‘Ouers die antwoord tot krisis in SA skole’

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het Dinsdag gesê een van sy verslae het aan die lig gebring tot watter mate staatsbeheerde skole die ontwikkeling van leerders, veral swart leerders, kniehalter.

Die verslag getiteld “Parents, not politicians, must run South Africa’s schools” is die eerste uitgawe van die FreeFACTS-publikasie wat die instituut saamgestel het.

Volgens die verslag is Suid-Afrikaanse skole se probleem grotendeels nie weens ʼn gebrek aan geld nie. “Baie ontwikkelende markte bestee minder aan onderrig as Suid-Afrika, maar het baie beter resultate.”

Die SAIRV meen in Suid-Afrika se geval is korrupsie, verwoestende vakbonde, ideologiese dogma en onbekwame politici van die redes wat veroorsaak dat net ʼn klein groep kinders ordentlike onderrig ontvang. Hul navorsing het bevind: Wanneer gemeenskappe skole beheer, verbeter die resultate. Volgens die instituut is ʼn kortpad vir beter onderrig om burokrate “uit te kry” en ouers te laat oorneem.

Marius Roodt, veldtogbestuurder van die SAIRV, het gesê die data in die verslag dui aan dat slegs 33% leerders matrieks slaag met meer as 40% vir wiskunde.

Slegs 29,2% van skole het ʼn biblioteek en slegs 18,3% van regeringskole het ʼn wetenskap-laboratorium. “Slegs 13% van die 2006-klas se graadeens kon met universiteitsvrystelling kwalifiseer toe hulle in 2017 matriek skryf,” het Roodt gesê.

Roodt waarsku dat die benarde omstandighede moontlik die toekoms van jou kind kan wees as daar nie ʼn alternatief buite regeringskole gevind word nie. “Min mense kan egter privaat skole bekostig.”

Die SAIRV het eerstens voorgestel dat skole aan gemeenskapsgroepe, kerke, NRO’s en privaat onderrigverskaffers verkoop moet word vir R1 en dan binne spesifieke riglyne bestuur word.

Tweedens moet die nasionale onderrigbegroting dan volgens hulle verdeel word in kaartgeskenkbewyse wat deur al die ouers ontvang sal word. “Ons glo dié geskenkbewyse sal genoegsaam wees om onderrig van hoë gehalte vir elke kind in die land te finansier. Ouers kan die geskenkbewyse by enige skool van hul keuse gebruik en die geskenkbewys ook aanvul met hul eie geld in die geval waar die skool hoër koste het.”

Die SAIRV meen deur aan ouers die keuse en koopkrag te gee om oor hul kinders se onderrig te besluit, verkry hulle ook die mag om die kurrikulum, taal, beleid en etos van die skool te beheer.

“Dit is nie vir die regering en politici om te besluit hoe om jou kind groot te maak nie, dit is vir jóú om te besluit. Ondersteun ons werk en ons gaan groter ouerbeheer van onderrig ʼn werklikheid maak.”

Die SAIRV het gesê dié weergawe van FreeFACTS val saam met die bekendstelling van die SAIRV se onderwyshandves. Dit is ʼn inisiatief om Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om groter ouerbetrokkenheid in skole te onderskryf in ʼn poging om die onderrigstelsel uit die huidige krisis te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

Die verslag maak sin en dit sou wonderlik wees indien dit geïmplimenteer kon word.
Of die burokrasie dit egter sal toelaat, is n ope vraag.

Hanna Hoekom ·

So, los dan die voormalige model C skole uit mnr Lesufi! Ten minste lewer hierdie skole goeie resultate in n baie gebroke sisteem. Fokus op die probleem-skole en areas. Anders is ons kinders binnekort almal gedoem!

