Oudtshoorn se volstruisvere goud werd

‘n Werker van Cape Karoo International werk aan aan die helderkleurige vere. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Honderde volstruise rek hul slanke nekke en skud hul swart vere onder die son wat stadigaan sak. Die voëls se lang bene veroorsaak ʼn okerwolk van stof in die kamp, een van tientalle op plase in die Oudtshoorn-distrik.

“Mag die vere met jou wees”, lui ʼn bordjie wat besoekers verwelkom in dié dorp wat bekend staan as die volstruishoofstad van die wêreld. Van verestoffers tot vereboas – sowat 70% van die wêreld se volstruisprodukte kom uit Suid-Afrika.

En die meeste hiervan kom uit Oudtshoorn in die Klein-Karoo, ʼn gebied geleë tussen twee bergreekse langs die land se suidelike kus, met ʼn halfdroë klimaat ideaal vir volstruisboerdery.

Sedert die dorp se begindae was modebykomstighede die hoofmark vir plaaslike boere; die swierige pluime word gebruik om alles van weelderige hoede tot uitsonderlike rokke op te dollie.

“As jy goeie blootstelling aan ons produkte wil sien, sal dit op ʼn plek soos die Met-gala in New York wees,” sê Peter Liebenberg, hoof van die veerafdeling van Cape Karoo International.

Die sterbelaaide Metropolitaanse Kunsmuseum se jaarlikse fondsinsamelingsbal is beroemd vir sy uitspattige uitrustings.

Hoede, stoffers

Vandag sorteer, sny, was en kleur sowat 200 werkers vere in honderde kleure by die verwerkingsaanleg op Oudtshoorn. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Plaaslike produsente sê egter dit is die volstruise se veelsydigheid wat hulle toegelaat het om te oorleef, modegiere ten spyt. Nes met varke, word álles gebruik.

ʼn Vinnige staptog deur die dorp demonstreer dit goed. Restaurante bedien volstruissteak. In winkelvertoonvensters pryk volstruisleerhandsakke, asook lampe en ander ornamente wat uit die voëls se reuse-eiers gemaak is.

Die boog van die veer kan bewerk en gekrul word om byvoorbeeld borsspelde te maak, sê Saag Jonker, ʼn 82-jarige boer. “Op die oomblik is dit hoogmode.”

ʼn Volstruis met ʼn ondeunde uitdrukking op sy gesig pryk op die bordjie van die plaaslike toerismekantoor.

Dit is volstruiswêreld dié. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Terwyl die vraag na uitspattige klere vir soirées byna heeltemal opgedroog het toe inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie almal gedwing het om tuis te bly, was dit weer verestoffers wat die bedryf aan die gang gehou het.

“Mense was in afsondering, beperk tot hul huise – en almal wou skoonmaak!” sê Liebenberg.

Maar Oudtshoorn het al dié paadjie gestap … In die vroeë 1900’s was volstruisvere ʼn gesogte item op ontwerpers se lysies en Suid-Afrika se vierde grootste uitvoerproduk.

Die prys van volstruisvere is omtrent net deur dié van goud oortref en die Oudtshoorn-boerevereniging het as teken van die florerende bedryf op ʼn keer ʼn manjifieke waaier van wit vere aan Brittanje se wyle koningin Mary geskenk.

Maar die mark het geduik kort ná die Eerste Wêreldoorlog maritieme handel ontwrig en motors ʼn meer alledaagse vorm van vervoer geword het.

“Jy kan nie in ʼn kar klim met ʼn hoed van volstruisveer nie. Dit was ʼn groot ding,” sê Liebenberg.

Maar die wiel draai altyd – en die vraag na volstruisveer ook.

Groot voëls, groot voordeel

Saag Jonker se maatskappy is nou die grootste in private besit wat betref die teel-, verwerking- en bemarking van volstruise, met byna 45 000 voëls wat elke seisoen geslag word. (Photo by Gianluigi Guercia/AFP)

Vandag sorteer, sny, was en kleur sowat 200 werkers vere in honderde kleure by die verwerkingsaanleg op Oudtshoorn.

Naaldwerksters in pienk uniforms werk vereboas aan mekaar in ʼn vertrek wat versier word met modevertonings van Paco Rabanne, Jean Paul Gaultier en Balmain.

Cape Karoo International verkoop sowat 100 ton vere elke jaar, wat insluit meer as ʼn miljoen verestoffers en 130 000 m belegsel.

Nie ver van hier af nie, in Jonker se broeikamers, kan die gekloek van honderde kuikens gehoor word. Met ʼn vaardige hand open ʼn werker ʼn temperatuurbeheerde laai en verwyder ʼn paar stukkies dop van een van die groot eiers. Binne-is ʼn klein snawel en ʼn paar vaak oë.

“Ek het seker op die ouderdom van 22 of 23 ʼn volstruisveerafslaer geword,” vertel Jonker.

“Dit is hoe ek in die volstruisbedryf beland het – en ek het nog nooit weer teruggekyk nie.”

Sy maatskappy is nou die grootste in private besit wat betref die teel-, verwerking- en bemarking van volstruise, met byna 45 000 voëls wat elke seisoen geslag word.

Nadat dit gesteriliseer en gesorteer is, word die swart en wit pluime van die vlerke – die mees gesogte vere – verkoop deur haute couture-huise wêreldwyd.

Klante wissel van Moulin Rouge-kunstenaars in Parys tot karnavalgangers in Rio de Janeiro.

“Dit is werklik ʼn opwindende produk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.