Luister: Oudspelers gee raad voor WB

Die Springbokke vier hul legendariese oorwinning in 1995. (Foto: Facebook/ Hennie le Roux)

“Doen wat julle nog altyd doen, net beter”. Dit is oud-Springbokrugbyspelers se raad aan die Bokke, enkele dae voor hul eerste Wêreldbeker-rugbywedstryd teen Skotland.

Dié spelers glo Suid-Afrika kan weer vanjaar die Web Ellis-trofee omhoog hou, mits die Bokke kop hou en die druk reg hanteer.

“Dit gaan alles oor hoe ʼn mens druk kan hanteer en aanpas by wat die wedstryd vir jou op die dag opdis,” het Pierre Spies, voormalige Springbok‑agtsteman, aan Maroela Media gesê. “Daar is niks nuuts wat ons span moet doen nie. Hulle moet net die vermoë uitoefen om onder druk te kan funksioneer, ʼn baie sterk dissipline hê en die geleenthede gebruik. As ons daai resep volg, is ek seker ons sal weer die beker kan lig.”

Luister hier wat Spies alles te sê het oor die Bokke se Wêreldbeker:

Naas Botha. (Foto Youtube)

Hennie le Roux, gewese Bok-senter en ‑losskakel, sê ook die druk by die Wêreldbeker is ongelooflik hoog. “Veral die laaste paar weke is erg. Die hele wêreld kyk na jou.”

Sy raad aan die Bokke is om die angs goed te bestuur deur te fokus op die span se behoefte en strategie en nie toe te laat dat dit wat buite die span gebeur, hulle beïnvloed nie. “Jy moet ook met selfvertroue speel en nie jou plek in die span bevraagteken nie. Fokus nou net daarop om die Wêreldbeker weer huis toe te bring.”

Le Roux meen al die harde werk is reeds gedoen. “Ons het bewys ons kan meeding op die hoogste vlak. Ek glo ons het ʼn goeie kans om te wen.”

Die wêreldbekende Springbok­‑losskakel Naas Botha stem saam. “Die fout wat spanne soms maak, is om iets wat werk, te verander. Die Bokke is op ʼn baie goeie plek en speel met lekker selfvertroue. Ons is goed genoeg om dit ver te bring in die Wêreldbeker, ons moet net hou by dit wat ons reeds goed doen, en dit ʼn klein bietjie beter doen.”

Botha meen egter nie vanjaar se Wêreldbeker gaan ʼn maklike wen wees nie. “Die standaard is baie hoog omdat die sport nou so professioneel is en die spelers baie ervaring opdoen. Selfs die Eilandspanne gaan nie soos in die verlede maklike opponente wees nie.”

Hy sê die span het ʼn klomp ervare spelers wat weet wat voorlê en hoe dit voel om te wen.

En wanneer een speler ʼn afdag het? “Dis die voordeel van ʼn spansport. Dan het jy 14 ander ouens op die veld om jou te dra. Jy moet net slim genoeg wees om die ouens naby aan jou te gebruik.”

Le Roux sê ten spyte van die harde werk wat voorlê, moet spelers ʼn positiewe gesindheid hê en met oorgawe speel. “Geniet dit, want dit is in ʼn oogwink verby.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

H.A. ·

Bring die wêreldbeker weer SA toe. Doen dit vir JULSELF en die ONDERSTEUNERS, nie vir die land nie. Die land is die anc s’n. Die land is die kommunis s’n. STERKTE.

T ·

@John-Nou hoe nou? Rassie en Kie dit in 2019 reggekry,en sal dit weer in 2023 regkry.Rassie is n genie! Soos die gesêgde gaan..”Never bet on the horse,bet on the jockey”
So my geld is op Rassie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.