Oudspeurder betrap ‘slapende rowers’

Pretorius het omstreeks 21:00 ’n verdagte BMW X5 op die hoek van Charl- en Pretoria-weg gewaar (Foto: Verskaf)

’n Oudspeurder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) het moontlik Dinsdagaand vier verdagtes se misdaadplanne gefnuik toe hy hulle slapend in hul motor aangetref het.

Nico Pretorius (48) het die aand die Kameeldrift-Wes-omgewing, tussen Pretoria en Hartbeespoort, gepatrolleer. Hy is betrokke by die Groenlig Gemeenskapsprojek – ’n projek wat op misdaadvoorkoming en landelike veiligheid in die Kameeldrift-Wes-omgewing toegespits is.

Pretorius boer in die omgewing en het verlede jaar as patrolleringsbeampte by dié projek aangesluit om ’n bydrae tot die gemeenskap te maak. Hy patrolleer saans tussen 18:00 en 06:00 die Kameeldrift-Wes-gebied.

Pretorius – wat die gebied so goed soos die palm van sy hand ken – het omstreeks 21:00 ’n verdagte BMW X5 op die hoek van Charl- en Pretoria-weg gewaar.

“Die motor se ligte was afgeskakel en sy vensters was getint,” sê Pretorius.

“Ek het uit my bakkie geklim en na die motor gestap. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Toe ek by die voertuig inkyk, het ek drie insittendes gesien. Dit het gelyk asof hulle slaap. Die bestuurder het ’n 9 mm-vuurwapen op sy skoot gehad.”

Pretorius het saggies na die bakkie teruggestap en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir bystand gevra. Die polisie is ook ontbied.

“Toe die polisie en GPF-lede daar aankom, het die motor probeer wegjaag, maar hulle het hom in ’n hoek vasgekeer.”

Hoewel Pretorius aanvanklik drie insittendes in die motor gesien het, het die polisie net die bestuurder en nog ’n insittende in die motor aangetref. Hulle is summier in hegtenis geneem.

Volgens Pretorius moes die ander twee insittendes laat spaander het net voordat die polisie op die toneel aangekom het.

Pretorius sê die bestuurder van die motor het ontken dat hy ’n vuurwapen in sy besit gehad het. “Die polisie het die motor deursoek en die vuurwapen – waarvan die nommers afgevyl is – gevind.”

Pretorius sê die polisie gaan die moontlikheid dat die motor gesteel is, ook ondersoek.

“Ek is nie seker watter planne dié vier in die mou gevoer het nie. ’n Mens kan net spekuleer dat hulle dalk iemand wou beroof omdat die vuurwapen se nommer afgevyl is.

Pretorius sê ’n hoër hand het ingegryp en hom in daardie oomblik beskerm omdat die verdagtes geslaap het toe hy hulle betrap het.

Pretorius was 25 jaar lank in diens van die polisie, waarvan hy vir 19 jaar ’n speurder was. Hy was vir die laaste 15 jaar verbonde aan die Hercules-speurtak se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad en het onder meer plaasaanvalle en rooftogte ondersoek.

Hy het in 2018 uit die polisiediens getree en op ’n plot in Kameeldrift-Wes gaan boer.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gerig rakende die voorval, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Botterblommetjie ·

Ek wil nie dink wat kon gebeur het nie…. Dat hy God dank (hoop hy bedoel met hoër hand so) is net genade…. Ek dank God dat Hy, wie ook al beroof sou word, bewaar het en ook die man, wat deel was van God se groter doel, beskerm het… Ons mens kan net na God roep, al waar ons genade met al die bose om ons, vandaan kom…

Dup ·

Welgedaan.So maak hierdie boewe jag op onskuldige mense.Hopelik sal die BMW se insittendes in aanhouding bly en nie weer volgende week in ñ ander BMW êrens sit en wag vir nog slagoffers nie.

Marius Gerhardus ·

Lekker om goeie nuus te lees. Dq mnr vir jou oplettendheid en almal wat gehelp het. Gid seen julle.

Hennie J ·

Goeie nuus vir n verandering. n Wit ex speurder wat wys waartoe eertydse beamptes in staat was.

Moedeloos ·

Welgedaan maar wat my bekommer is dat die persoon se naam genoem word en ook dat hy op n plot bly. Lekker inligting vir hierdie aanvallers om hom “terug te kry”.

Chuck ·

“Ek het uit my bakkie geklim en na die motor gestap. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Toe ek by die voertuig inkyk, het ek drie insittendes gesien. Dit het gelyk asof hulle slaap. Die bestuurder het ’n 9 mm-vuurwapen op sy skoot gehad.” Toe ek dit lees, word ek yskoud….’n oud-speurder met SY jare diens behoort darem waaragtig beter te geweet het as om SO dom op te tree. Hy was bitter gelukkig—hy kon in die nuus gewees het vandag vir ‘n heel ander rede. Mens is nooit te oud of ervare genoeg om te leer uit mens se foute nie. Ek glo hy het diep hieroor gedink.

Retha ·

Ja hy het sy lewe gewaag, maar die Vader se Beskermende Hand was oor, rondom en op hom

Jack ·

Die tipe onkruid gaan jy lank vat om uit te roei. Miskien kan monsanto hiermee help

Danie ·

Hy moet dit nie weer probeer nie.
Volgende keer tel hulle sy liggaam in die straat op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.