Ouerpare rou ná kinders sterf

Juané Greeff

Twee ouerpare van onderskeidelik die Vrystaat en die Oos-Kaap is in rou gedompel ná hul kinders in fratsongelukke gesterf het.

Juan (38) en Jani Greeff (28) se dogtertjie, Juané, is Donderdag op hul plaas in die Vredefortkoepel in die Vrystaat dood nadat die plaasvoorman per ongeluk oor haar gery het.

Fred en Marché Holtzhausen het op dieselfde dag hul seuntjie, Malan, aan die dood afgestaan nadat Marché hom per ongeluk doodgery het by hul huis in Graaff-Reinet, berig Rapport. Kapt. Bradley Rawlinson, polisiewoordvoerder, het gesê die tweejarige seuntjie is ernstig beseer toe sy ma agteruit gery het sonder dat sy geweet het die kind is agter haar motor. Malan is na die Midlands-hospitaal geneem, maar is met sy aankoms daar dood verklaar.

Klein Juané was baie lief vir die plaaslewe.

Herman van Wyk, Juané se oupa, het intussen aan Maroela Media gesê sy kleindogter sou volgende maand twee jaar oud geword het.

“As haar ouers in die oggend wakker word en daai pragtige mensie met die pragtige glimlag is nie meer daar nie, dan is dit baie seer en swaar.”

Die Greeff-egpaar het Donderdag inkopies gaan doen in Potchefstroom voor hulle na hul plaas Mooihoek teruggekeer het. Hulle het die pakkies begin uitlaai en Juané het ook uit die motor geklim.

Juané Greeff het ‘n glimlag op almal se gesig gesit.

“Sy het ʼn poeletjie water gesien en daar gespeel. Die voorman het van die ander kant af gekom en gesê hy gaan gou van die werkers aflaai. Hulle [die ouers] het eers besef hy gaan dadelik ry toe die bakkie aangeskakel is. Hulle het daar aangekom net nadat hy oor haar gery het.”

Volgens Van Wyk is die voorman, in sy vroeë 20’s, gewoonlik baie versigtig. “Hy sal altyd kyk of daar diere of iemand agter die bakkie is. Hy is in sak en as. Hy was lief vir haar en sy vir hom.”

Juan boer voltyds en is ʼn pastoor by die AGS-kerk in Vredefort en Jani is ʼn onderwyseres. Die egpaar is in April drie jaar getroud.

Jani is sewe maande swanger met ʼn seuntjie. “Juané was so opgewonde oor die koms van haar boetie.

Klein Juané was baie lief vir die plaaslewe.

“Sy het geweet hy is op pad en as ons van hom gepraat het, dan het sy gehardloop en haar ma se maag gevryf.”

Van Wyk sê Juané was baie spesiaal vir almal wat haar geken het. “As sy by ʼn vertrek ingekom het, het almal ʼn glimlag op die gesig gehad. Sy het almal gelukkig gemaak en diep onder hul vel ingekruip.”

Volgens Van Wyk het Juané se ouers steeds baie vrae oor hoekom dit met hulle dogtertjie moes gebeur.

“Sy was ʼn vrolike engelkind wat altyd aan die huppel was. Sy was ʼn klein boeremeisie in murg en been. Sy was lewenslustig en lief vir die wêreld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Andrea ·

Ek is só bitter jammer vir hierdie ouerpare en families. Dit is absolute gru-ongelukke, nie die gevolg van agterlosigheid nie. Niemand, maar niemand, kan 24 uur, elke minuut van die dag of nag, n kind onder oë hou nie. Dis tragiese ongelukke. Baie sterkte.

Deloris ·

Dis hart vetskeurend verby. Daar is net nie woorde van vetyroosting nie. Here ek bid en vra hier dat U l hierdie families sal optel in hierdie bitter swaar en hartseer tyd en dra hulle elke een in U arms en omvou hulle met U liefde en Grenade vir vrede in hulle Harte. Amen.
Ek sal julle bly opdra in my gebede

Ida Kriel ·

My oudste kleindogter word ook volgende maand 2jr oud en haar Mammie is weer swanger met nog n sussie wat nou enige oomblik gebore kan word. As Ouma het my kleindogter my hele wereld positief omgekeer en is ek as mens soveel ryker. Die liefdesband is baie sterk en my seun en sy vrou is oor versigtig met hul dogtertjie. Ek wil myself nie indink hoe hierdie ouerpare voel nie. Die smart is baie rou en mens het verwyte wat jy nooit sommer sal kan wegstap vanaf nie. Mag die 2 kindertjies RIV en die ouers krag en genade kry om deur hierdie aardse smart te kom. Daar is geen woorde wat vertroosting of aanvaarding kan bring nie.

