Ouerpare ‘gebroke’ ná dogter sterf, kêrel om lewe veg

Louis, Sammy en Michelle (Foto: Facebook)

Wat veronderstel was om ʼn ontspanne wegbreeknaweek vir ʼn jong Pretoriase paartjie te wees, het in ʼn tragedie ontaard nadat ʼn grusame botsing op die Bapsfonteinpad Michelle Brits (20) se lewe geëis het en haar kêrel, Louis Esterhuizen (23), in ʼn kritieke toestand gelaat het.

Karen Shrives Demeyere, ʼn nabye vriendin van die twee jongmense se gesinne, het Woensdag aan Maroela Media gesê Michelle en Louis was die afgelope naweek in Newcastle in KwaZulu-Natal om Esterhuizen se 23ste verjaarsdag te vier.

Die paartjie was glo Sondagaand op pad terug na Brits se ouerhuis, waar hulle tydelik gewoon het, toe die ongeluk gebeur het. Die ongelukstoneel is sowat 10 km buite Bronkhorstspruit in Gauteng – volgens Shrives Demeyere maar net ʼn klipgooi ver van Michelle se ouerhuis.

Volgens Shrives Demeyere het die paartjie net verby die weegbrug op die Bapsfonteinpad gery toe hulle reg van voor met ʼn bakkie gebots het. Twee insittendes in die bakkie, glo ʼn man en ʼn vierjarige dogtertjie, is ook dood.

Sammy, Michelle se hondjie, was saam met die paartjie in die motor ten tyde van die ongeluk. Sammy was sedert Sondagaand soek, maar is Woensdagoggend vroeg gevind.

Louis Esterhuizen en Michelle Brits (Foto: Facebook)

“Michelle se ouers, Zelda en Attie, het baie bekommerd geraak toe dit Sondag donker raak en hulle steeds nie tuis was nie,” sê Shrives Demeyere. “Hulle het egter geweet dat Louis en Michelle eers ná 16:00 uit Newcastle gery het, en dus geweet dat hulle nie vroeg gaan tuis wees nie.”

Shrives Demeyere sê Michelle se ouers is eerste van die ongeluk in kennis gesteel, waarna hulle na die toneel gejaag het. Met hul aankoms op die toneel, was Louis glo reeds in die ambulans gelaai. “Zelda het in die ambulans ingekyk om te sien wie binne is, en Michelle was nie daar nie. Sy het begin skree: ‘Waar is my kind? Waar is my kind?’ en toe na die motorwrak gestorm. Die nooddienspersoneel wou haar nie by die motor toelaat nie. Michelle was reeds dood. Zelda het net daar op die teerpad inmekaargesak.”

Volgens haar het Michelle geslaap toe die botsing gebeur het. “Haar stoel was na agter gesak sodat sy gemakliker kon sit en slaap. Ons bid dat dit God se manier was om haar die pyn te spaar,” sê Shrives Demeyere.

Louis se gesin het hulle aanvanklik tot sosiale media gewend om fondse vir sy mediese behandeling in te samel aangesien hy nie ʼn mediese fonds het nie. Hy het veelvuldige interne beserings, waaronder long- en lewerbeserings. Volgens Shrives Demeyere het Louis ook talle gebreekte bene en moes hy reeds ʼn bloedoortapping ontvang.

Shrives Demeyere sê honderde weldoeners het intussen met die Esterhuizen-egpaar in verbinding getree om geld vir sy behandeling te skenk. Louis was volgens haar al een keer in die teater, maar veg steeds vir sy lewe. “Dis vir hulle wonderlik dat soveel mense hul harte en beursies oopgemaak het dat hul seun behandel kan word. Maar diep binne hulle is maar ook steeds ʼn groot vrees of hy gaan beter word, of hy weer heel sal wees en hoe die trauma hom gaan raak.”

Louis Esterhuizen en Michelle Brits (Foto: Facebook)

Sy sê Michelle se ouers is ook dankbaar vir honderde sosialemediagebruikers wat ingegryp het om Sammy op te spoor ná die ongeluk. “Daar was baie gerugte en talle vrese dat sy dood was. Ons het egter Woensdagoggend vroeg gehoor dat sy in ʼn hondeskuiling is. Ek het Zelda gebel en sy het net onmiddellik opgewonde gegil: ‘Waar?’”

“Zelda en Michelle se jonger sussie is vanoggend na die skuiling om Sammy op te laai. Dis ʼn tragiese ding wat gebeur het en hulle gaan nog vir jare stukkend wees, maar ten minste het hulle in Sammy nou ʼn deel van Michelle terug. Sy was Michelle se lieflinghondjie, Sammy het oral saam met haar gegaan,” sê sy.

Sammy het volgens ʼn veearts wat die gesin besoek het nie enige gebreekte bene nie. Sy is reeds terug by Attie en Zelda wat haar nou gaan versorg.

Shrives Demeyere sê Michelle het baie lewens aangeraak. “Sy was ʼn giver – ons ontvang oproepe van soveel mense op wie se lewe sy in een dag ʼn blywende indruk gemaak het. Ons harte breek stukkend vir albei ouerpare. Hulle is gebroke. Ons weet hierdie seer gaan hulle nooit verlaat nie; en wanneer dit wel beter word, sal daar steeds dae soos verjaarsdae en Kersfees wees wanneer die seer van voor af in hul harte gaan nes maak. Dis ʼn tragedie.”

