Ouer rand glo tiener tydens rugbywedstryd aan

Matthew Germishuizen in die Unie-hospitaal.

Matthew Germishuizen in die Unie-hospitaal.

Matthew Germishuizen, ʼn 17-jarige rugbyspeler van Alberton, is Saterdag tydens ʼn klubrugbywedstryd só erg aangerand dat hy vier dae in die hospitaal moes spandeer.

Matthew se ma, Ramona, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar seun is Saterdag omstreeks 11:30 na die Unie-hospitaal gehaas nadat hy tydens ʼn wedstryd teen ʼn span van die Roodepoort-rugbyklub in Florida glo deur ʼn teenstander se pa aangerand is.

Matthew is ʼn gr. 11-leerling aan die King Edward VII School (KES) en speel vir die Germiston Simmer-rugbyklub se o.18-span.

“My man, Louwtjie, is een van Simmers se afrigters en het die voorval aanskou,” het Ramona gesê.

Na wat verneem word, het die skeidsregter glo ʼn speler van Roodepoort vir ʼn oortreding gestraf. Die speler het kapsie gemaak en met die skeidsregter gestry, waarna die speler ʼn rooikaart gekry het. Die speler se pa het daarop aangedring dat die rooikaart teruggetrek word. Die skeidsregter het die eindfluitjie geblaas voor die tyd verstreke was.

“My seun het sy hande omhoog gegooi, aangesien hulle gewen het. Die seun wat die rooikaart gekry het, het toe op hom afgestorm en hom met die vuis geslaan,” het sy bygevoeg.

Daar was ‘n onderonsie waartydens die seun se pa glo ook vir Matthew aangerand het.

Louwtjie het tussenbeide probeer tree en is in die gesig geslaan. Hy het twee tande verloor. Nadat die situasie onder beheer gebring is, is Matthew op die veld deur paramedici behandel voor hy na die Unie-hospitaal gehaas is en in die hoësorgeenheid opgeneem is.

Sy neus en oogkas is tydens die voorval gebreek. Hy het ook harsingskudding opgedoen wat swelling op sy brein veroorsaak het. Hy is Dinsdag geopereer om sy gebreekte neus te herstel, en is die aand uit die hospitaal ontslaan.

“Hy sterk nou by die huis aan. Hy is baie gedisoriënteerd en sy linkeroog is nog toegeswel. Ons weet nog nie of daar enige permanente skade is nie,” het Ramona bygevoeg. Matthew het nog nie teruggekeer skool toe nie.

Die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU), wat klubrugby in die streek oorsien, het in ʼn verklaring die beweerde voorval streng veroordeel. “Ons wil dit duidelik stel dat fisiese en verbale mishandeling, op enige vlak van rugby, nie geduld sal word nie,” het die GLRU gesê. Die GLRU is besig om die voorval te ondersoek en gaan op 2 September ʼn tugverhoor hou.

Maroela Media wag nog vir terugvoer van die polisie oor die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

lorayne ·

Liewe Aarde. . . Ek wonder soms wat besiel ‘n ouer om SO op te tree teenoor iemand anders se kind? En dit nogal tydens sport en voor mense? Wat maak so ‘n mens met sy gesin agter geslote deure???
Ek hoop net die pa met die ligte hande kry wat hy verdien!!!

Elizabeth ·

Is dit nou hoe opgevoede mense optree? Absolute skande! Hoe voel die kind van die ouer as sy pa so uithaak? Ek hoop hul “sue” die bloue duiwel uit hierdie maniak! Noem sy naam en wys sy foto dat ons kan sien hoe lyk ‘n REGTE verloorder!

annatjie ·

Wat is dit met die mensdom dat ‘n eenvoudige rugbywedstryd nou ‘n ‘n geveg moet ontaard. As ‘n man sy hande so maklik kan lig vir iemand anders se kind en hom nog in die hospitaal kan laat land. Dit laat ‘n mens wonder oor sy karakter.

Petrus Swanepoel ·

Rugby is ‘n harde spel, party ouers langs die veld rig meer skade aan die spel as wat hulle ‘n positiewe bydrae lewer. Gaan luister ‘n bietjie na die ouers se kommentaar op die kantlyn gedurende ‘n skole rugby wedstryd, mens noem dit projeksie, die ouer projekteur sy eie emosies op die kind. O ja, in die berig hierbo is dit ‘n kwessie van my storie, jou storie en dan die waarheid.

Elfie ·

@Petrus Swanepoel – in hierdie storie is daar een waarheid en dit is bewys met die beserings – die ouer kon homself nie beheer en hoort agter tralies en klaar!

SNEL ·

Dis nou as sport vir jou n god geword het, dan gedra jy jou soos n vark. Mag hul daai pa dagvaar omdat hy n ander man se kind so geslaan het. Onderwysers mag nie eers lyfstraf toedien nie, maar kyk wat doen n toeskouer by n sportbyeenkoms!!!! Dis siek en n swak voorbeeld deur n “volwasse” aan kinders.

Marietjie ·

Ons skool het ook Saterdag teen ‘n rugbyklub gespeel, waar die o/15 wedstryd 5 minute in die tweede helfte gestop is, weens ‘n bakleiery wat uitgebreek het. Die besoekende span se vlagman het ook een van ons span se spelers (wat glad nie eens by die geveg betrokke was nie) bygedam en sy mond stukkend geklap. Die aanmerkings van die toeskouers langs die veld was rassisties, opruiend en gemik om moeilikheid te veroorsaak. Ek noem dit sommer klubrugby boewery. Klubrugby hoort nie in skolerugby nie, maar omdat hulle in ons liga speel word ons geforseer om teen hulle te speel, anders is dit rassisme.

‘n Formele klag is nou by die Rugbyunie gelê, tesame met die video opname en verdere klagtes van die betrokke ouers van die kinders wat deurgeloop het. Moet daar dan nou veiligheidswagte gereël word vir wedstryde of moet ons kinders bokslesse saam met rugby afrigting begin kry? Ek sal ook twee tande verloor om my kind te verdedig. Ek laat nie my kind aanrand nie.

Shannon ·

Wat terugvoer van die GLRU ? Sou graag wil hoor watter regstappe hulle gaan neem teen beide die skool en hul ondersteuner.
Die polisie, soos verwag kan word Maroela, gaan die aangeleentheid ‘terug verwys’ na die beheer ligaam, en die dosier is reeds verloor.

PJ Kruger ·

Nee wat, die gevegte in skole Rugby gee die goeie sport waarvan ek n groot ondersteuner is, n baie slegte naam en teveel hoor ons van sulke voorvalle. Ek stel voor dat die skole wat skuldig is, vir ‘n jaar heeltemal uit die seisoen gehou moet word, as boete.

Leeutjie ·

Dit het ook met my seun gebeur. Hy is aangeval op die rugbyveld deur ‘n seun en toe hy “retaliate” toe slaan die seun se pa (wat vlagman was) my seun oor sy rug. Ek het na die man toe gestap en gevra of hy altyd sy seun se gevegte vir hom veg waarna die pa sy vinger in my gesig gedruk het. Ek het liefies sy vinger gevat en dit agteroor gebuig na homself toe (ek het op daardie stadium karate afgerig). Na die episode het die skoolhoof van die ander skool my seun se skoolhoof geskakel en ek is persoonlik onverskoning gevra vir die pa se onprofessionele gedrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.