise van veterane anders is as dié wat aan gewone burgers as deel van laekostebehuisingsprogramme verskaf word.

Die departement van militêre veterane het tot dusver landwyd sowat 1 700 huise aan oudsoldate voorsien en reeds meer as 200 huislenings help afbetaal.

Nog ʼn bron van kommer is die afhandeling van ʼn databasis met die besonderhede van militêre veterane. Verlede jaar het 80 778 name op die lys van militêre veterane verskyn, terwyl dit vanjaar tot 81 834 toegeneem het.

Die komitee sê dit is belangrik dat die databasis gefinaliseer word sodat behoorlike beplanning gedoen kan word en ʼn begroting daarvolgens opgestel kan word.

Onrealistiese verwagtinge

Sommige groepe oudlede eis onder meer uitgebreide toelae vir kinders se skooldgeld, begrafnisvoordele en huistoelae. Die Militêre Veterane-vereniging, ʼn organisasie wat sommige oudlede verteenwoordig, het ook geëis dat ʼn eenmalige bedrag van R4 miljoen aan elke militêre veteraan uitbetaal word – ʼn eis wat reeds verwerp is.

“Dit word ʼn duur storie. Dit is ʼn ingewikkelde probleem en ek dink die stand van die ekonomie en werkloosheidsvlakke beteken mense het nie toegang tot geld of voordele nie, en wil nou die departement gebruik om iets te kry. Dit is ook wanneer politieke speletjies gespeel word,” sê Marais.

“Daar is baie groot verwagtinge geskep, maar jy moet pragmaties en prakties wees.

“Dit is edel om na al jou oudsoldate te kyk, maak nie saak wie of waar of onder watter omstandighede hulle gewerk het nie. Ons kom uit ʼn bepaalde verlede, maar jy moet billik wees.”

Marais sê begrotingsbesnoeiings by verdediging het ook tot ʼn besnoeiing van die departement van militêre veterane gelei, wat verdere druk veroorsaak.

Die land se verdedigingsbegroting vir 2020-’21 beloop R54,2 miljard en is vir 2021-’22 met 14% gesny tot R46,2 miljard. Altesame 57% van die begroting word aan salarisse bestee, ʼn syfer wat in die 2021-’22-boekjaar tot 63% gaan toeneem.

“Daar is ʼn massa mense wat toegang wil hê tot die voordele uit die begroting, maar daar is eenvoudig nie genoeg geld nie,” sê Marais.

Hy sê kwessies soos dié van militêre veterane kom dikwels voor ʼn groot verkiesingsgebeurtenis na vore. “Baie verwagtinge word geskep waaraan daar nie voldoen kan word nie, maar daarna is dit gewoonlik iemand anders se probleem,” waarsku hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Hoe pateties!!!!!!!Ek is self n oud SAW soldaat en dus ook n Veteraan,maar kry niks en het nog nooit iets gekry nie nie!!!Nou kom terroriste veterane en stel net eise???Hoe dan nou?

Nico

Was hulle wat nou so te kere gaan oor voordele ooit deel van die grens oorlog gewees soos wat die ware veterane geen voordele ontvang nie.

Strandloper

Dit is mos maar die kaders om atyd die leidende party te wees….bitter snaaks apartheid is ook nie genoem nie. Ons lees hul al nou soos n boek… dit is n skreeu snaakse riller wat grens aan waansin met die grootste klom nare en wanabe famous failures in menslike geskiedenis.

Janice

Jy kry regte soldate en dan kry jy die SAW soldate…

Pieter9

Patete; ‘n verleentheid vir die uniform wat eens deur REGTE soldate gedra is… Die ANC moet’ n t-shirt en cap aanbied. Behoort die gemoedere te kalmeer.