Ouerpaar het talle vrae oor ondersoek na dogter se moord

Die moord op ds. Liezel de Jager het skokgolwe deur die land gestuur. (Foto: Verskaf)

Meer as anderhalf jaar ná die moord op ds. Liezel de Jager worstel haar ouers nie net met talle vrae oor wat presies op die betrokke dag gebeur het nie, maar ook oor die ondersoek na haar moord wat sloer.

Liezel is die oggend van 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

“Aan die begin het dit redelik orraait gegaan en ons is deurlopend op hoogte gehou,” sê Henk van Zyl, Liezel se pa. Dit het egter vinnig verander en nou het hy en sy vrou, Salomé, maande laas enigiets van die polisie gehoor oor vordering met die ondersoek na hul geliefde dogter se moord.

Dit blyk dat belangrike forensiese bewyse nog nie verwerk is nie en dat die artikel 205-aansoek verval het en oorgedoen moet word. Hiervolgens kon inligting ingesamel word van belangrike bewysstukke soos selfone, skootrekenaars en Liezel se slimhorlosie.

“Nou is ons weer terug by die begin,” sê Van Zyl. “Ek het al twee keer ʼn pleidooi aan die polisie se hoofkantoor gerig om die ondersoek van KwaZulu-Natal na die spesiale ondersoekeenheid by hoofkantoor oor te plaas aangesien ek en my gesin vertroue in die polisie in KwaZulu-Natal verloor het.”

Ondanks ʼn ontvangserkenning van sy besware het Van Zyl weer niks teruggehoor nie. Nadat hy in Desember weer navraag gedoen het, moes hy met ʼn skok uitvind dat die verslae van ʼn poligraaftoets en die lykskouing ook steeds nie beskikbaar is nie.

En van daar af het hulle nog niks weer van die polisie gehoor nie.

Henk en Salomé van Zyl, Liezel se ouers, wag steeds op antwoorde oor haar raaiselmoord. (Foto: Verskaf)

Daar is nog iets wat Van Zyl, ʼn oudpolisielid, bekommer. Hy en sy vrou het – nadat hulle van die moord op hul dogter verneem het – dadelik van Bloemfontein na Amanzimtoti gery. Hulle was binne ure daar.

Van Zyl was erg verbaas, want dit het gelyk of die toneel reeds opgeruim was. Daar was nie ʼn druppel bloed nie en dit het nie eens gelyk of die polisie daar was nie. Die toneel is nie afgesper nie en dit blyk daar is ook nie ʼn behoorlike ondersoek van die huis gedoen nie.

“Ek het onmiddellik vrae gevra en daar is ʼn sekere narratief gedryf. Die polisie het ook reeds ʼn teorie gehad. Ek was besorg dat die maklike uitweg gekies word en ek het die polisie gevra om die net wyer te span. Dit het egter later net begin stil raak.”

Van Zyl het die drukgroep Action Society in Oktober verlede jaar gevra om die saak op te volg en te monitor.

Ds. Liezel de Jager. (Foto: Verskaf)

Volgens Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sal daar nou ander opsies oorweeg word om die polisie sover te kry om vordering te maak in die ondersoek.

“Die hele saak is pateties hanteer. Ons kry meestal baie goeie samewerking met die polisie op grondvlak, maar in dié geval net mooi niks nie. Daar word beloftes gemaak, maar daar gebeur niks verder nie. Dit is bitter, bitter frustrerend.”

Die moord op Liezel het skokgolwe deur die land gestuur. Geen van haar besittings is tydens die moord gesteel nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Maroela Media het destyds berig Liezel se man, Werner, het kort ná die moord verdwyn. Die wewenaar is later in ʼn bedenklike toestand in sy motor in ʼn suikerrietplantasie in Illovo-suid gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Weet nie hoe lank dit SAPS gaan vat om te besef dat dit haar man was wat haar vermoor het nie, maar nou dis wat gebeur as jy onbevoegdd is om jou pligte uit te voer.

Koen ·

Ek kan jou dalk klaarmaak vir ‘n laster eis. En as jy bewyse het en nie na vore gekom het nie, is jy net so skuldig.

OU SAAR ·

Ons het die pragtige Ds. Liezel persoonlik geken. Sy was vir 8 jaar ons predikant op Kanoneiland, Noord Kaap. Haar dood het almal geruk tot in die siel toe in. Ons sal ook graag die saak afgehandel en opgelos wil hê…
Dit laat mens egter wonder hoekom die saak so sloer? ????
Kry vir Mike Bolhuis om oor te vat. Dalk word daar dan resultate gekry en kom daar iets van.

Minnie ·

Die slagoffer is nie belangrik genoeg vir Cele nie….net nog n witmens. Dit breek ons harte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.