Ben Niemand ·

Ai mense, my hart breek vir die ouers! Juané laat my baie dink aan my jongste wat ook nou 2 is… My pa het oor my ook gery toe ek so klein was, maar gelukkig nie met die wiele nie en was nie ernstig beseer nie.

Wonder net ·

Hierdie was niemand se skuld nie…dit was ongelukke. Ma en pa gaan hulle self verwyt dis nie nodig dat mense wat hulle nie ken nie dit doen nie. Sterkte aan almal

Marius ·

My hart breek v julle, julle sal haar weer in die hemel sien. Sterkte

Sooo hartseer ·

Dit is net sooo hartseer tragedie, mag jul styf vasgehou word en so ook die bestuurders, die jong man en Ma, julle is almal in ons gebede. Vat die self verwyt vas, dit gaan die 2 kindertjies nie terugbring, maar julle vernietig en daar is ander familie en daar sal kinders wees wat jul nodig gaan hê, niemand is 100% perfek nie, wat maak dit saak wat ander buite hierdie kringe dink, julle weet jul sou dit anders gedoen het, as jul kon!!!!!!! Soos Ben Niemand hierbo sê, hy is ook oorgery, hy het gelukkig oorleef, ek dink elke kind was op 1 of ander stadium in ‘n byna tragiese ongeluk oomblik, hulle was net meer gelukkig.

kanarie ·

Dit was hoe die Liewe Vader dit bestem het. Daai twee pragtige kinders is veilig by HOM.

stemniesaam ·

Kanarie, ek kan nie met jou kommentaar saamstem nie. Jy kan nie uit een mond na ‘n ‘Liewe ´ Vader verwys en dan uit dieselfde mond spreek dat Hy dit so bestem het dat die pragtige jong kindertjies so vroeg moes sterf en hul ouers en die jong man deur hierdie pyn en seer en selfverwyt moet gaan nie. As jy lief is vir jou kind, sal jy ´bestem’ dat hy/sy deur bittere pyn moet gaan?

Hierdie is ´n tragiese ongeluk in ´n gebroke wêreld; Christus het gekom dat ons LEWE en dit in oorvloed kan hê; Hy het die DOOD OORWIN en gekom dat elkeen wat in Hom glo die Ewige Lewe kan hê. Hy het met Sy lewe betaal dat ons juis kan lewe ná die dood en dáárin is ons hoop. Ons God bestem nie dat hartseer en dood op sulke tragiese maniere ons lewens moet vernietig nie – Hy weet weens die sonde in die wêreld beleef ons sulke tragedies en pyn, en daarom het Hy hoop gebring sodat die gebroke ouers ten spyte van hulle pyn kan uitsien na ´n blye weersiens. Hy het die dood oorwin en dit is nie meer permanent nie – ons kan weer opstaan en aangaan want: dood, waar is jou angel???

Heksie ·

My hart breek aan stukke vir hierdie families!
Dis is bitter tragies

treurgrond ·

Ek sit en huil agter my werkstasie – dit is so so hartseer,
Juane en Malan, julle mamma en pappa is in diep berou – ek huil hier waar ek sit en ken julle nie eens nie. RIV julle tweetjies.

Tracey ·

My hart breek vir hierdie ouers, en famie en vriende. Bid dat Jesus julle sal dra in die bitter seer

Rooikop ·

Dit is seker die ergste pyn wat enige ouer kan deurgaan.
My kind is op 2 jarige ouderdom dood nadat n familielid hom laat afval het, en die trekker se groot agterwiel oor sy kop gery het……………en dit is nou 50 jaar later …..
Hy sou vandag 52 jr oud gewees het ………….. mens vergeet NOOIT

Antionette ·

Dis te erg om hierdie seer eers jouself voor te stel…
My seuntjie is 5 en mamma is bang vir alles en absoluut oorversigtig as ek ry selfs kosmaak in kombuis… maar al doen jy wat hierdie dinge gebeur in n oogwink, hoe versigtig ookal jy is dis nooit genoeg.
As mense sal ons seker nooit verstaan hoekom hierdie dinge gebeur nie …
Met ons gebede sit ons hierdie mense by Jesus se voette neer mag Hy jul dra deur hierdie seer. AMEN…..

Joan ·

So, so bitter hartseer. Dit ruk my binneste en ek wil nie weet hoe voel beide ouers en hulle familie nie. Ek is so jammer vir julle.
Mag God julle in jul hartseer, jul verlies, julle gebrokenheid dra, Sy liefdevolle arms om julle toevou en julle styf, styf, styf vashou. Baie, baie sterkte, ons dink aan en ons bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.