Ouers baklei vir instel van Engels by plaaslike skole

Foto: Isaac Cloete

Dis nie aldag dat op die platteland vir die instel van Engels betoog word nie.

Dit is ook nie alle werkende ouers wat elke dag hulle middagetensuur gaan prysgee om vir hulle kinders se onderrig (in Engels) te baklei nie.

Hierdie rare verskynsel speel hom tans af in die Springbok-omgewing in die Noord-Kaap, waar ouers vreedsaam betoog vir die vestiging van ten minste een Engelse skool hier. Ongeveer 20 ouers is tans besig met ʼn plakkaatbetoging om die publiek bewus te maak van hul griewe.

Brenda Matebe, oorspronklik van die Oos-Kaap, is een van die ouers wat hierdie inisiatief begin het.

“Ons het in 2016 na Namakwaland getrek. Ons het van die begin af gesukkel om die kinders in Afrikaans te laat leer. Hulle vaar baie swak en dit is geen aanduiding van hulle intellektuele vermoëns nie.”

Volgens haar moes sy haar twee kinders, sewe en 11 jaar oud, in ʼn private skool plaas. Hiervoor moes sy ʼn lening aangaan. Dis egter hopeloos te duur, want sy betaal die lening nog steeds af. Hulle is toe na die Oos-Kaap teruggestuur om Afrikaans by ʼn Afrikaanse skool daar te leer. Dit het nie veel gehelp nie.

Foto: Isaac Cloete

Sy het hulle terug laat kom om by die Primêre Skool Springbok (PSS) verder te leer. Hulle was egter nie hier toegelaat nie, omdat hulle nie Afrikaans magtig is nie. Tans is hulle by ʼn ander primêre skool op Matjieskloof, naby Springbok.

“Ons het reeds met hierdie kantoor vergader, maar daar het nie veel positiewe terugvoering gekom nie. Ons wag egter dat hulle binne 14 dae op ons ingediende memorandum reageer.”

Volgens haar doen die hoofkantoor in Kimberley ook nie veel nie om na hul griewe te luister nie en sal hulle nie ophou om vir hulle kinders se regte te baklei nie. Daar is sowat 120 ouers wat hulle verteenwoordig, maar hulle veg ook vir bruin en wit ouers wie se kinders graag in Engels onderrig wil word, beklemtoon sy.

Laerskool Matjieskloof. Foto: Isaac Cloete

Die hoofsaaklik swart ouers, saam met ander bevolkingsgroepe, betoog tans elke dag tussen 13:00 en 14:00 voor die kantoor van die onderwysdepartement op Springbok.

ʼn Ander ouer, Thapelo Sekia, meen dat Engelse onderrig by die meeste skole hier ingebring moet word, omdat die bou van ʼn nuwe Engelse skool te lank sal neem. Hy reken verder ook dat die regering weg moet doen om groepe volgens ras op hulle vorms te klassifiseer.

“Dit is tans vreedsaam, maar ons beoog om dit te verskerp as daar nie gou positiewe oplossings kom nie.”

Johan Sadie, skoolhoof van PSS, het aan Maroela Media gesê dat hy net op indiwiduele skrywes of bewerings kan reageer. Hy het reeds begin om ʼn skrywe aan die kringbestuurder op Springbok te rig.

  • Geoffrey van der Merwe, woordvoeder van die onderwysdepartement, het gesê die nuwe LUR, Mac Jack, sal die ouers op 18 Julie ontmoet om die pad vorentoe te bepaal. Volgens hom is hulle tans besig met die ontwikkeling van ʼn volhoubare plan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Betoog en staak is mos SA se nommer een tyd-verdryf (so gaan die dae mos vinniger om)! Ek stel voor die ouers rig n skrywe deur die amptelike kanale, en volg dit dan self op en ook met behulp van die media. Te veel keer loop betogings op vandalisme ens uit, en dan sit almal dalk met boggerol klaskamers.

SUSAN ·

wat op die aarde soek mense van die oos kaap in die noord kaap. is daar meer werk of geld.

Hanna Hoekom ·

So, dis agv die feit dat die kinders nie Afrikaans kan praat nie dat hul punte so sleg lyk. Wel, Engels is OOK nie hul huistaal nie! Wakker word! Gaan dan maar eerder terug Ooskaap toe waar julle vandaan kom, want Engels as onderrigtaal gaan geen verskil maak nie.

Johan ·

Hulle kan hulle Engelse skool kry, solank hulle die Afrikaanse skole uitlos

Chris ·

Namakwaland se voertaal is meerendeels Afrikaans. Moet die skool nou verander vir ‘n handjievol leerders en die Afrikaanssprekendes weereens terugstaan dat hul taal onderdruk kan word.

JohanL ·

Stem Chris. En die handjievol “Engelssprekendes” kom vanaf die Oos-Kaap. Gaan terug Oos-Kaap toe en skryf jou kind in by ‘n skool waar hy in sy moedertaal onderrig kan kry.

