Ouerpaar vra gebede na fratsongeluk

Adriaan van Niekerk. Foto: Verskaf

Adriaan van Niekerk. Foto: Verskaf

ʼn Ouerpaar van Pretoria het mense versoek om vir hul seuntjie, wat twee en ʼn half jaar oud is, te bid nadat hy ernstige kopbeserings opgedoen het in ʼn fratsongeluk.

Volgens Letitia van Niekerk, klein Adriaan se ma, het sy Donderdagoggend in trurat met haar motor uit die oprit van hul huis in Sinoville, noord van Pretoria, gery. “Die deur het oopgegaan en Adriaan het uitgeval. Dit was ʼn fratsongeluk.”

Adriaan het ernstige kopbeserings opgedoen en is na die Netcare Montana-hospitaal gehaas. “Sy toestand is steeds kritiek, maar ons sien elke dag ʼn klein verbetering. Daar is nog ʼn baie, baie lang pad om te stap, maar ons bid en hoop hy is besig om gesond te word.”

Volgens Van Niekerk is Adriaan aan ʼn ventilator gekoppel en word hy steeds onder verdowing gehou. “Die dokters doen elke dag alles wat hulle kan. Elke klein verbetering is iets positief.”

Van Niekerk het mense bedank wat vir haar en haar man, Riaan, se seuntjie bid. “Ons wil vir almal wat vir ons bid, dankie sê. Duisende mense bid vir hom en as nog duisende mense vir hom kan bid, sal dit ʼn verskil maak. Ons is baie dankbaar vir al die boodskappe, gebede en bystand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.