Oudsoldate word gedenk by Voortrekkermonument

Dit word beskryf as die grootste byeenkoms van familie, oudsoldate en vriende wat saamgetrek het ten nagedagtenis aan soldate wat tydens die Grensoorlog dood is. (Foto verskaf)

Bykans 800 mense het Sondag die gedenkdiens van die Raad van Militêre Veterane Organisasies by die SA Weermag-gedenkmuur by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon. Dit word beskryf as die grootste byeenkoms van familie, oudsoldate en vriende wat saamgetrek het ten nagedagtenis aan soldate wat tydens die Grensoorlog dood is.

Genl. George Meiring, oudhoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, asook familie van oudsoldate wat gesneuwel het, het hulde by dié geleentheid gebring.

Verskeie kranse is deur verteenwoordigers van eenhede van die weermag, politici, familielede, kultuurorganisasies, die Voortrekkermonument en nog vele ander organisasie en individue gelê.

Die jaarlikse gedenkdiens word reeds sedert 2009 ná die oprigting van die gedenkmuur gehou en is selfs tydens die Covid-19-inperkings virtueel aangebied.

Sers. Roché Vermaak, ʼn oudlid van die SAW, en sy hond Markus het ook ’n krans gelê vir die honde wat tydens die Grensoorlog dood is. (Foto verskaf)

Vliegtuie, helikopters en valskermspringers het die gehoor laat snak na hul asems toe hulle ook vertonings gelewer het.

Johann du Preez, voorsitter van die SA Weermagvereniging en die organiseerder, sê dit is wonderlik om weer vir die eerste keer in drie jaar die diens te kon aanbied.

“Dit is ons plig om ons makkers wat die hoogste prys betaal het om die land te beveilig te vereer en te onthou,” sê Du Preez.

Genl. George Mering en genl.maj. Lawrence Smith lê ook ‘n krans. (Foto verskaf)

Genl.maj. Lawrence Smith, voorsitter van die raad van Militêre Veterane Organisasies van Suid-Afrika (RMVO), sê dit is die grootste opkoms wat hy in tien jaar beleef het.

“As ʼn mens die opkoms sien en hoeveel mense kranse gelê het, bewys dit weer eens die belang van so ʼn gedenkdiens. Enige soewereine land wat sy sout werd is, moet sulke dienste hou om helde te vereer wat die hoogste prys betaal het,” sê Smith.

Drie broers van sers. Marius Havenga, destyds ʼn lid van 31 Bataljon wat op 6 Julie 1981 in Namibië gesneuwel het, het die diens bygewoon.

“Vanoggend word ek wakker en wonder of ek moet gaan. Dit bring die seer van 40 jaar terug, maar nadat ʼn mens so ’n diens bygewoon het, besef jy weer ʼn mens moet dit doen. ʼn Mens kry berusting as jy weet Marius se naam is op die muur [aangebring] en jy kan hulde bring aan hom,” sê sy broer Anton.

Sers. Roché Vermaak, ʼn oudlid van die SAW, en sy hond Markus het ook ’n krans gelê vir die honde wat tydens die Grensoorlog dood is.

Verder het Andrew Wood Wright, ‘n voormalige bevelvoerder in die vloot, vir die eerste keer vanjaar met die perd Titan hulde gebring aan perde wat in die oorlog dood is.

Andrew Wood Wright het met die perd Titan hulde gebring aan perde wat in die oorlog dood is. (Foto verskaf)

Maj. Jacques Scholtz. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Casper ·

En Geloftedag waarvan ons vergeet het.Die eed wat die boere onder Sarel Celliers afgelê het.

Deon ·

Klomp lewens is onnodiglik daar weg geggooi. My broer was een, 17 jaar oud

Delia ·

Oorlog het nooit oorwinnaars. My oupa is dood in die 2de wereld oorlog en my Pa moes as n seuntjie van 10 vaderloos grootword

Ettienne ·

Dit is goed. Baie dankie vir die aanbied van die dag, dankie vir die oomblik van opstand teen hulle wat ons geskiedenis uit die verlede wil wegvee en ons identiteitsloos wil maak. Kom ons onthou, kom ons skree uit dat ons onthou! Lank leef die ou Republiek!!

JohanR ·

Soe bly daar is nou ‘n plek waar families kan gaan en die hand op ‘n geliefde se naam sit op ‘n muur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.