Oudste lewende Bok Cecil Moss op 93 oorlede

Dr Cecil Moss op die veld vir die WP

Hy het in net vier toetse gespeel, maar Cecil Moss, wat Vrydag  oorlede is, tel onder die heel grotes van Suid-Afrikaanse rugby – en nie net oor sy speelvermoë nie.

Moss, 93, was tot Vrydag die oudste lewende Springbok. Hy was onderkaptein en vleuel van die 1949-Springbokspan wat die eerste reeks ná die Tweede Wêreldoorlog met 4-0 teen die All Blacks gewen het.

By Ikeys was hy ʼn legende, en as Springbokafrigter het hy tussen 1982-’89 net twee uit 12 toetse verloor. Hy was ook ʼn nasionale keurder en het boonop tussen 1972-’92 oor 20 jaar as bestuurder, keurder en afrigter by die Westelike Provinsie diep spore getrap.

Ironies genoeg het Moss, senter van die Ikeys wat op die spog-rugbyskool Sacs gematrikuleer het, na Natal verhuis waar Dok Craven hom in 1949 sien vleuel speel het. Hy is deur Craven vir die reeks teen die All Blacks nadergetrek, en het dus as Nataller Springbok geword.

Ek het Dok, soos Moss deur sy spelers en sommer alle rugbymense genoem is, leer ken toe hy nog hoofsaaklik by die Ikeys betrokke was; en hom weer in die 1980s raakgeloop toe hy bestuurder was tydens die WP se reeks van vyf Curriebekertitels tussen 1982-’86.

Moss se spelers het eerste gekom. Hy was vir hulle  ʼn bestuurder, mentor, leier, rugbyvader … en hy was ʼn beskeie, saggeaarde jintelman wat afgerig het soos hy geleef het – sonder die uitsprake en luide geskreeu wat vandag kenmerkend van soveel afrigters is.

Dok was daar die dag toe die WP se veelsydige agterspeler Chris Burger in die Vrystaatstadion sy nek gebreek en die volgende oggend in die hospitaal oorlede is. Moss was ʼn narkotiseur en was ook lid van die mediese span wat die hart verwyder het van die eerste hartoorplanting se skenker, Denise Duval.

♦  Des van Jaarsveld, ʼn flank wat as Rhodesiër die Springbokke in sy enigste toets teen Skotland aangevoer het, is nou Suid-Afrika se oudste lewende Springbok. Hy het op 31 Maart sy 88ste verjaarsdag gevier en is 102 dae ouer as die Bokvleuel van die vyftigerjare, Theuns Briers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.