GM ·

In ‘n ander land kan dit miskien werk, maar in een waar die ouers hul kinders aanmoedig om af te brand as hul nie kry wat hul wil hê nie, gaan dit beslis nie werk nie. Maar ek stem wel saam dat die regering minder moet inmeng by skole.

marous ·

Wie brand die biblioteke en skole af sonder enige gevolge? Wie hamer daarop dat beheerliggame in skole moet verdwyn ? Wie gil oor die ontneming van regte oor privaat skole ? Wie gee opdrag dat ouers gearresteer moet word waneer dissipline gehandhaaf moet word teen kinders wat hul lewens onhoudbaar maak as gevolg van die laksheid wat heers in die onderwys stelsel ? Wie het die ouers hul regte reeds ontneem oor insette rakende taal , cirriculum en etos ? Waarom moet die warm patat in die ouers se skote gegooi word? Wonder waar het die man gewoon die afgelope paar dekades ……

Bekwaam ·

Dit klink vir my na ‘n pie in the sky. Nie alle ouers is bekwaam genoeg om oor skoolsake (insluitend die leerplan) te besluit nie. Hoe gaan dit die kwaliteit van skole raak? Hoe word daar vasgestel watter skool presteer beter as die ander (veral met die oog op verdere onderrig na skool) as die leerplanne kan verskil? Sommige ouers het self nie skool klaargemaak nie. Hulle is mos dan nie bekwaam om die besluite te neem nie?

vernietig ·

Jip die skole soos ons dit geken het is alles tot niet. Alles wat aangeraak was is vernietig – en so sal dit aangaan. kyk die voorbeeld van die massas aan hulle kinders……………

Mrs H ·

Regering en Politikuste kan begin deur n beter voorbeeld te stel. Hou EFF en DA betogers dan ook weg van ons skole en kinders af?! Hou op om die vervelige Sauk appartheid programme uit te saai?! Wat kinders in hul huise sien, leer en beleef, dra hulle uit na buite, hens die agresiewe, haatdraende jeug waarvan baie hulself skuldig maak aan kriminaliteit huidiglik. Moet asb nie julle regerende verantwoordelikhede so maklik en vinnig weg skuif nie! Ashton Willemse insident is n goeie voorbeeld waar politikuste liefs moes weg bly en meet fokus op n Sport en Ontspanning minister plaas wat vir kommunikasie, probleem oplossing en bestuur kursusse kan gaan!

Wolf ·

Sjoe, wat n tamalletjie, met die hoe werkloosheid syfer in ag geneem, Sal dit dalk baat om die werklose ouers eers op te lei om hulle kinders n menswaardige plek in die samelewing te gee. Dan as hulle verstaan hoe demokrasie werk, kan hulle dalk nuttig aangewend word. Die arme mense is werkloos, moedeloos, moeg gestruggle (selfs teen hulle eie anc regering) dat hulle nie meer raad het nie. Help eers die ouers, dan help hulle die kinders. Maklik is dit nie. Die regering moet sy verantwoordelikheid in die saak met die regte gesindheid en erns opneem.

Casper Labuschagne ·

En? Dit sou wonderlik wees as die regerende party maar net die boonste artikel wou lees en dit toepas. Helaas…

Tuisskoler ·

Ek het reeds beheer geneem oor my kind se toekoms en opvoeding, dis hoekom ons tuisonderrig doen.

Ed ·

Nie een persoon wat huidiglik saam my in my koshuis of klasse sot was getuisonderig nie. Soek eerder ‘n goeie skool

Oom Kalahari ·

Die Staat wil oor die algemeen elke burger se lewe beheer met hul afdwingbare marxistiese wyses. Godsdiens wat ‘n goeie en respekvolle opvoedings platform skep is ontneem tot in die Parlement. Ouers mag nie meer kinders tuis tussen riglyne tugtig nie en gehoorsaamheid kom tot ‘n val wat deu die regering geskep en bepaal word. Privaat en of tuis skool opvoeding is beter en meer produktief as die Staat se toy-toy en brand instansies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.