Ouerpaar desperaat vir antwoorde oor 3-jarige se raaiseltoestand

Klein Lukas Etzebeth (Foto: Verskaf)

Die driejarige Lukas Etzebeth van Roodepoort in Gauteng het al meer mediese prosedures en toetse in sy kort lewe ondergaan as wat die meeste mense in ’n leeftyd doen – en steeds het sy ouers geen antwoorde oor wat met presies met hul kleuterseuntjie fout is nie.

Klein Lukas is op die ouderdom van drie maande met bloeding en vog op die brein gediagnoseer. Sedertdien is die kleuter al verskeie kere in die hospitaal opgeneem en wend sy ouers hulle van die een dokter na die ander, op soek na ’n moontlike verklaring vir hul kind se toestand.

“Ons was seker al by sewe hospitale en het nog steeds nie ’n antwoord nie,” het Janine Etzebeth, Lukas se ma, Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê.

Etzebeth en haar man, Koos, het voor die skokdiagnose in Potchefstroom gewoon waar sy by die Noordwes-Universiteit (NWU) gewerk het en pas met haar doktorsgraad in onderwys begin het. Hul lewe het egter onverwags handomkeer verander toe hul enigste kind siek word.

’n Emosionele Etzebeth vertel dat sy genoodsaak was om uit haar werk te bedank sodat hulle Johannesburg toe kon verhuis waar Lukas nader aan dokters kon wees.

Lukas is sedertdien met alles van longontsteking, varkgriep tot virale infeksies binne die eerste jaar van siekte in die hospitaal opgeneem.

Op vyf maande moes Lukas ’n breinstent kry om die vog op sy brein te dreineer. Volgens twee neurologiese spesialiste sou die vog vanself opklaar. “Die risiko om die stent nou te verwyder is egter net te groot en daarom loop Lukas steeds met die stent,” vertel Etzebeth.

Klein Lukas Etzebeth (Foto: Verskaf)

Sommige dokters het hom later met epilepsie gediagnoseer, net vir ander dokters om later te bevestig dat hy nié aan epilepsie ly nie en hy onnodige medikasie voorgeskryf is.

Dokters kon later vasstel dat Lukas ook gebore is met ’n onderontwikkelde lugweg wat asemhaling bemoeilik het. Dit beteken dat sy lugweg toeswel indien hy ’n virus sou opdoen.

Nog ’n dokter het in Maart verlede jaar prosedures aanbeveel om vas te stel of Lukas ook ’n obstruksie in sy maag het, aangesien hy erg opgooi en stik. Sy tongetjie is gevolglik tydens die prosedure geknip.

Dokters het ook vasgestel dat hy ’n gaatjie in sy verhemelte het. Dokters wou dus ook hê dat sy kakebeen geopereer word omdat sy tong aan sy tandvleis vassit. ’n Kaakspesialis het egter later dié prosedure afgekeur en as onnodig bestempel.

“Ons weet nie wie om te glo nie,” sê Etzebeth.

Lukas sukkel ook met sy bene wat spasties is en nie kan buig nie. ’n Neuroloog het vermoed dat hy ’n moontlike genetiese afwyking het. Nadat derduisende rande se genetiese bloedtoetse oorsee gedoen is, het dié toetsuitslae normaal – en sonder enige antwoorde – teruggekom.

“Die dokters beskryf almal sy toestand as ’n interessante geval en ’n uitdaging om ’n regte diagnose te vind,” vertel Etzebeth. “Ons is vrek bang en al die prosedures waarvoor hy narkose moet kry, is traumaties.”

Lukas ontvang tans fisioterapie by die huis nadat sy bene met botoks ingespuit is. Dié prosedure het gelukkig vrugte afgewerp en hy kan al teen iets leun sonder om te val. Hy sal ook binnekort met spraakterapie begin.

Klein Lukas Etzebeth (Foto: Verskaf)

“Al sy motoriese vaardighede is baie agter. Hy sukkel om te kommunikeer en kan nie praat nie. Hy kan nie loop of kruip nie,” sê Etzebeth. Lukas kan ook nog nie self eet of growwe kossoorte inneem nie, aangesien hy maklik verstik.

“Ek gaan maar op moederlike instink as hy iets nodig het.”

Etzebeth se wens vir haar blondekop-seuntjie is dat hy eendag sal kan loop, praat en ’n normale kind kan wees. Sy vertel dat dit vir haar hartverskeurend is wanneer die kinders in hul familie op die gras baljaar en klein Lukas nie kan verstaan waarom hy nie mag saamspeel nie.

