Ouerpaar gebroke oor seun (20) se ‘wrede’ dood

Adriaan (Foto: Facebook)

ʼn Egpaar van Beyerspark in Boksburg aan die Oos-Rand is stukkend oor die “wrede wyse” waarop hul 20-jarige seun die afgelope naweek van hulle af “weggeruk” is nadat ʼn motor glo teen ʼn hoë spoed van agter in hul seun vasgery het.

Peet Booysen het Donderdag aan Maroela Media vertel hy en sy vrou, Landa, kan steeds nie sin maak van die feit dat hul seun, Adriaan, nié weer gaan terugkeer huis toe nie.

Volgens hom was Adriaan Saterdagaand kort voor die noodlottige voorval saam met sy suster by ʼn kuierplek in Boksburg. Die egpaar sê Adriaan en ʼn vriend wat hy by die kuierplek ontmoet het, was besig om snoeker te speel toe Adriaan opgemerk het dat sy suster nie meer by dieselfde kuierplek is nie.

Die twee jong mans het glo in hul motor geklim om haar by ʼn ander kuierplek in dieselfde dorp te gaan soek toe hul motor langs die pad ʼn pap band gekry het.

“Hulle het by ʼn verkeerslig in North Randweg stilgehou nadat hulle opgemerk het dat die motor ʼn pap band het,” sê Booysen. “ʼn Man het eers by hulle stilgehou en gesê hy gaan hulle kom help sodra hy ʼn alarm afgesit het. Hy het toe weer gery. In die kringtelevisiebeeldmateriaal sien jy hoe Adriaan dan uit die voertuig klim en die kattebak oopmaak om die spaarband uit te haal waarna ʼn ander voertuig van agter af in hom vasry. Dit is verskriklik ontstellend. Daardie voertuig het teen ʼn ontsettende hoë spoed gery en dit was ʼn geweldige slag; soveel so dat die ander motor op sy dak beland het. Ná die ongeluk was hy vir langer as 40 minute onder die motor vasgekeer.”

Booysen sê hy en Landa was baie bekommerd toe Adriaan nié terugkeer huis toe nie. Die egpaar het hom glo Saterdagaand gaan soek, maar kon nie daarin slaag om hom op te spoor nie. Booysen het hom Sondagoggend as vermis aangemeld en die egpaar het dieselfde dag ook probeer vasstel of hy in ʼn hospitaal in die omgewing opgeneem is.

Volgens Booysen is Adriaan in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg opgeneem. Hy sê hulle was nié voorbereid op die slegte nuus wat op hulle gewag het nie. “Toe die personeel aan ons bevestig dat hy wel in die hospitaal is, wou ons hom dadelik sien. Teen daardie tyd was sy bene reeds geamputeer en hy was nie by sy bewussyn nie. Die dokters het gesê hulle kon hom sedert hy opgeneem is nog nie stabiliseer nie. Hy het erge bloeding op die brein gehad en boonop baie bloed verloor.”

Die vriend saam met wie Adriaan gereis het, is glo ook gehospitaliseer weens veelvuldige beserings en kon daarom nie met die Booysens in kontak tree nie.

Adriaan saam met sy jonger boetie (Foto: Facebook)

Adriaan is Sondagaand kort voor middernag dood nadat sy hart gaan staan het. Dokters kon nie aan die egpaar bevestig hoe die pad vorentoe sou lyk indien hy wél sou stabiliseer en gesond sou word nie. “Ons het nie geweet waarvoor om te hoop nie; of hy dalk verlam sou wees of totale breinskade sou hê as hy wakker word en of hy ooit weer ʼn normale lewe sou kon hê nie. Maar toe word hy in elk geval weggeneem.”

Die egpaar sê hulle probeer “vorentoe kyk” ter wille van hul nege maande oue baba, maar is gebroke oor Adriaan se dood. “Ons weet nog nie wat om te sê, te doen of hoe om dit te verwerk nie. Dis ʼn geweldige seer.”

ʼn Naby familielid van die Booysens het op Facebook geskryf: “Adriaan mag jy rus in vrede. Jou boetie soek jou elke dag; hy loop na jou kamer toe en hy wil hê jy moet met hom speel, maar jy is op ʼn wrede manier weggeneem van die aarde af. Ons sal jou nooit vergeet nie, jy was jou ma se lewe en jy sal voortleef in ons almal se harte. Lief vir jou.”

Die egpaar werk saam met die polisie terwyl ʼn ondersoek voortduur. Drie insittendes in die motor wat Adriaan getref het, is volgens Booysen ook in die voorval beseer. Volgens hom is die passasiers ʼn jong man wat ʼn maagbesering opgedoen het en twee jong vroue wat albei beserings aan hul hande en gewrigte opgedoen het. Meer inligting was nie aan hom bekend nie.

Booysen sê Adriaan sal Vrydag in Boksburg begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Leo ·

Bitter hartseer. Sterkte aan die familie. Net God kan vertroosting bring in hierdie donker tyd.

