Ouers, Amy wil ‘finaal totsiens sê’ vir Lara

Lara (links) en Amy (Foto: Facebook)

ʼn Gedenkdiens word Saterdag in Pongola in KwaZulu-Natal gehou vir die 18-jarige Lara Dedekind wat vroeër in Oktober dood is nadat sy en haar suster, Amy (15), in ʼn gru-ongeluk was.

Mark en Telani Dedekind, hul ouers, het vandeesweek gesê enigeen is welkom om die gedenkdiens by te woon.

Freddy Robertson, Telani se broer wat as woordvoerder vir die gesin optree, sê die gesin versoek dat almal wat dié diens bywoon, helder kleure dra. “Ons het besluit om dit ʼn helder dag te maak omdat dit is hoe Lara se persoonlikheid was – opgewek en vrolik. Ons wil haar vereer met dié diens,” het Robertson gesê.

Hy sê Mark en Telani doen onder omstandighede goed, maar is steeds geweldig hartseer en stukkend oor die verlies van hul dogter. “Die gedenkdiens gaan nie maklik wees nie. Ons gaan om afskeid te neem; om vir ʼn laaste keer totsiens te sê op aarde.”

Volgens Robertson is Amy ook intussen uit die hospitaal ontslaan. Hy sê sy sal maandeliks ʼn besoek aan die hospitaal moet aflê, maar dat haar vordering positief is. Amy sal ook Saterdag die gedenkdiens bywoon.

Mark en Telani Dedekind saam met Lara (18) en Amy (15) (Foto: Facebook)

“Sy was al verskeie kere in die teater om operasies te ondergaan, soos onder meer om die snye aan haar gesig te herstel. Maar daar lê nog ʼn lang herstelpad voor – dokters kan byvoorbeeld nie nie nóú beenoorplantings in haar gesig kry nie omdat haar liggaam steeds groei. Ons is ook steeds bekommerd oor haar oog wat in die voorval seergekry het, maar ons is dankbaar vir die herstel wat ons reeds kan sien.”

Lara se gedenkdiens vind om 11:00 by die NG Kerk Pongola plaas.

Maroela Media het vroeër berig Lara en haar jonger suster, Amy, was saam met ʼn vriend vanaf hul plaas in Pongola op pad terug skool toe ná die skoolvakansie toe hulle in dié ongeluk betrokke was.

Die betrokke dag was baie mistig en die drie jongmense het teen ʼn stilstaande vragmotor gebots. Die vriend, Adolf, het slegs geringe beserings opgedoen, maar beide Amy en Lara is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas. Lara het kort ná haar aankoms by die hospitaal ʼn beroerte gehad en is intussen oorlede.

Vir meer inligting, besoek die Bid vir Lara and Amy-Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacques van Romburgh ·

Hi daar wil net vir julle se sterkte met die dag .Ons weet presies waardeur jul gaan ons het ons seun 11 jaar terug verloor en dit is nog seer om daar aan te dink ,maar dit raak al beeter by die dag . Daar is net een its wat verligting bring en dit is Kyk op na JESUS Hy sal jul vertroos ! En as jul wil huil doen dit dit is nie n teken van swakheid nie dit is n manier om te herstel.Mag die HERE saam met jul wees in die tyd wat kom .Ons sal aan hou bid vir Amie….. Shalom

Ken2 ·

Dit klink asof sy n baie spesiale meisie was. Baie sterkte aan almal wat die eer gehad het om haar te ken.

Vicky ·

Baie baie baie jammer vir julle verlies Mamma, Pappa en Sussie. Julle dogters is beautiful. Onthou net . . . Julle hoef nie “finaal” “afskeid” te neem nie, nou is dit baie seer en julle weet nie wat om te doen nie. Hou Lara vas vir solank as dit nodig is, ons hoef nie te aanvaar nie ons leer net om saam met daardie smart te lewe. Baie sterkte x x x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.