“My grootste vrees is dat hy eendag moet skool toe gaan en iemand anders na hom moet omsien. Ek is net baie meer gerus om self na my kind te kyk. Ons is net te bang,” sê sy.

Lukas se onverklaarbare toestand bied ook vir die gesin ’n groot finansiële uitdaging. Etzebeth vertel dat die gesin onder meer sukkel om die mediese fonds sover te kry om uit te betaal. ’n Trust is gevolglik gestig waardeur geld vir Lukas se mediese onkoste ingesamel word.

Besoek gerus dié Facebook-hulpblad vir inligting oor Lukas se vordering of om ’n finansiële bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Mark ·

Water-of-Life-Treatise on-Urine Therapy by John W.Armstrong-1971

GM ·

Wat ‘n pragtige seuntjie. Ek hoop jul kry gou antwoorde, en dat jul seuntjie binnekort sal kan rondhardloop. Wonderwerke gebeur elke dag. God bless.

Bekommerde mamma ·

Self n mamma van n drie jarige kan ek my die seer en hoekoms nie eens begin indink nie! Wat vir my wel al meer opvallend is, is hoe meer vaksienes ons ons kinders gee, hoe sieker raak hulle?! Al meer onverklaarbare siektes toestande, skielike dood in babas en kleuters, regressie na ente, allergië en kankers in kinders, ekseem, autisme, ag die lysie hou nie op.

Ons het sowat 5 of iets vaksienes gehad as kinders, deesdae is dit sommer 8 in 1 op n slag. Die slimmes sê ons doen die regte ding om ons kinders te “beskerm”, maar as n mamma wonder ek is ons nie besig om n hele generasie te vernietig nie? Blyk al wie voordele trek uit die vaksienes en siek kinders is die mediesie wat met elke ent n pasient vir jare om te kom bykry. Net iets om oor te dink…want die mamma wonder al n geruime tyd!

Leoni ·

Die rede dat daar meer soorte inentings saam gegee word is omdat die inentings, en navorsing daaroor, baie beter is as jare gelede. Daar gaan nog te veel kinders dood of word blyvend invalide deur siektes waar daar inentings vir gegee word, maar die ouers kies om hulle kinders nie in te laat ent nie. Dit is altyd goed om vrae te vra, maar stel die vrae aan mense wat daarvoor opgelei. Daar is geen ‘conspiracy’ om kinders siek te maak sodat mense geld kan verdien nie.

Roux ·

Jy is heektemal reg. Kinders se systeem kan nie al daai vaksienes hanteer nie. Die probleem is ook die middels wat gebruik word om die vaksienes lewendig te hou. Ons kinders word met 9 verskillende verswakte siektes ingeent en die dokters vertel ons dis goed. My logika vertel my anders

Estelle ·

Gaan lees gerus net 1 enkele “vaccine insert” DEEGLIK deur. Jy sal nie weer dat jou kind ñ enting kry nie. Dit gaan nie oor “conspiracy theories” nie, dit gaan oor reuse hope geld wat daar te maak is. Dit wat op die SA mark beskikbaar is, is meestal die uitskot wat ander lande nie wil hê nie. 7 kinders, 2 al hul immunisasies tot op die letter gekry, die sieklikste kinders. Ander 5 wat nie verby ñ spuitnaald geloop het nog nie… blakend gesonde kinders.

Theresa ·

Dankie tog vir die een spesialis wat al die voorgestelde onnodige prosedures afgekeur het!!
Gelukkig is Mamma hoogs gekwalifiseer in die onderwys en indien moontlik tuisonderrig kan aanbied vir hierdie karnallie.
Ek hoop daar is ‘n top-spesialis (kinderarts en/of internis) wat hierdie saak graag wil help oplos. Die kindjie is al behoorlik voos geskat wat fout kan wees. Sterkte aan die outjie en sy ouers.

Roux ·

Jyt nie hoë kwalifikasies nodig om logies te dink nie. Kwik en silver wat in vaksienes gebruik word is goed vir geen mens nie. Dit gaan probleme veroorsaak.

Lorrabel ·

Ben ek stem! Rooikruis kinderhospitaal is uitstekend vir uitsonderlike gevalle. My seun is self met ‘n gebrek gebore en na hy deur verskeie hospitale weggewys is , het hy hulp by Rooikruis Kinderhospitaal gekry. Hy is vandag ‘n normale tiener.

Vlam ·

Sterkte vir julle
My ouers het self met my as kind gesukkel en op die einde het ‘n homopaat agtergekom wat is fout, na hulle by hoeveel ander persone en hospitale was

Ook maar net n ouer ·

Skalel Dr Lessing en of Dr Vermaak In Bethlehem mense van oor die land gaan na hom toe.
altwee help gereeld by Gauteng Hospitale.
Hul my kind se lewe gered.