Zettie ·

Wat ‘n pragtige seun was die jong man nou nie????? Ai dat hy so wreed van sy geliefdes weggeneem moes word………baie sterkte aan die familie. Mag julle die nodige berusting vind.

kotie ·

Sterkte aan die familie. Mense sluit aan by crisisoncall. Dit is maar net R119 n maand. Jy dra n bandjie om jou arm met n nommer. As jy in ongeluk of watookal kom gebeur. Sal die nood personeel dadelik hulle bel en al jou besonderhede hê. Jou familie word onmiddelik inkennis gestel. My hart gaan uit na die ouers.

Oom Kalahari ·

Ai dit moet ‘n harde slag en hartseer tyd wees vir die Booysen familie. Veral om jou kind in sulke omstandighede te moet vind. Adriaan se lewe is op ‘n jong ouderdom van hom ontneem en wens jou Rus en Vrede in God’s huis. Hoop die Ouers, familie en vriende verenig in hierdie tyd van rou tot ondersteuning en almal kan hierdie groot verlies verwerk en jul harte heel. Ons gebede gaan uit aan jul en wens jul sterkte toe op jul pad vorentoe. “God’s Seeninge” aan jul almal.

Blommie ·

Dis tragies en my hart gaan uit na die gesin. Wonder net waar is die sussie toe gevind en kon hulle die ander motor se bestuurder ondervra

Rob ·

En die person wat hom dood gery het gaan daarmeer weg kom. Dis hoe dit werk in SA.

Marisa ·

Aai aai my hart klim uit my borskas en die trane die loop na hierdie berig!Sterkte aan Mamma en Pappa en kleine boet en sus!!!Riv Adriaan en so vreeslik jammer jy moes al daardie pyn en lyding deurgaan!My hart so so seer vir jou liewe Adriaan

PJC ·

ń Baie hartseer storie oor nog ń familie wat in rou gedompel is en weereens spoed, spoed en nogmaals spoed al wil mense dit nie weet nie.

Val ·

I am so sorry to read about this tragedy. May your family eventually find some peace. It is a horrible tragedy. We try so hard as parents to protect them. We do our best. Sooo sorry. Have strength good people.

Linda ·

So n pragtige jong seun in die fleur van sy lewe weg geruk deur n onverskillige spoedvraat, vandag is jy n mooi blom in Jesus se tuin. Mag jou ouers en familie berusting vind.

Wonder ·

Mag die Vader julle die wysheid en insig gee om deur hierdie baie seer tydperk te kom. Ek huil saam met julle.

Erika ·

So mooie kind, rus sag,. Baie sterkte aan die familie. Woorde ontbreek my heeltemal!

Veer ·

Dis so bitter hartseer, hierdie gesin se lewens gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sterkte aan sy ouers en veral sy sussie, mag elkeen van julle krag van bo kry om hierdeur te werk. Rus in vrede Adriaan.

Nastasha ·

Die trane loop sommer want ek is self n mamma , mag die Here julle dra in hierdie beproewing van pyn wat julle deur gaan….Mag God elke traan afvee wat julle huil oor julle pragtige seun.

Myna ·

‘n Pragtige seun, sy gesig bly in my gedagtes. Mag God se genade met jul wees en Hy jul dra in Sy hande want ek weet nie hoe anders gaan mens aan nie. Baie sterkte, Weet asb dat so baie mense vir julle bid en saam met julle in hul harte huil.

honourable member ·

Sterkte vir die familie. Hierdie pragtige kind verdien nie om op so manier te sterf nie maar ons sal nooit verstaan hoekom dit so moes gebeur nie. RIV

Meraai ·

Wat n mooi kind,wie se lewe so gou weg geneem is! Sterkte aan die ouers,familie en vriende.

rita snyman ·

daar is geen woorde wat die hartseer en verlies kan beskryf nie mag dieGroot Meester help om die pyn minder te maaken te troos

Gesiggie ·

Aan hierdie Ma en Pa… ek huil saam jul, jul het n pragtigge seun verloor… en dit deur iemand wat n spoedvraat is? n deel van jul lewe is weg, maar weet God het n beter plan vir Adriaan….Hy het hom gespaar om vir die res van sy lewe in pyn te wees… waar hy nou is, is daar geen Pyn of Leiding…en om te dink arm klein Baba boet wat nou soek na sy boetta… dit is so hartseer… ek hoop die persoon wat verantwoordlik was vir dit wat gebeur het, sal voel hoe dit voel, om deur pyn te gaan , sy beserings kan genees… maar die seer wat die ouers moet deurmaak en al die verlange, sal altyd daar wees,,, Sterkte aan jul as ouers, sy Familie en vriende… RIP Adriaan….

Meegevoel ·

Almal geliefdes van Adriaan… hou mekaar styfff vas dae sal daar wees wat alles stilstaan dis wanneer ons SY genade ontvang om wéér te kan vorentoe. Kinders asook geliefdes word vir ons geleen koester mekaar tyd bring STADIG maar seker weer lewe in alles wat nou dood voel. STERKTE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.