Ouerpaar bly hoop ondanks 8-jarige se skokdiagnose

Liané Jacobs (Foto: Verskaf)

’n Ouerpaar van Klerksdorp in Noordwes sukkel om kop bo water te hou noudat hul agtjarige dogtertjie weer eens dringende mediese behandeling nodig het. Die kind gaan al sedert haar geboorte van die een na die ander hospitaal.

Liané Jacobs is met geen anus, geen tragea, een nier, ’n vernoude slukderm en skoliose gebore – nuus wat as ’n groot skok vir Danie en Corrie Jacobs gekom het aangesien hulle eers by Liané se geboorte van haar erge mediese probleme uitgevind het.

Boonop behoort die gesin ook nie aan ʼn mediese fonds nie en het Liané se skokdiagnose saam met ʼn donker wolk van finansiële swaarkry gekom.

Danie, Liané se pa, het Woensdag met Maroela Media gesels oor die pad wat hulle die afgelope agt jaar met Liané loop. Hy sê ondanks Liané se talle abnormaliteite het dié pad eers in November verlede jaar werklik ’n opdraande stryd geword.

“Sy het so normaal as moontlik grootgeword en ons kon haar na ’n gewone skool toe stuur. Sy het maklik ingepas. Sy is super slim en baie geliefd by haar skool,” sê hy trots.

Danie verduidelik dat Liané se anus sedert geboorte herstruktureer is en sy was nog nooit gepla dat sy nog altyd ’n doek moes dra aangesien sy geen beheer oor haar maag het nie. “Sy kan alles self doen en hanteer dit so goed en het geleer om haar eie doek aan te sit. ”

Selfs ná ’n opehartoperasie vroeër verlede jaar het die klein vegtertjie vasgebyt en was sy binne ses dae terug by die huis.

Liané se gesin by haar siekbed. (Foto: Verskaf)

Maar in November het die mediese uitdagings lewensbedreigend geword. Danie vertel dat Liané ewe skielik begin siek voel het waarna hulle ontdek het dat haar enigste nier aan die versaak is.

Sy moes noodgedwonge dialise ontvang en ’n onderwyseres het aangebied om Liané op haar mediese fonds te sit. Die behandeling kan egter steeds nie gedek word nie aangesien sy in haar eerste jaar by die mediese fonds is en dekking nié gedurende hierdie tydperk toegestaan word nie.

Weer eens is Liané aan die einde van verlede jaar in ’n staatshospitaal opgeneem om dialise te ontvang. Dit is hiér waar Liané een aand nie asem kon kry nie en vir ’n ruk lank sonder suurstof was voordat dokters by haar uitgekom het. Liané is gevolglik ook serebraal gestrem gelaat.

Kort daarna het Liané ook inwendige bloeding opgedoen en dokters moes spook om ’n plek aan haar lyf te kry waar die dialise sal werk as gevolg van bloedklonte. Om sake te vererger kan ’n serebraalgestremde pasiënt in ’n staatshospitaal glo nié dialise ontvang nie, sê Jacobs.

Die ouerpaar moet dus noodgedwonge geld insamel sodat Liané van volgende maand dialise in ’n private hospitaal kan ontvang.

“Ons kan net bly hoop,” sê hy. “Daar is ’n klein verbetering ná haar breinskade. Al is dit ’n naald in ’n hooimied, dit is daar.”

’n Verslae Jacobs erken hy weet nie hoe om die afgelope tyd se gebeure te hanteer nie, “maar jy moet net”.

“Ons moet dit maar net dag vir dag vat. Jy sit alles in want dit moet net oukei wees.”

Op Maroela Media se vraag oor wat sy wens vir sy blondekopdogtertjie is, antwoord ’n emosionele Jacobs: “Ek weet die Here het ’n plan en ’n doel hiermee. Ek bid nié dat alles doodnormaal moet wees nie, maar ek bid vir die moed en geduld om dit vir haar so gemaklik as moontlik te maak. Ek wil haar net so graag nie verloor nie.”

Bydraes vir Liané se mediese onkoste kan op die ClicknDonate-webtuiste gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Maritza ·

Sterkte vir die ouers en mag die dogtetjie die nodige hulp kry wat sy verdien….

Ouers , dis baie belangrik om jou kind op ‘n medies te he, mens kan nie meer in vandag se tyd staat maak op ‘n staatshospitaal vir goeie behandeling nie.

Santjie ·

Maritza ja… maar ongelukkig as mens finansieel sukkel kan dit nie gebeur nie, al wil mens hoe graag. Jy kan nie bloed uit ‘n klip tap nie.

Adele ·

Marita, ek glo almal hoor en verstaan wat jy probeer sê, maar ja almal is nie in die posisie om ‘n medies te bekostig nie. My broer en sy vrou is sendelinge. So hulle werk vir die Here. Sy seun gaan dag na dag agteruit oor dokters nie kan vasstel wat fout is nie. Maar weet jy ten minste is hy in ‘n hospitaal al is dit ‘n staats hospitaal. Hou op oordeel

legens ·

ek as liefdevolle werkgewer sou al lankal my werker se seun gehelp het .

zeno ·

Maritza: Almal kan nie medese fondse bekostig nie. Daar is baie staats hospitale wat uitstekende diens lewer.

Linda ·

Baie sterkte mamma en pappa. Mag God jul hierdeur dra en ons vra vir beskerming.

ERIKA ·

GOEIE MIDDAG

DIE LINK WERK NIE. WAAR KAN MENS MEER INLIGTING KRY AANGAANDE DIE SKENKINGS.

Corrie ·

MS L JACOBS
1508278391
Branch code 470010
Capitec bank
Baie dankie vir almal se goedhartigheid, dit word opreg wardeer

Marinda Hattingh ·

Danie en Corrie, jul kinders is pragtig, en jul is ñ inspirasie met jul geloof, hoop en blymoedigheid. Baie sterkte, ek weet die HERE sal uitkoms gee.

LD ·

Ai mense dis verskriklik! Ek wil net baie baie dankie sê aan die onderwyseres wat haar hart oopgemaak het en aangebied het om die pragtige dogtertjie op haar mediese fonds te sit! Die Here sal jou seën!!! Dis jammer dat dit nie nou al gedek kan word nie maar tenminste is daar nou hoop! Ek bid vir julle!!!

Marinda ·

Danie en Corrie. Sterkte vir julle en julle familie. Onthou terwyl daar lewe is, is daar hoop. Glo net dat God ñ uitkoms al bring.

HK ·

Clickndonate vat 15% van elke betaling! Daar moet n ander manier wees om n donasie te maak?

Mina Moo!! ·

Danie en Corrie ons bid vir julle dogtertjie ons het jul bankbesonderhede en sal bydrae maak

Magaretha van heerden ·

Ek is so jammer vir die ouers. Ken hulle nie maar huil oor dit wat ek sien. Sterkte vir julle. Hy sal julle nooit begewe of verlaat nie Vertrou op Hom en weet Hy is met julle.

Nettie ·

Dagvaar daardie staatshospitaal, Dokter Aaron Motsoaledi en die Departement van Gesondheid – dit is die dokters en verpleegpersoneel by daardie staatshospitaal se skuld dat jul kind serebraal gestremd is. Daar is heelwat prokureurs wat so ‘n saak pro bono sal aanvaar.

My mening ·

Ai, en ons kan so kla en baklei oor alles en met almal, terwyl hierdie mense so bitter swaarkry. Baie sterkte vir julle, ons bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.