Oudwerker ontken skuld ná moord op Human-egpaar

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Lebohang Stephen Lekoro het Maandag in die rondgaande hof in Mosselbaai skuld ontken op twee aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede.

Die saak spruit uit die moord op Tewie Human (72) en sy vrou Eurika (62) van Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap op 14 Junie 2016. Die Humans is in hulle huis buite die dorp met ‘n mes en panga aangeval.

Lekoro het vir die Humans gewerk. ‘n Tweede persoon, Thamsanqa Sishuba, dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir die Human-moorde. Lekoro het kort ná die moorde na Lesotho gevlug en is verlede jaar in hegtenis geneem.

Hy het met die aanvang van die saak skuld ontken op die hoofklagtes, maar het verskeie erkennings by wyse van ‘n beëdigde verklaring ingedien. Hy beweer onder meer dat wyle mnr. Human hom op die dag van die moord hard met die vuis teen sy voorkop geslaan het omdat hy die verkeerde olie in ‘n masjien gegooi het.

Hy het Human daarna met ‘n mes gesteek omdat hy glo bang was dat hy nog ‘n hou gaan kry. Volgens Lekoro het Sishuba vir Human daarna met die panga aangeval. Hyself het glo weggehardloop en die volgende dag na Bloemfontein gevlug.

Dorothea Wilson, die Humans se vriendin van 30 jaar wat op hul liggame afgekom het. Foto: Susan Purén

Die eerste getuie wat deur die staat geroep is, Dorothea Wilson, het getuig dat sy die Humans vir sowat 30 jaar geken het en dat die twee gesinne hegte vriende was. Sy het onraad vermoed toe sy die Humans vir etlike dae nie per telefoon kon bereik nie. Wilson het destyds in die nabygeleë Reebok gewoon.

Sy het getuig dat die beskuldigde sowat twee jaar vir Tewie Human gewerk het. Sy het gedink dat Human en Lekoro, ook bekend as Stephen, goed oor die weg gekom het want Human het hom gewoonlik by sy huis gaan oplaai vir werk en aan die einde van die werkdag weer gaan aflaai.

Wilson het, nadat sy nie daarin kon slaag om die Humans in die hande te kry nie, op Vrydag 16 Junie besluit om te gaan ondersoek instel. Die huis se gordyne was toegetrek en die motor wat gewoonlik buite staan was nie daar nie en sy het aanvaar dat die Humans dalk dorp toe is. Sy het toe ook vir hulle ‘n stemboodskap gestuur. “Waar loop julle rond,” het sy gevra, min wetend dat hulle dood in die huis gelê het.

Die volgende dag is sy weer na die Humans se huis. “Ek het net geweet iets is nie reg nie,” het Wilson aan regter Mark Sher gesê.

Ds Gerhard Pietersen, die Human egpaar se skoonseun. Foto: Susan Purén

Sy het aan ‘n skuifdeur gevoel en besef dit is oop. Die Humans se twee honde was binne. Sy het toe besef dat iets verkeerd is en het die bure gaan vra om saam met haar in die huis in te gaan. Toe sy die slaapkamervenster oopstoot, kon sy haar vriendin se onderlyf sien waar sy op die bed lê, het ‘n bewoë Wilson getuig.

Die Humans se skoonseun, ds. Gerhard Pietersen, het onder meer getuig dat Lekoro voorheen ‘n tuinbankie wit geverf het en daarop geskryf het “Love you Mr Human, from Stephen”. Dit was die verhouding wat die oorledene met hom gehad het.

Pietersen het bygevoeg dat sy skoonma nie altyd dieselfde as haar man oor Lekoro gevoel het nie en hom by tye gewaarsku het dat sy Stephen nie vertrou nie.

Die saak duur voort. Adv. Lenro Badenhorst kla aan en adv. Dawie Scholtz verskyn vir Lekoro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VanAfrika ·

Wil ek ook weet Human, miskien kan Skuus aan ons verduidelik

Joubert ·

Dis wat op die bankie (met bloed?) geverf is in die foto. Ek vermoed seker sarkasme van die moordenaar se kant af..

Joubert ·

O skuus ek moes seker beter gelees het, ek sien nou dit was voorheen reeds so gedoen. Mag dalk steeds sarkasme wees wel.

Deloris ·

Nobody to be trusted….. N vrou het maar net daai 6de sintuig……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.