Beide ouerpare het versoek dat hulle in dié stadium tyd gegee word om te rou en die voorval te verwerk.

Michelle word Vrydag om 14:00 by in Bronkhorstspruit begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

judycupcake ·

Siestog die lewe is so kort dit is so hartseer my Hart gaan uit aan hulle mense darm Bly die arme Woefie is Gevind. Sterkte xxx

leser ·

meegevoel met ouers, familie en vriende, baie “sad” om van so ‘n ongeluk te hoor

Leonie ·

Ai dis so verskriklik hartseer. Sterkte aan Michelle se familie met haar afsterwe. Mag God julle styf vashou. Ek is so bly Sammy is gekry en ok. Dankie Vader daarvoor. Sterkte ook aan Louis en sy ouers. Hoop als loop goed af en dat hy ok gaan wees. Bid vir albei families xx

chris ·

dit is baie hartseer- ek is na aan trane oor die berig
alle sterke aan albei die ouer pare.
my innige simpatie en gebede met Louis. mag hy spoedig herstel

MAGGIE ·

Ek is so jammer vir beide families wat deur hierdie moeilike tyd moet gaan. Sterkte vir julle almal.Hopelik verskaf Sammy op haar manier ‘n bietjie vertroosting. So bly julle kon haar opspoor.

Rikag ·

So jammer sterkte aan albei die families mag die Liewe Vader sy hand oor julle hou.

Leon Stevens ·

Dit breek my hart. My innige meegevoel vir Louis en die families.

F ·

Al die vorige kommentare vergeet dat daar ‘n ander motor ook betrokke was. Ook met geliefdes wat dit nie oorleef het nie. ‘n Moeder en eggenoot en familie wat ook rou. Maak nie saak wie of wat die ongeluk veroorsaak het nie. Sterkte vir hul berusting.

GM ·

My innige simpatie aan Michelle se naasbestaandes. Ek hoop Louis sterk gou aan.
Die enigste ding wat my pla van die berig, is die paragraaf oor die ma se reaksie. Is dit nie so bietjie onsensitief teenoor haar nie? Ek glo nie daar is iets ergers wat met ‘n ouer kan gebeur nie, as om ‘n kind aan die dood af te staan. Dit is te verstane dat ouers histeries sal raak, en selfs omkap. Wil jy, as die slagoffer se ouer, agterna in ‘n koerant lees hoe jy gereageer het op daardie sensitiewe oomblik? Ek glo nie meeste sal wil nie?

GM ·

F, jy is reg. Teen die einde van die berig was ons aandag net gefokus op Michelle en Louis. Innige simpatie aan die naasbestaandes van die ander gesin ook.

Beesblaas ·

Ek ken dai gevoel. Dit is baie sleg. N bruin vrou het dai tyd vir my gese: ” Die hartseer raak beter, Maar die verlange raak net erger tot die dag wat mens mekaar weer sien”

Wonder ·

Mag u die krag kry om deur elke dag te kom. Geen woorde kan die seer en pyn weg neem nie.

Colleen ·

Wat ‘n tragedie. Mag God hierdie families vertroos. Sterkte vir die pad vorentoe.

Pers Heks ·

Die verskriklike hartseer!!!! My hart gaan uit na dié wat agterbly!! Regtig baie jammer!!

Clarissa ·

Deel asb die post met die bankbesonderhede. Ek het dit op sosiale media gesien, maar nou dat ons donasies wil oorplaas kry ek dit nerens nie. Groot asb.

Normandie Brits ·

Hallo Clarissa
Ek is Michelle Brits se ousus. Dankie dat jy v Louis wil help. Hier is die besonderhede:
Netcare Pretoria One
Nedbank
Acc: 1621167712
Ref: 1009600343. Baie belangrik
Mail to [email protected]
Xxxxxx

Gesiggie ·

Twee pragtigge mense…. my hart gaan uit na die Familie , en ook aan die ander mense wat in ongeluk was… dit is so hartseer dat so iets moet gebeur, en ek is so bly dat Michelle se geliefde hondjie Sammy darem gekry is, geen een sal die leemte kan vul , Louis mag jy ook gou herstel, sterkte aan al die Familie en vriende wat hul geliefdes verloor het….mag God jul troos ..

Flooi ·

Ek het dieselfde ervaar as Zelda nadat ons gehoor het ons seun is in n ongeluk en daarheen gehaas. Sterkte aan al die families. Mag God julle styf vashou

Hannelie ·

Normandie mag God jul vertroos en vashou as familie. Ek het nie woorde nie, dis ‘n verskriklike seer. Jou sussie is nog so jonk en pragtig, ons weet nie wat God se plan met ons is nie. Julle en Louis is in ons gebede. Sterkte ook aan die ander familie wat geliefdes verloor het in die ander voertuig.

Katryn ·

Sy was ‘n “giver”.
Daai een sin.
Ek ken niemand by die twee motors betrokke nie, maar hoekom gaan die “givers” altyd dood en die “takers” lewe partykeer tot 102?
Daar is soveel vieslike, misdadige, gemene mense in ons land en hulle bly leef, maar Michelle moes gaan?
Iemand met ‘n blink toekoms voor haar, wie wou trou, kinders he en saam met haar man gaan vakansie hou by Plet.
Wie net die beste wou he vir enigiemand op aarde.
Jy kan dit tog sien op haar gesiggie?
Die lewe is ongelooflik onregverdig.
My hart is seer saam met almal hier betrokke…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.