Demands ·

Hulle kan eenvoudig net nie op hulle eie regkom nie. En waarom wil Sekia nie per ras geklassifiseer word nie. Voel hy dalk minderwaardig?

Johann cb ·

Ons land is besig om te verengels! Dit spoel al oor Platteland toe.

marous ·

Stem saam met alles tot jou kind toegelaat word en dan gil jy wat dis dan Afrikaans. Dit is duidelik vooraf beplan !

Stephen Namibia ·

My huistaal is Engels maar ek praat met trots Afrikaans. Lesers moet my nie kruisig nie, maar wat wil kinders met slegs Afrikaans doen in die wereld daar buite.? Ons ervaar daagliks hoe volwasse mense sukkel wat nie ordentlik Engels kan praat nie.
Die sakewereld is totaal Engels en geen korrespondensie word meer in Afrikaans gevoer nie.
Mense wat net op Afrikaans aandring doen hulle kinders n onreg aan. Terminologie op Uni is beter verstaanbaar in Engels.
My dogter was op n Engelse skool en daarna in Duitse skool en daarna Stellenbosch Uni. Sy praat al drie tale vlot en ek moedig haar aan om nog tale te leer. Sy het nog steeds op skool gepresteer in Afrikaans alhoewel ons huistaal Engels is.
In die sakerigting wat sy gekies het na Uni het haar kennis van tale baie deure oopgemaak.
Wanneer ek hier die leseres se kommentaar in Afrikaans lees, is dit skrikwekkend om te sien hoe mense nie kan spel in hulle eie taal nie. Daarom is daar Woordeboeke. Hou een byderhand as jy briewe skryf. My beskeie opinie.

KaterinaKat ·

@Gert – Wat ek probeer se is: “Maak jou kinders absoluut tweetalig groot.” Ek is ook lief vir Afrikaans. Maar dis die beste vir Afrikaanse kinders, en inderdaad alle kinders die wereld oor- om net so vlot in Engels te wees as in hul moedertaal. Vir oumense en ander wat Spanje en Suid Amerika en China nooit gaan verlaat vir welke redes nie, is dit seker goed en wel om net hul moedertaal te kan praat. Maar as jy deur en in die wereld moet beweeg, of goed wil kan kommunikeer op die internet, of jou werks geleenthede wil verbeter, sal jy n massiewe agterstand he as jy nie vlot in Engels is nie. Dit is en bly die handelstaal en algemene omgangstaal van die planeet. Niemand se jy moet verengels nie. Gebruik jou moedertaal so veel jy wil. Maar daar is geen rede waarom mens nie Engels net so goed kan lees, praat, skryf en verstaan nie.

KaterinaKat ·

Ek stem 100% saam Stephen. Afrikaans is kosbaar, maar die wereld draai op en om Engels. Dit is die planeet se “lingua franca”. Jy moet, of jy nou Japanees, Grieks, Russies, Indies of wat ookal, Engels goed magtig wees as jy wil kan kompeteer in die sake wereld, die akademiese wereld, die mediese en wetenskap wereld. It is what it is. Indiese neurochirurge en Japanese wetenskaplikes het nie sukses behaal in lande soos Amerika deur aan te dring daarop om in Hindi of Japanees te handel nie.

Gert ·

Julle is altwee heeltemal oningelig. Die voordele van moedertaalonderrig was al duisende kere op hierdie forum oor-en-oor verduidelik. Boonop is julle implikasie dat iemand wat in sy moedertaal onderrig word, noodwendig swak sal wees in Engels. Dis absoluut onwaar. Ook kan ek uit eie ondervinding verklaar dat Engels glad nie Die Wêreldtaal is soos julle dink nie. Ek was al in baie lande waar byna niemand Engels verstaan nie. Beide Spaans en Mandaryns is aansienlik groter tale as Engels.
In elk geval, hoekom kan mense betoog dat Afrikaanse skole moet Engelse kinders akkommodeer, maar nie dat Engelse skole, bv. in Natal, moet Afrikaanse kinders akkommodeer nie? Dis absolute dubbele standaarde. Let daarop dat amptelik is daar elf landstale wat absoluut gelyk is.

Farren ·

Baie swartmense praat beide Engels, en hul moedertaal met hulle kinders . En baie verkies dat hulle kinders in Engels onderrig word.

Ek werk by ‘n groot maatskappy en die oorgrote meerderheid van die personeel is swart. Hulle praat baie beter Engels en het ‘n groter Engelse woordeskat as ons Afrikaners. Hulle lees ook die Bybel in Engels.

