Ouer onderwyserskorps laat gou reuseleemte

(Argieffoto: Unsplash)

’n Groot aantal Suid-Afrikaanse onderwysers is ouer as 50 jaar en nader aftrede. Kenners waarsku nou dié onderwysers kan binne die volgende tien jaar in hul massas bedank en ’n reuseleemte laat, veral indien onderwysdepartemente besluit om aftreepakkette te begin uitdeel.

Die moontlikheid van pakkette vir Wes-Kaapse onderwysers bo die ouderdom van 50 is juis verlede maand tydens ’n vergadering van die nasionale departement van basiese onderwys geopper. Verteenwoordigers van provinsiale departemente van onderwys en vakbonde was teenwoordig.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die vakbond Naptosa, wat die vergadering begin Oktober bygewoon het, het dit aan Maroela Media bevestig. Hy verduidelik egter dit is bloot as idee voorgehou om die provinsie se astronomiese salarisrekening te verminder.

Daar is aangevoer dat ervare onderwysers op so ’n manier met jonger onderwysers (wat uiteraard minder verdien) vervang kan word.

Die idee is egter vinnig afgeskiet deur onder meer Naptosa. “Want dán daal jou belastinginkomste,” verduidelik Manuel.

Die moontlikheid van vergoedingspakkette vir Wes-Kaapse onderwysers het egter ’n paar weke later weer die lig gesien – dié keer op ’n agenda van die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC).

“Maar die vakbonde het geweier om dit te bespreek en dit is toe van die agenda verwyder,” sê Manuel.

Geen finale besluit is dus hieroor geneem of selfs met samesprekings begin nie. “Nóg in die Wes-Kaap nóg nasionaal,” sê Manuel.

Paul Sauer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersvakbond (SAOU), beaam dit.

“In hierdie stadium is daar niks formeel op die tafel nie.”

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het onlangs by navraag aan Maroela Media gesê die departement se menslikehulpbron-afdeling wis niks van die idee wat geopper is nie en dat dit moontlik ’n gerug is.

Die werklikheid is egter dat duisende ervare Suid-Afrikaanse onderwysers aftrede nader en kommer heers oor wie hul skoene sal kan volstaan.

Altesaam 42% van Wes-Kaapse onderwysers in 2021 was ouer as 50 jaar, wys ’n verslag wat vroeër vanjaar deur die Universiteit van Stellenbosch uitgereik is.

Luidens die verslag sal die helfte (50%) van dié provinsie se onderwysmag (soos in 2021) tussen 2022 en 2035 na verwagting aftree.

Dit geld ook vir die Vrystaat (50%), KwaZulu-Natal (50%), Mpumalanga (55%), Noord-Kaap (50%) en Noordwes (55%). In die Oos-Kaap en Limpopo sal ses uit elke tien onderwysers inderwaarheid voor 2035 aftree. Gauteng het tans die jongste onderwyserskorps, met 45% wat teen 2035 sal aftree.

(Grafika: Elsabe Erasmus/Maroela Media)

’n Verouderde onderwysmag

Die verslag Provincial Educator Demand Projections for South Africa (Junie 2023) toon die aantal Suid-Afrikaanse onderwysers van 50 jaar en ouer het tussen 2012 en 2021 geleidelik toegeneem. Die verslag is deur Bianca Böhmer en Martin Gustafsson saamgestel.

Die navorsers waarsku dat ’n verouderde werkersmag vorentoe moontlik ’n vlaag aftredes tot gevolg sal hê, namate hierdie onderwysers die standaard-aftreeouderdom van tussen 60 en 65 bereik.

Dit sal ook verskeie vakante poste in skoolbestuur- en leiersposisies tot gevolg hê, aangesien dié poste hoofsaaklik deur ouer en meer ervare onderwysers beklee word.

Sewe uit elke tien (73%) van Suid-Afrikaanse onderwysers bo 50 jaar of ouer was in 2021 ’n skoolhoof, adjunkhoof of departementshoof.

(Grafika: Elsabe Erasmus/Maroela Media)

Die verslag waarsku dat ’n voldoende aantal gekwalifiseerde onderwysers nodig is om vakante poste te vul. Die navorsers sê die vereiste aantal nuwe aanstellings moet nou reeds toeneem, bloot om te verseker daar is genoeg onderwysers vir die stygende leerdergetalle.

“Indien hierdie poste nie gevul word nie, kan dit lei tot ’n verdere verswakking in die onderwyser-tot-leerder-verhouding, wat weer nóg groter klasse en die gevolglike afname in gehalteonderwys tot gevolg kan hê.”

Ook Manuel is bekommerd oor die dreigende tekort aan onderwysers. “Dit is ’n nasionale probleem.

“Ek is veral bekommerd oor die verlies van kennis in die vakke wetenskap, wiskunde en tegnologie indien ons hierdie onderwysers begin verloor, en ons sal uiteindelik. Ons lok nie genoeg jongmense met kennis in hierdie vakke nie.”

Sauer het vandeesweek aan Maroela Media gesê die gemiddelde ouderdom van SAOU se lede was ’n “paar jaar gelede” 52 jaar oud. Die vakbond het dit intussen reggekry om die gemiddelde ouderdom van sy lede af te bring tot 44 jaar.

“Ons het regtig uit ons pad gegaan om jong onderwysers te werf sodat hulle diegene wat aftree, kan vervang.”

(Argieffoto: Unsplash)

Sauer is wel nie bekommerd dat alle onderwysers bo die ouderdom van 50 binnekort eensklaps pakkette gaan vat en aftree nie. “Ek is meer bekommerd oor die ouderdomsgroep 24 tot 40 wat uit die onderwys bedank. Ons het hierdie tendens in ons ledegetal waargeneem.”

Hy sê die SAOU is nie seker wat die rede hiervoor is nie en die vakbond beplan ’n projek om meer antwoorde hieroor te bekom. “Ek kan in dié stadium net bespiegel, maar dit is moontlik dat al hoe meer onderwysers óf emigreer óf weens die werksomstandighede (werksure, administratiewe druk, dissipline) besluit om uit te tree.”

Volgens Manuel beleef Suid-Afrika tans reeds ’n tekort aan onderwysers.

“Indien jy die nasionale departement van onderwys vandag vra of daar ’n tekort aan onderwysers is,  sal hul antwoord ‘nee’ wees, want in terme van getalle is daar geen tekort nie.

“Wanneer jy na onderwysers in sekere vakke kyk, wys dit egter ’n duidelike tekort.”

Manuel is ook bekommerd dat daar tans nie genoeg gedoen word om toekomstige onderwysers op te lei nie.

Kenners waarsku onderwysers ook teen vroeë aftrede.

“Dit sal beteken dat jy baie langer ’n beperkte inkomste verdien. Ons bly ons lede waarsku teen vroeë aftrede. Dit is nie so aanloklik soos wat dit lyk nie,” waarsku Manuel.

Sauer sê die SAOU raai ook nie sy lede onder die ouderdom van 60 aan om die onderwysdiens te verlaat nie. “Dit bly op die ou einde nie ’n goeie opsie in terme van beplanning vir finansiële aftrede nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elma ·

Gekwalifiseerde onderwysers verlaat eerder hierdie land as om te probeer om goeie werk te lewer terwyl hulle teen die politieke magsstryd in ons onderwysstelsel moet werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.