Oudste PTA-kinderhuis word 75

president-kruger-kinderhuis-verjaar

Van die eerste inwoners van die President Kurger Kinderhuis Pretoria. Foto: Verskaf.

Die President Kruger Kinderhuis, die oudste kinderhuis in Pretoria wat tydens die Tweede Wêreldoorlog sy deure oopgemaak het, vier Donderdag sy 75ste verjaardag.

Volgens Kobus Vorster, hoof van die kinderhuis, word die huis se bestaan gekenmerk deur 75 jaar se genade van “ʼn pragtige kinderhuis wat swaar op dreef gekom het”.

“Die huis het op 2 Oktober 1939, ʼn maand na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, sy deure in Voortrekkerweg oopgemaak,” het Vorster in ʼn verklaring gesê. “As gevolg van depressie en droogte is boere van hul plase verdryf en haglike omstandighede het van die plaasboer noodgedwonge ʼn stadsmens gemaak. Die Gereformeerde Kerk se diakens van die Rand en Pretoria het besef dat die kinders wat uit gebroke huisgesinne agtergelaat is, dringend versorging en hulp benodig. Die verloop en uiteindelike oprigting van ʼn weeshuis, vandag ʼn kinderhuis, was werklik ʼn droom wat in 1939 ʼn werklikheid geword het.”

Die kinderhuis is tans geregistreer om 63 kinders te versorg. Die kinders is tussen twee en 18 jaar oud. “Al ons kinders word by ons op grond van ʼn hofbevel geplaas as gevolg van verskeie redes soos gesinsgeweld, ouers se verslawing aan afhanklikheidsmiddele, molestering, tekort aan versorgingsmiddele en ander traumaverwante oorsake.”

Hy het gesê die kinders in hul sorg word soos hul eie kinders behandel en daar word nie net klem gelê op die fisiese versorging nie, maar ook op die geestelike, emosionele, opvoedkundige en skolastiese versorging van al die kinders. Fisiese versorging sluit daaglikse versorging soos kos, klere, higiëne en behuising in, asook mediese versorging soos tandheelkunde, geestesgesondheid, optometrie, spraakterapie en arbeidsterapie.

Weens ʼn tekort in hul begroting raak die tehuis egter al hoe meer afhanklik van goedgunstige skenkers soos individue, korporatiewe besigheidslui en kerke. Verskeie fondsinsamelingsprojekte word voortdurend gehou om die nood te verlig.

“Ons dank die Here vir Sy genade en glo en vertrou dat President Kruger Kinderhuis Pretoria steeds vir baie jare in die toekoms vir menige kinderhart ʼn veilige hawe sal wees, maar bowenal, dat hulle ʼn tuiste hier sal vind,” het Vorster bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.