Dat ons in ons moedertaal onderrig is, en Engels slegs as tweede taal geneem het is tot ons nadeel. Die meeste van ons Afrikaners sukkel om gedagtes sinvol in Engels uit te druk as ons byvoorbeeld in vergadering is en vinnig moet dink en praat in Engels . Na my mening die forums wat reken dat moedertaalonderrig meer voordelig is, is verkeerd en dat ons as Afrikaners weens ons liefde vir ons taal nie die werklikheid wil aanvaar nie. Dis natuurlik vir ons ‘n uiters pynlike saak om te sien hoe ons taal sy posisie verloor het as dié voertaal in SA.

Manderyns en Spaans is wel grote tale as Engels, maar het nie tans veel betrekking op ons nie, behalwe as mens besigheid in die Verre Ooste of Suid-Amerika of Spanje doen. In ons land is Engels wel die taal by meeste besighede en staatsdepartemente.

Gert ·

Dit is jou reg om te verskil van al die studies wat herhaaldelik die voordele van moedertaalonderrig bewys het. Dis egter iets anders om hierdie studies te weerlê, en dit het jy glad nie gedoen nie. Die argument oor Spaans en Mandaryns is insgelyks steeds geldig. Dit was nog nooit my belewenis dat swartes se vermoë om hulleself uit te druk beter is as Afrikaners nie.
In elk geval, die feit is dat niemand mense soos julle probeer keer om te verengels nie. Moet net nie my forseer om dit ook te doen nie. As julle werklik glo dis so nadelig vir my, glo dit maar, maar laat my toe om my eie keuse na te volg.

Deon ·

Farren, ongelukkig moet ek saam stem. In die korporatiewe wêreld sien ek ook hoe baie slim Afrikaners eintlik dom voorkom soos wat hulle sukkel met die Engels, selfs manne met meesters en PhD grade. Dit raak hul bevorderingsgeleenthede waar kommunikasie uiters belangrik is. Afrikaners met ‘n natuurlike aanleg vir tale het nie ‘n probleem nie. Maar almal is nie so gelukkig nie. Ek glo wel ons SA skole is ook te blameer. Instede van hogere akademiese taalonderig moet die tweede en derde taalonderig meer prakties wees om praat en later skryfvaardighede aan te leer, vanaf Graad 1. In Afrikaanse skole moet “maklike” sosiale vakke net in Engels aangebied word, selfs in laerskole. Wiskunde en wetenskap moet net in Afrikaans aangebied word. Moontlik sal dit oor ‘n twaalf jaar periode help om boertjies se Engels te verbeter dat hulle na skool in Engels kan studeer en werk, en sommer ‘n Afrikataal of ander taal onder die knie kry, insluitend Mandaryns. Dit sal ons bemagtig. Ons moet nie taal gebruik om ‘n politieke oorlog te veg nie.

Sê maar net ·

Ek en van my mede leerders het jare terug Engels (en Afrikaans) as Eerste Taal by HSN (Hoërskool Namakwaland) gehad. Ek weet nie of dit nogsteeds aangebied word nie maar dit was die beste ding ooit. Ek is ewig dankbaar aangesien ek nou oorsee is en bitter min in my moedertaal kommunikeer. As ek toe kon sou ek in ‘n engelse skool wou wees i.p.v net engels as ‘n eerste Taal hê. Net omdat daar ouers is wat hul kinders in ‘n engelse skool wil he beteken nie die platteland verengels nie. Genade tog…. gun die ouers tog die kans om die beste vir hul kinders te doen. Jou kind is gelukkig in ‘n Afrikaanse skool op die platteland, great, dis jou keuse. Los tog die ouers om hulle ding te doen. As die skoen aan die ander voet gesit het sou julle net so lawaai opgejaag het…

JohanL ·

Farren – ek moet ongelukkig vir jou met Gert saamstem dat alle ERKENDE studies plaaslik en internasionaal het onteenseglik bewys moedertaalonderrig is die beste. Jou verwysing na forums is eintlik mense op forums wat erkende studies aanhaal. Dit is nie net “hol opinies” nie.

Let asb op dat daar ‘n enorme verskil is tussen Afrikaans as LOLT, Engels as LOLT en om Engels aan te leer as addisionele taal. Alle kinders wat Afrikaans as LOLT gehad het, het ook Engels aangeleer as ‘n VERPLIGTE vak op minstens tweede taal vlak. Ek trek jou stelling dat “meeste Afrikaanssprekendes sukkel met Engels” erg in twyfel – jammer. Miskien in jou klein raamwerk maar nie in myne nie. En dit is verder definitief nerens bewys nie. Dit is jou opinie en dit is dit.

Ek stem saam met Gert dat kinders in hul moedertaal onderrig moet word (Afrikaans, Zulu, Pedi, ens) en Engels as verpligte tweede taal moet neem. Kinders kan die tweede taal (Engels) selfs op eerste vlak neem as hulle wil.

Mense moet net mooi onderskei tussen LOLT en om ‘n ander taal soos Engels ook aan te leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.