Ouerpaar, kind (3) tydens kaping gered

Foto: Verskaf.

Die polisie in Bergville, KwaZulu-Natal, kon daarin slaag om ʼn gesin te red wie se voertuig deur drie gewapende mans gekaap is.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Maandag in die Geluksburg-omgewing plaasgevind.

“ʼn Paartjie en hul driejarige kind het in die omgewing in hul VW Polo gereis toe hulle deur gewapende kapers gekaap is. Die kapers het glo die slagoffers by hul voertuig ingeboender en in ʼn konvooi met hulle weggery. Die paartjie kon daarin slaag om die polisie in kennis te stel,” het Mbele gesê.

Volgens Mbele is die verdagtes onmiddellik deur die polisie  voorgekeer en het daar het ʼn skietgeveg uitgebreek. “Een verdagte is beseer en onder polisiebewaking na die hospitaal geneem,” het Mbele gesê.

Mbele kon nie onmiddellik bevestig presies hoe die gesin die polisie so vinnig kon kontak nie.

Foto: Verskaf.

Daar is beslag gelê op ʼn pistool, die slagoffers se voertuig, die verdagtes se voertuig wat na verneem word gesteel is, asook dagga.

Die polisie ondersoek aanklagte van kaping, poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die besit van dagga.

“Die vuurwapen waarop daar beslag gelê is sal nou vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in die pleeg van enige ander misdade gebruik is,” het Mbele gesê.

Die gesin is ongedeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.