Oudweermaglid wat vrou skiet wéér nie in hof

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Die saak teen die voormalige weermagkorporaal wat Carine van Staden in Augustus 2017 ten aanskoue van haar verloofde in spitsverkeer in die noorde van Pretoria geskiet het, is uitgestel aangesien hy nog nie weer in hegtenis geneem is nie.

Jacob Marakalla (35) het Maandag nóg ’n hofverskyning in die streekhof in Pretoria-Noord misgeloop waar die saak in sy afwesigheid tot 30 November uitgestel is.

Dit gee die staat kans om Marakalla op te spoor en in hegtenis te neem, sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

’n Lasbrief is reeds vir Marakalla se inhegtenisneming uitgereik nadat hy vantevore versuim het om in die hof te verskyn.

Jacob Marakalla (regs) en sy regsverteenwoordiger wag Donderdagoggend vir die hofverrigtinge om te begin. Foto: Tania Heyns

Marakalla staan tereg op aanklagte van poging tot moord, roekelose of nalatige bestuur, die versuim om op ʼn ongelukstoneel stil te hou en die rig van ʼn vuurwapen. Hy is destyds op waarskuwing vrygelaat en was nie in aanhouding nie.

Van Staden is op 10 Augustus 2017 geskiet toe sy en haar verloofde, Johan Harmse, van Daspoort op sy motorfiets op pad was na vriende in Montana. Marakalla was glo in ʼn amptelike weermagvoertuig en het Harmse se motorfiets skrams getref en weggery.

Die paartjie het die voertuig agternagesit en by ʼn verkeerslig voorgekeer waarna die insittende in die voertuig Van Staden op ʼn kort afstand in die linkerbors geskiet het. Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Van Staden is die betrokke aand na die Montana-hospitaal gehaas en moes sedertdien talle operasies ondergaan om die skade onder meer aan haar longe te herstel. Sy sukkel sedertdien met haar gesondheid.

Marakalla se verweer is dat hy destyds gedink het hy word gekaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Seker in Malawi…..

Misky

Dis mos belaglik man en as jy versuim om jou hofdatum op te daag, lasbrief vir inhegtenisname en reguit tronk toe vir verhoordatum. Is daai arme mense nie al deur genoeg gesit nie en moet elke keer maar net hoor van uitstel. Kry julle dinge reg en hou by reels. Skelms lag vir die gereg!!!

Persheks Adri

Kriminele skrik nie eers vir enige tipe van gereg nie dis hoekom hulle doen wat hulle doen en weet hulle kom weg met dit. Geen wonder die land is so gemors nie en die stelsel het hom op waarskuwing laat gaan pffft

Dries

Ongelooflik. As ons regstelsel dan nou net een voorneme vir die nuwe jaar kan maak, laat dit dan wees dat mense minder ‘op vrye voet’ moet wees vir voorvalle waar ander mense vermoor of amper vermoor is, want of hulle vlug, of hulle moor net weer. Bou nog tronke!

marisa

Hy dink hy is verhewe bo die wet!!