Ouers dalk gou vervolg as kinders nie skool toe gaan nie

Beamptes van die teenbende-eenheid (AGU) van die SAPD (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag gesê hy sal binnekort wetgewing voorstel waarvolgens Suid-Afrikaanse ouers vervolg kan word as hulle nie seker maak hul kinders gaan skool toe nie.

“Ek gaan binnekort voorstel dat ons ʼn wet moet hê dat ouers, wat nie daarop aandring dat hul kinders skool toe gaan nie, skuldig sal wees aan ʼn misdaad. Dit is ons verantwoordelikheid as ouers, veral in ʼn land waar gratis onderrig beskikbaar is,” het Ramaphosa aan honderde polisiebeamptes en lede van die gemeenskap gesê tydens die SAPD se amptelike bekendstelling van die teenbende-eenheid (AGU) in Hanoverpark in Kaapstad.

Die president en polisieminister Bheki Cele het formeel die AGU bekend gestel wat bendebedrywighede, insluitend onwettige dwelm- en vuurwapenhandel, sal takel.

Die eenheid is al sedert Oktober aan die gang en is in Nyanga, Bonteheuwel en Bishop Lavis in die Wes-Kaap ontplooi. Die AGU sal egter ook binnekort in Gauteng en die Oos-Kaap ontplooi word.

“Ek doen ʼn beroep op ouers om seker te maak hul kinders bly in die skool. Ouers moet daarop aandring dat hul kinders skool toe gaan. As jou kind nie meer skool toe gaan nie, moet jy navraag doen en uitvind waarom die kind nie meer in die skool is nie,” het Ramaphosa gesê. Hy maan ouers om nie die toekoms van hul kinders te benadeel nie en het bygevoeg opvoeding is ʼn wapen wat gebruik kan word om armoede en bendebedrywighede te beveg.

Hy het ook die lede van die gemeenskap versoek om saam met die polisie te werk om bendebedrywighede hok te slaan. “Selfs die bendelid in jou eie huis. Maak seker die polisie weet wat gebeur, want ons wil jou help. Ons kan slegs doeltreffend wees as die gemeenskap hul samewerking gee.”

Ongeveer 50 splinternuwe voertuie is ook aan die AGU oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leatitia

“In n land waar gratis onderwys beskikbaar is” Regtig van watter land praat ons President?

Liana

Ek wonder hoe dit toegepas gaan word op ouers wat tuisskool?

Juffrou

Volgens die South african Schools act 84 van 1996, is dit die ouers/voog se verantwoordelikheid om te sorg dat kinders in hul sorg skool bywoon. “Subject to this Act and any applicable provincial law, every parent must cause every learner for whom he or she is responsible to attend a school from the first school day of the year in which such learner reaches the age of seven years until the last school day of the year in which such learner reaches the age of fifteen years or the ninth grade, whichever occurs first.” So vervolg hulle, daar is hopeloos… Lees meer »

Grassie

Ek was ook onder die indruk dat daar lankal reeds wetgewing bestaan wat ouers verplig om hul kinders te laat skoolgaan. Lank terug, toe ek nog ‘n kannetjie was, het die onderwysdept inspekteurs gehad wat skole besoek en ondersoek instel waar kinders nie gereeld skool bywoon nie. Hulle was lammervangers genoem en kinders en ouers was baie lugtig vir hulle. Die landdros van ‘n distrik was daardie tyd ampshalwe ook die kommissaris van kindersorg gewees, en as daar ‘n stokkiesdraaiery was het die lammervanger die aangeleentheid na hom verwys. Daar is dan ondersoek ingestel na die ouers se bevoegdheid en… Lees meer »

Andrea

Hhhmmm…. Ek wonder…. SA se Gr 4’s het die laagste geletterheidsvlak ter wêreld, die Wisk slaagsyfer is 30%. Eerstejaars in n gekeurde rigting op universiteit weet nie wat die woord ‘ stallion’ beteken nie…
Waaroor ek wonder is… Maak dit sáák of kinders skoolgaan of nie? Dié wat wél skoolgaan leer duidelik nie veel nie.