Hester de Bruin ·

Gaan Gardencity toe Dr Kritchener beste dokter ooit my uit die dode gered na niemand my kon help ek vertrou hy kan jul help

VanAfrika ·

Of Dr Bartlett in Garden City clinic, ek dink Dr Naidoo praktiseer ook daar by Dr Bartlett, het n kind van n gewisse dood gered op daai groot masjien wat mense bloed uit jou liggaam dreineer en weer terug pomp om van virusse ontslae te raak. Dit sal help vir hulle opinie, maak regtig daar n draai.

Lorraine ·

Kan met n besliste hart, dr Tony Alden by Montana in Pretoria aanbeveel! Sterkte vir julle!

Lorraine ·

Vergeet om te se, min weet van dit… Maar indien jul n mediese fonds het kan jul op die internet kyk vi pmb, dis n lys van siektes wat 100% gedek moet word vlg wet

Chantel ·

As die kondisie n pmb kondisie is ja … maar die ouers weeg nie eers wat die kondisie is nie so die fonds sal hulle nie dek nie .. dig moet een van die 270 pmb kondisies wees wat die wet se en daar moet brwyse wees soos bloed toetse of x strale ens om die kondisie te bevestig …. maar gaan na die dr’s toe toe wat voor gestel was klink my die mense se lewens het verander deur hulle dr’s en baie sterkd met u seuntjie

Francie ·

My hart gaan uit na hierdie ouerpaar.
Mag julle spoedig ‘n diagnose kry.

Hermien Pienaar ·

Is dit nie moontlik dat dit ‘n vorm van Hidro-kefalie kan wees nie?

Sonja ·

Gaan google brainchildfund.org. Daar’s ‘n praatjie 22 Nov in Rivonia, wat verduidelik wat hul doen en watse resultate jy kan verwag. Ek kan hul persoonlik aanbeveel!

CR ·

Ai, al die anti-vaxxers maak my moedeloos. Jul stel die res van die samelewing in gevaar deur jul amateuragtige self-navorsing. Ek rol maar net my oë.

Katerina ·

Ons samelewing is reeds in sy dinges in, dis Suid Afrika. Mens probeer die beste vir mens se kinders doen. Maroela lesers – google bietjie ” vax Autism link” Amerika gaan gebuk onder n plaag van outisme onder hulle kinders. Baie mense vermoed die vax het veel daarmee te doen.

Blase ·

Vermoed en WEET is twee verskillende dinge. Die wet moet gewysig word om mense wat nie hulle kinders vaxinate nie, krimineel aan te kla. Dit is onkunde op sy hoogste vlak.

Wonder net ·

Enigeen wat al enige navorsing oor vaksienes of die siektes waarvoor dit is gedoen het sal nooit weer ñ naald naby hul of hul kinders toelaat nie. Waterpokkies is nie dodelik nie, masels ook nie, duitse masels ook nie ens ens. Dis gewone kindersiektes wat maklik behandel kan word. Niks om te vrees nie. As vaksienes werk, hoekom sien jul ‘anti-vaxxers’ as gevaar? Jy is mos ingeënt? En gesonde kinders kan nie allerhande siektes versprei nie…

Maklike goedjies ·

Daar is maklike goedjies wat jy self kan doen, terwyl jy nou reeds self na hom omsien. Borsel hom byna uurliks ‘n bietjie oor sy hele lyfie, arms en bene met ‘n sagte skoenborsel. Doen oefeninkies, google, brain injury exercises, voeg elke dag 1-2 kleins tukkies growwer by sy kossies. Print vir hom brein stimulasie prentjies en wys dit meermalle per dag vir hom. Rol hom op ‘n groot ronde bal. Die goed is alles verniet en dit werk proven van ‘n baba tot ‘n ou mensie. Dit klink soos ‘n familie geval, ligte epilepsie & bietjie breinskade, hy kan ‘n baie na aan normale lewe lei, dit hang van jul as ouers af hoeveel tyd jul insit.

Karen ·

Ek sou beslis Dr Jaques du Plessis by Eugene Marais aanbeveel en word beskou as die een van die beste neurochirurge in die wêreld. Hy was vir 24 jaar my man se dokter en hy het 13 suksesvolle stent vervangings gedoen. Dr Willie Sieling by Pretotia Oos is die beste in virale en bakteriese infeksies. Hoop van harte die gesin kry die regte huplp. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.