Oudweermaglid in hof na vrou geskiet is: ‘Ek herleef alles weer’

Jacob Marakalla (regs) en sy regsverteenwoordiger wag Donderdagoggend vir die hofverrigtinge om te begin. Foto: Tania Heyns

Jacob Marakalla (35), ʼn voormalige weermagkorporaal, het vandag weer in die Pretoria-Noord-streekhof verskyn nadat hy glo vir Carine van Staden in Augustus 2017 ten aanskoue van haar verloofde in spitsverkeer in die noorde van Pretoria geskiet het.

Carine (30) was vandag saam met haar verloofde, Johan Harmse, in die hof. Hulle is nog nie ná die skietvoorval getroud nie.

“Elke keer herleef ek wat gebeur het en hoor nóg ander goed waarvan ek nooit geweet het nie. Gister het ek nie lekker gevoel nie. My dag was sommer omgekrap, want ek weet môre moet ek weer alles herleef,” vertel sy aan Maroela Media oor die emosies wat sy met elke hofverskyning ervaar.

Carine is op 10 Augustus 2017 geskiet toe sy en Johan van Daspoort op sy motorfiets op pad was na vriende in Montana. Marakalla was glo in ʼn amptelike weermagvoertuig en het Johan se motorfiets skrams getref en weggery.

Die paartjie het die voertuig agternagesit en by ʼn verkeerslig voorgekeer, waarna die insittende in die voertuig Carine op ʼn kort afstand in haar linkerbors geskiet het. Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Johan wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Carine is die betrokke aand na die Montana-hospitaal gehaas en moes sedertdien talle operasies ondergaan om die skade onder meer aan haar longe te herstel. Sy sukkel vandag nog met haar gesondheid, vertel sy voor die hof.

“Ek het nog baie pyn. In die oggende is dit moeilik, want ek verstik soos ek hoes. In die aande kry ek nagsweet en nagmerries. Die pyn kom en gaan. As ek hoes, is dit seer. As ek nies, is dit seer.”

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Sy vertel dat sy sukkel om gewig aan te sit ná die voorval en ook baie maklik siek raak weens ʼn swak gestel.

Carine het saam met landdros Piet Nel na verskeie polisiebeamptes se getuienis geluister wat destyds die beeldmateriaal van ’n draagbare videokamera gehanteer het wat Johan ten tyde van die voorval aan sy valhelm gehad het.

Konst. Jonas Masombuka en sers. John Ramollo is die twee polisiebeamptes van die Sinoville-polisiestasie wat die aand van 10 Augustus die oproep van ʼn skietvoorval op die hoek van Lavenderweg en Braam Pretoriusstraat ontvang en na die hospitaal gegaan het.

Hiér het Johan aan hulle ʼn koeëldoppie wat hy op die toneel opgetel en die kamera aan Ramollo oorhandig.

Ramollo het in sy getuienis vertel dat hy dadelik die twee bewysstukke in forensiese sakke verseël het waarna hulle dit terug na die polisiestasie geneem het om in te teken.

Die verdediging het egter teenstrydighede in die twee se getuienisse uitgewys aangesien Masombuka in sy getuienis vertel het dat die kamera eers by die polisiestasie in ʼn forensiese sak verseël is.

Albei het dit egter eens dat hulle nooit toegang tot die beeldmateriaal gehad het of op enige manier daarmee kon peuter nie.

Die hof het onder meer ook van ʼn jong polisiebeampte gehoor wat op 14 Augustus 2017 die beeldmateriaal van die kamera op ʼn geheuestokkie en DVD gelaai het.

Carine, Johan en nog ‘n vrou wag Donderdagoggend vir die hofverrigtinge om te begin. Foto: Tania Heyns

Hy meen ook dat hy nie aan die beeldmateriaal verander het nie.

Die verdediging wou egter weet waarom die polisiebeampte se kwalifikasie om elektroniese bewysstukke af te laai nie aan sy aanvanklike verklaring aangeheg is nie.

Die staat voer aan dat hulle vandag deur middel van die getuienisse kon bewys dat daar nooit met die beeldmateriaal gepeuter of aan verander is totdat dit vir hofdoeleindes afgelaai is nie.

Hulle vra dus vir ʼn kopie van die beeldmateriaal wat hulle sedertdien nog nooit onder oë gehad het nie. Die verdediging staan egter die versoek teen en sê hulle het steeds geen duidelikheid rakende die destydse hantering van die beeldmateriaal nie.

Nel het gevra om albei argumente te oorweeg voordat hy die saak tot 8 Oktober uitgestel het.

