Ouer as 35? Registrasies vir Covid-19-entstof open binnekort

Toenemende stygings in verskeie provinsies, hoofsaaklik weens die Delta-variant van die koronavirus, wek groot kommer. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Mense tussen die ouderdom van 35 en 49 sal op 15 Julie kan begin registreer om die Covid-19-entstof te ontvang. Die registrasie en inentings van diegene ouer as 50 duur intussen voort.

Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het Vrydag tydens ʼn aanlyn mediavergadering gesê die regering hoop om teen die einde van volgende week minstens 250 000 mense per dag in te ent, en dat meer as 190 000 mense in hierdie stadium gemiddeld per dag ingeënt word.

Intussen is daar steeds groot kommer oor die vinnige verspreiding van die hoogs aansteeklike Delta-variant van die koronavirus wat die huige vlaag infeksies – wat tot dusver in Gauteng gesentraliseer is – aandryf.

Dr. Tulio de Oliveiro, direkteur van Krisp, die genomikawaarnemingslaboratorium, sê die Delta-variant is vinnig besig om die oorheersende variant te word.

“Ons is nie buite gevaar nie,” het De Oliveiro vanoggend gewaarsku.

Syfers in Gauteng is gaandeweg besig om af te neem, maar die vinnige koers waarteen infeksies nou in veral Limpopo, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Mpumalanga toeneem, wek groot kommer.

De Oliveiro sê in Limpopo lyk die grafiek van infeksies in hierdie stadium “soos ʼn vuurpyl” en daar was die afgelope sewe dae ʼn beduiende toename in infeksies.

Dieselfde gebeur in KwaZulu-Natal waar die Delta-variant begin oorheers. Hoewel die infeksiesyfers in hierdie stadium nog betreklik laag is, is daar nietemin ʼn kwaai toename in gevalle.

In Mpumalanga en die Wes-Kaap is getalle ook besig om vinnig toe te neem.

Volgens De Oliveiro is die goeie nuus minstens dat die huidige entstowwe ʼn goeie vlak van beskerming teen ernstige Covid-19 bied en dat dit belangrik is om soveel as moontlik mense in te ent.

In hierdie stadium is sowat 5,6% van Suid-Afrika se bevolking reeds ingeënt en net meer as 4 miljoen mense het reeds ʼn dosis van die entstof ontvang.

Spesiale inentingsprogramme vir onderwysers en die polisie het reeds begin en die weermag begin Vrydag met sy inentingsprogram.

“Die idee is om elke moontlike beskikbare hulpbron te gebruik om die tempo van inentings te versnel,” sê dr. Nicholas Crisp, adjunkdirekteur-generaal van gesondheid.

Inentings oor naweke bly ʼn groot tameletjie – die program kom oor naweke bykans tot stilstand – en Crisp sê daar word nou verskeie programme in werking gestel om te verseker inentings word oor naweke voortgesit.

Volgens Crisp het Suid-Afrika tans sowat 3,6 miljoen dosisse in voorraad – die beste posisie waarin die land tot dusver was. Dit is genoeg voorraad vir 18 dae van inentings.

Verlenging van afsonderingsregulasies

Die ministeriële advieskomitee het reeds vergader en Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, sê die minister sal later vandag ʼn verslag daaroor ontvang.

ʼn Aanbeveling word daarna aan die nasionale koronavirusbevelsraad gedoen.

Die amptenare wou vanoggend egter geen spesifieke aanduiding gee oor die moontlikheid van die voortsetting van die strenger inperking nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Belinda ·

Net n vraag gou gou. hoekom kan hulle nie mense inspuit met die vaccine wat in die hospitale le? Ek weet nie of ek vir dit sal gaan nie.

Hippo ·

Belinda die vaccine is vir mense wat nie covid het nie, nie vir die mense wat dit alreeds het nie. Die vaccine gee jou antibodies maar jy kan nog Covid kry maar soos ek verstaan nie so erg nie. Ek het my eerste vaccine gehad en ek is fine.

piet ·

As jy tans Covid het, gaan die vax geen uitwerking of voordeel he nie maar jy sal ook niks oorkom as jy wel die vax kry terwyl jy Covid het nie. Nadat jy van Covid herstel het kan jy natuurlik vir die vax gaan wat jou groter beskerming gaan bied (veral teen ander variante van die virus) as wanneer jy dit nie vat nie.

Hippo ·

Nee Piet as jy Covid het kan jy nie gaan vir die vaccine nie, inteendeel as jy Covid gehad het moet jy vir tussen 30 en 40 dae wag voor jy die vaccine kan kry.

Purrkitty ·

Just as an unvaccinated baby/toddler/child who is sick with Measles, Mumps, Rubella, Chickenpox, Whooping cough, Diphtheria ect. can not be vaccinated against the disease they have, the same goes for a person who has Covid-19. Sick people can’t be vaccinated.

Madeleine ·

Gelukkig vorder dit stadig Dat mense nog ingeligte besluit Kan maak.

Hein ·

Hier dog ek nou ek gaan nog so maand of twee he om daaroor te dink :-)

Stofdonkie ·

Om 50 miljoen mense dan in te end teen 190 000 per dag sal 9 maande neem om hulle ingeënt te kry, en dit is as hulle oor naweke ook teen dieselfde koers sou kon inent. Die ent moet in twee toedienings gegee word, so dit sal dus dan 18 maande vat. Gestel die ent is wel effektief dan gaan hulle eers verbetering sien oor twee jaar, houvas jou matras, want die covid is los.

piet ·

J&J is net een shot maar die algehele beskerming laer as die 2 shot vaxes. Die ander vaxes gee ook reeds basiese beskerming na net een shot (30%), die persentasie gaan op na die 90% na die 2de shot.

VaalDonkie ·

By die tyd wat almal inge-ent is teen die Delta variant, dan sit ons alweer met die Epsilon of Rho variante. Of wat ookal hulle genoem gaan word. Hierdie ding gaan nooit end kry nie.

piet ·

Die huidige entstowwe gaan steeds verminderde beskerming bied teen toekomstigte variante. Dit kan die verskil beteken tussen lewe en dood.

Hendrik Marthinus ·

Dit Bly absoluut die individual se keuse om die vaccine te gebruik al Dan nie.
At least moet ons dankie se vir die Regering, ons Kan darem sien Hulle probeer.
Miskien nie volgens ons standaarde nie, maar Hulle probeer vir elkeen n kans gee om die vaccine te Kan kry.
Kom ons Hoop Hulle Kan eersdaags selfs op naweke ook diegene help wat nie in die week Kan gehelp word nie.
Ons was n maand terug nie eens 2% ingeent nie ons sien n verbeter ING.
Hopenlik soos die inentings vorder besluit diegene wat skepties was selfs Hulle siening en ons land Kan oor n jaar of 2 se ons het kudde beskerming bereik.
Al wat ons Kan se is dankie

piet ·

Ek het op 1 Julie geregistreer vir die shot en het ‘n bevestigende e-pos gekry dat ek geregistreer is maar geen kode nie. Nou kry ek e-posse wat my uitnooi om te registreer??????? Nou weet ek nie, gaan maar volgende week probeer by een van die instap-plekke.

Hippo ·

Hendrik dit is so lekker om te lees dat daar nog mense is wat positief is. Die wat so klae moet dan nie gaan vir die vaccine nie. Lekker bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.