Oudvoorsitter van Broederbond sterf

Prof. Pieter de Lange. (Foto: Verskaf)

Jaco Schoeman, voorsitter van die Afrikanerbond, het in reaksie op die dood van prof. Pieter de Lange (93) gesê hy voel geërd dat hy die geleentheid gehad het om sy leiding en insig te kon ervaar en van tyd tot tyd op sy skerp intellek en wysheid kon staatmaak.

Dit kom nadat De Lange, ʼn voormalige rektor van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en voorheen een van die invloedrykste voorsitters van die Afrikaner‑Broederbond (AB), Dinsdagoggend in Pretoria oorlede is.

De Lange het maande voor sy dood al met swak gesondheid gesukkel en het ʼn paar weke gelede ʼn beroerte gehad. Hy het in Junie verlede jaar die Afrikanerbond se Eeufeesviering in die Paarl weens swak gesondheid misgeloop.

De Lange was van 1984 tot 1994 die hoof van die AB, en het van 1979 tot 1987 as rektor van die RAU gedien.

Luidens ʼn verklaring wat deur die Afrikanerbond uitgereik is, sal De Lange onthou word vir sy besondere deelname en betrokkenheid in die strukture van die AB en veral vir die eerste interaksie met die ANC deur ʼn gesprek met Thabo Mbeki in 1986 in New York.

Die historiese “Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner” het daarna die lig gesien as besprekingsdokument van die AB en het die weg gebaan vir die hervorminge wat gevolg het. “Die belangrikste interaksie het egter in 1986 plaasgevind toe prof. Pieter de Lange onder die dekmantel van ʼn onderwyskonferensie van die Ford Foundation in New York ʼn gesprek met Thabo Mbeki gehad het.”

De Lange het destyds met Mbeki gepraat oor die Afrikaner se vrees om in ʼn demokratiese Suid-Afrika sy kulturele identiteit te verloor eerder as die groep se ekonomiese of politieke mag. Volgens Mark Gevisser, skrywer van Thabo Mbeki: The Dream deferred, het Mbeki begrip gehad vir wat De Lange aan hom verduidelik het.

Prof. Pieter de Lange. (Foto: Verskaf)

“Mbeki het self erken sy ontmoeting met Pieter de Lange het iets binne hom geaktiveer. Dit was hierdie vergadering, het hy vir my gesê, wat hom die meeste voorberei het vir sy gevolglike gesprekke met die Nasionale Party-regering – want hy het vir die eerste keer verstaan hoe bedreig Afrikaners was en hoe hulle gerusgestel moes word,” het Gevisser geskryf.

Schoeman sê die “Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner” het binne die Afrikanerbond ʼn skeiding in die denke oor die staatkundige rigting verteenwoordig. “Dit het die fondament gelê vir die wegbeweeg van diskriminasie en die daarstel van ʼn demokratiese bestel waaraan alle inwoners van die land kan deelneem. Dit het gevolglik ook ʼn beduidende invloed gehad op AB‑lede wat in senior regeringsposisies was.

“Dit was nie op sigself ʼn meesterplan nie, maar het oor baie fundamentele sake die rigting aangedui en aan ʼn relatief dormante proses ʼn hupstoot gegee – die regte dokument op die regte tyd onder die voorsitterskap van prof. Pieter de Lange.”

Schoeman het namens die Afrikanerbond sy medelye met De Lange se vrou, Christine, en sy kinders betuig. “Ons eer sy nagedagtenis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannah

En…….
????

Steven

Jip, ook ‘n sleutel figuur in die aftakeling van boere (eie) grond vir ‘n pot lensies. De Lange was geheimsinnig konkelend besig soos ons die AB ken, besig om die fondasie van ‘n soewereine land te ondermyn. Die AB as instansie is aandadig aan hoogverraad nes die politieke leiers van daardie tyd. Vandag sit ons met die meesterplan van De Lange en kie en dis ons wat die prys betaal. MAAR steeds glo die Afrikaner hierdie fossiel organisasies… ons luister nog steeds na hulle kaf en dan is daar wragtag nog mense soos Schoeman wat lof wil bring vir hierdie… Lees meer »

Vingerfoutjie?

Hy voel ‘geërd’, MM?

Gert Potgieter

Broederbonders het ook maar lekker vir mekaar gesorg. As jy nie destyds lid van hulle was nie het jou ook geen bevordering gekry nie, maak nie saak hoe hard jy gewerk het nie. Al die rektors van daardie era was broederbonders. Dis ook al rede hoekom sy dood die nuus haal. Ek sal nie een van hulle mis nie.

CG

Hoe naîef tog van die Broeders om te verwag het dat die nuwe heersers hulle aan ons voorwaardes sou steur sodra hulle die mag bekom het. Ons betaal die afgelope 25 jaar die prys daarvoor.