Marakalla het emosieloos in die beskuldigdebank na die getuienis gesit en luister. Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord, roekelose of nalatige bestuur, die versuim om op ʼn ongelukstoneel stil te hou en die rig van ʼn vuurwapen. Hy is destyds op waarskuwing vrygelaat en nie in aanhouding nie.

Sy verweer is dat hy gedink het hy word gekaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan ·

Maar onafhanklike forensiese kenners kan mos die egtheid van die video-materiaal bevestig. En die dame is mos deur hierdie man geskiet. Of gaan die verdediging dit ook ontken?

leser ·

meeste van die valhelm en ” dash cams” se beeld materiaal is nie veranderbaar nie, net die vervaardiger van so ‘n kamera sal dit kan verander , (meeste vervaardigers is in china)

Koos de Meyer. ·

Die meneer was seker ‘n vryheidsvegter nou kom hy met die skaak storie uit. Daar sal altyd ‘n verskoning opgedis word. Ek wonder of hy ooit ‘n vuurwapen kan hanteer.

Doodskis Episode ·

Poging tot moord, maar hy word vrygelaat. As jy die ou vlag by jou het, word jy in hegtenis geneem. Lekker ou regstelsel wat so werk vir sommige!

ana ·

Weer n Vrou , ons is so weerloos in die Siek land wat deur ANC mans bestuur word

Pietsnot ·

Die ou was n korporaal op ongeveer 35 jarige ouderdom. Ek en baie ander was n korporaal op 18 jarige ouderdom. Dis om van te lag.

Gert van Wierdapark ·

Padvarke is potensiele moordenaars – hier is nog n bewys daarvan!!!

CallieL ·

Hierdie is erger as erg. Waarom is die krimineel nie toegesluit. Volgende is wittes probeer nie eers saamstaan om hom in tronk te kry. Hier kort ernstige saamstaan en selfs oorgaan tot geweld om die man in die tronk te kry. Die doodskis manne is nie eers amper waar hierdie man is nie maar is in die tronk. Witman, staan op vir ware geregtigheid of gaan grou jou en jou familie se grafte.

Shame ·

Hy het gedink hy word gekaap. Dit is waar die fout lê, hy het gedink.

Tinus ·

En die president sê ……. ? Daar gaan niks van kom nie, Dis hoekom die land is waar hy is …., die misdadigers loop buite rond !

LoodKurkprop ·

Oeps ….en toe is die memory kaart leeg want hy het vergeet om sy dashcam aan te sit voor hy op sy motorfiets geklim het….how convenient.

Dalene ·

Hy dink hy word gekaap…HAHAHAAA…’n Persoon op ‘n motorfiets wat jou gaan kaap en dit nadat die motorfiets getref is. Oh genade!!!!

Vra maar net ·

Waar was die waarskuwingskoot as hy gedink het hy word gekaap ?

JohanL ·

TWEE jaar later en nog geen finaliteit nie. Ek besef ‘n saak moet ordentlik ondersoek word, maar regtig – is ons vervolgingstelsel so swak?

Praat van spitsverkeer – sekerlik moet daar ander getuies ook wees wat dit gesien het? Waar is hulle? Die videomateriaal kan nie die enigste bewys wees nie.

Sal ook graag wil weet – as daar dan volgens die verdediging sogenaamd gepeuter is aan die materiaal, hoe sal dit verander word om wat te kry?

En laastens – in Lalaland gaan twee mans tronk toe oor hulle ‘n beweerde dief “goed skrik maak” deur hom in ‘n doodskis te druk. Maar iemand wat in die openbaar na ‘n weerlose persoon skiet, loop nog vry rond. Wat ‘n siek “reg”stelsel in ‘n piesangrepubliek.

Maljan ·

Johan het iemand iets aan die twee knape se onregverdige vonnis gedoen? Nee niks. Nie eers Afriforum nie. Hulle was ekstreem maar self dan was die straf oordrewe. Tog het Afriforum eerder greedy Grace se slagoffer te hulp gesnel

Anoniem ·

Die domkop ken duidelik nie die wet nie. Hy “dink” hy word gekaap nadat hy teen die motorfiets gebots het. Niemand op die motorfiets het ‘n vuurwapen op hom gerig nie, dus was daar geen onmiddelike bedreiging nie. Selfs al het hy bedreig gevoel, het hy die perke van minumum geweld oorskry. Hy het geen verweer nie.

En nou? ·

Gedink hy word gekaap… Jy kan vir jou volk sulke nonsens vertel en hulle sal jou glo, maar ongelukkig nie met ons nie! Ek is gebore, ek is net nie gister gebore nie! Sluit hom maar toe saam met ou BIG John!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.