
‘n Gesondheidswerker ontvang verlede maand die Covid-19-entstof by die Klerksdorp-hospitaal. (Foto: Phill Magakoe/AFP)
Die regering is van plan om alle Suid-Afrikaners ouer as 60 jaar op 17 Mei vanjaar te begin inent teen Covid-19. So het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, Dinsdag in die parlement aangekondig.
Hy het ook gesê die land sou al baie ver met die voorgenome inentingsveldtog gewees het as dit nie op die nippertjie geblyk het dat die AstraZeneca-entstof, waarvan meer as ʼn miljoen dosisse bekom is, nie effektief is teen die Suid-Afrikaanse variant van die virus nie.
Die plan tans is om Suid-Afrikaners ouer as 60 jaar op 17 Mei te begin inent, en alle Suid-Afrikaners ouer as 40 jaar van 1 Augustus. Suid-Afrikaners jonger as 40 jaar sal van 1 Desember ingeënt word, volgens die plan.
Meer as 2 000 inentingspunte in die staatsektor en die private sektor is reeds geïdentifiseer. In hierdie stadium het onderhandelings met Johnson & Johnson en Pfizer reeds vrugte afgewerp, het die minister gesê. Onderhandelings vorder ook met veral Sputnik (Rusland) en Sinovac (China), asook met Sinopharm-entsof van China.
Suid-Afrika het volgens die minister reeds 31 miljoen dosisse van Johnson & Johnson verseker.
Topamptenare van die gesondheidsdepartement het gesê die keuse van entstowwe word bepaal deur die betrokke entstof se veiligheid, gemak van gebruik, stabiliteit terwyl dit geberg word, beskikbaarheid, koste en goedkeuring deur die tersaaklike gesondheidsowerhede.
Dinsdagmiddag teen 12:00 was 244 907 gesondheidswerkers landwyd reeds ingeënt.
Navorsing toon die absoluut oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners wil slegs ingeënt word met entstof wat deur die gekwalifiseerde owerhede goedgekeur is.
Voorts toon navorsing ouderdom is die grootste gevaarfaktor wanneer die virus opgedoen word, gevolg deur diabetes, tuberkulose (TB) en MIV/vigs.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
As dit op skedule gebeur, eet ek my hoed op.
“Die regering is van plan om ALLE Suid-Afrikaners ouer as 60 jaar in te ent”. Nie hierdie een nie. Gaan blaas doppies, Dr. Mkhize!
Dat inperking geen doel dien nie behalwe om meer as dertigmaal meer skade as die virus te doen en dat kenners voorspel dat talle meer mense weens newe-effekte van inentings gaan sterf as wat enige opvolg-golwe ooit kan veroorsaak word voortgegaan om verarming te bevorder om die koffers van die vervaardigers en verspreiders van die inspuitings en toetsstelle te vul.
Waar is die gesondheidswerker se handskoene? Ek let op dat die inspuiting altyd aan die agterkant van die arm gedoen word, uit sig van die kamera.
17 Mei en 1 Augustus van watter jaartal?