Oudweermaglid wat vrou skiet, skuldig bevind

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Die voormalige weermagkorporaal wat Carine van Staden in Augustus 2017 ten aanskoue van haar verloofde in spitsverkeer geskiet het, is ná vier jaar skuldig bevind aan al die aanklagte teen hom.

Jacob Marakalla is Donderdag in die Pretoria-Noord-streekhof skuldig bevind op aanklagte van poging tot moord, die rig van ʼn vuurwapen, roekelose of nalatige bestuur en die versuim om hulp op ʼn ongelukstoneel te verleen.

Van Staden – wat die skoot in haar bors oorleef het maar nou met haar gesondheid sukkel – sê sy voel “ligter” en kan “weer asemhaal” ná die uitspraak.

Landdros Piet Nel het bevind dat Marakalla se lewe nooit in gevaar was toe hy Van Staden op 10 Augustus 2017 van ’n kort afstand in haar linkerbors geskiet het nie.

Maroela Media het destyds berig Van Staden is geskiet toe sy en haar verloofde, Johan Harmse, van Daspoort op sy motorfiets op pad was na vriende in Montana in die noorde van Pretoria. Marakalla was in ʼn amptelike weermagvoertuig en het Harmse se motorfiets skrams getref en weggery. Van Staden het hom by ’n verkeerslig hieroor gekonfronteer, waarna hy haar geskiet het.

Marakalla (voor in die pak) tydens ‘n vorige verskyning buite die hof. (Foto: Phillip Bruwer)

Marakalla se verweer was deurgaans dat hy gedink het hy word gekaap en uit noodweer opgetree het.

Nel het egter gesê die staatsgetuies het dié weergawe in die hof weerlê. Nel het ook onder meer daarop gewys dat die paartjie nie gewapen was ten tyde van die voorval nie terwyl Marakalla twee vuurwapens in sy motor gehad het.

Slaak van verligting

Van Staden het vanoggend aan Maroela Media gesê sy het nie verwag dat uitspraak nou al gelewer sou word nie aangesien die saak al verskeie kere vantevore uitgestel is en sy herhaaldelike teleurstellings in die saak moes trotseer.

Een van die teleurstellings was dat Marakalla ná die voorval op waarskuwing vrygelaat is en nooit in aanhouding was nie.

Hy is egter ná die uitspraak in hegtenis geneem en nou eindelik in die tronk.

Van Staden en Harmse sê albei hulle sien uit daarna om die gebeure agter hulle te sit en hul lewe te kan voortsit.

Jacob Marakalla (regs) en sy regsverteenwoordiger by die hof tydens ‘n vorige verskyning. (Foto: Tania Heyns)

“Ek kan weer asemhaal en my lewe begin beplan,” vertel Van Staden.

Sy is die aand van die voorval na die Montana-hospitaal gehaas en moes sedertdien talle operasies ondergaan om die skade, onder meer aan haar longe, te herstel. Sy sukkel vandag nog met haar gesondheid en kan weens haar swak longe nie juis werk nie.

Sy vertel dat sy boonop altyd daarvan bewus was dat Marakalla op vrye voet is en weens die hofsaak weet waar sy woon. “Ek kon nooit sommer net na ’n partytjie gaan en ’n foto op Facebook plaas nie. Hoe weet ek hy gaan nie daar opdaag nie?”

Harmse beaam dit.

“Ons kon nêrens gaan nie. Ek kon ook nie juis iets op my eie doen nie omdat ek gevoel het ek moet haar beskerm.

“Ons bly in Suid-Afrika en daar gebeur elke dag sulke goed. Ek het egter nie verwag dat so iets met ons sou gebeur nie. Toe dit gebeur…  dit was skrikwekkend,” vertel hy.

Marakalla word op 19 Oktober gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

Daar is teveel kriminele met wapens wat dink dit is die wilde weste.

Misky

Kom ons kyk maar eers wat die gevonnis gaan wees en of dit werklik regverdig is

Trotse Boervrou

Maar indien ek dieselfde as hy gedoen het sou ek opslag in die tronk gestop gewees het tot die hofsaak voorkom. Ek sou nie eens borg gekry het nie. Ek sal darem die wit waks uit die Staat dagvaar vir onbevoegdheid, vir pyn en lyding, omdat ek 4 jaar in vrees moes leef en sommer vir alles wat ek hul voor kan dagvaar! Pateties verby!

Althes

So bly geregtigheid het uiteindelik geskied. Hierdie land het meer sulke goeie nuus nodig.

Frans

Wonderlik!