‘Ouers die antwoord tot krisis in SA skole’

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het Dinsdag gesê een van sy verslae het aan die lig gebring tot watter mate staatsbeheerde skole die ontwikkeling van leerders, veral swart leerders, kniehalter.

Die verslag getiteld “Parents, not politicians, must run South Africa’s schools” is die eerste uitgawe van die FreeFACTS-publikasie wat die instituut saamgestel het.

Volgens die verslag is Suid-Afrikaanse skole se probleem grotendeels nie weens ʼn gebrek aan geld nie. “Baie ontwikkelende markte bestee minder aan onderrig as Suid-Afrika, maar het baie beter resultate.”

Die SAIRV meen in Suid-Afrika se geval is korrupsie, verwoestende vakbonde, ideologiese dogma en onbekwame politici van die redes wat veroorsaak dat net ʼn klein groep kinders ordentlike onderrig ontvang. Hul navorsing het bevind: Wanneer gemeenskappe skole beheer, verbeter die resultate. Volgens die instituut is ʼn kortpad vir beter onderrig om burokrate “uit te kry” en ouers te laat oorneem.

Marius Roodt, veldtogbestuurder van die SAIRV, het gesê die data in die verslag dui aan dat slegs 33% leerders matrieks slaag met meer as 40% vir wiskunde.

Slegs 29,2% van skole het ʼn biblioteek en slegs 18,3% van regeringskole het ʼn wetenskap-laboratorium. “Slegs 13% van die 2006-klas se graadeens kon met universiteitsvrystelling kwalifiseer toe hulle in 2017 matriek skryf,” het Roodt gesê.

Roodt waarsku dat die benarde omstandighede moontlik die toekoms van jou kind kan wees as daar nie ʼn alternatief buite regeringskole gevind word nie. “Min mense kan egter privaat skole bekostig.”

Die SAIRV het eerstens voorgestel dat skole aan gemeenskapsgroepe, kerke, NRO’s en privaat onderrigverskaffers verkoop moet word vir R1 en dan binne spesifieke riglyne bestuur word.

Tweedens moet die nasionale onderrigbegroting dan volgens hulle verdeel word in kaartgeskenkbewyse wat deur al die ouers ontvang sal word. “Ons glo dié geskenkbewyse sal genoegsaam wees om onderrig van hoë gehalte vir elke kind in die land te finansier. Ouers kan die geskenkbewyse by enige skool van hul keuse gebruik en die geskenkbewys ook aanvul met hul eie geld in die geval waar die skool hoër koste het.”

Die SAIRV meen deur aan ouers die keuse en koopkrag te gee om oor hul kinders se onderrig te besluit, verkry hulle ook die mag om die kurrikulum, taal, beleid en etos van die skool te beheer.

“Dit is nie vir die regering en politici om te besluit hoe om jou kind groot te maak nie, dit is vir jóú om te besluit. Ondersteun ons werk en ons gaan groter ouerbeheer van onderrig ʼn werklikheid maak.”

Die SAIRV het gesê dié weergawe van FreeFACTS val saam met die bekendstelling van die SAIRV se onderwyshandves. Dit is ʼn inisiatief om Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om groter ouerbetrokkenheid in skole te onderskryf in ʼn poging om die onderrigstelsel uit die huidige krisis te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Die verslag maak sin en dit sou wonderlik wees indien dit geïmplimenteer kon word.
Of die burokrasie dit egter sal toelaat, is n ope vraag.

Hanna Hoekom

So, los dan die voormalige model C skole uit mnr Lesufi! Ten minste lewer hierdie skole goeie resultate in n baie gebroke sisteem. Fokus op die probleem-skole en areas. Anders is ons kinders binnekort almal gedoem!

GM

In ‘n ander land kan dit miskien werk, maar in een waar die ouers hul kinders aanmoedig om af te brand as hul nie kry wat hul wil hê nie, gaan dit beslis nie werk nie. Maar ek stem wel saam dat die regering minder moet inmeng by skole.

marous

Wie brand die biblioteke en skole af sonder enige gevolge? Wie hamer daarop dat beheerliggame in skole moet verdwyn ? Wie gil oor die ontneming van regte oor privaat skole ? Wie gee opdrag dat ouers gearresteer moet word waneer dissipline gehandhaaf moet word teen kinders wat hul lewens onhoudbaar maak as gevolg van die laksheid wat heers in die onderwys stelsel ? Wie het die ouers hul regte reeds ontneem oor insette rakende taal , cirriculum en etos ? Waarom moet die warm patat in die ouers se skote gegooi word? Wonder waar het die man gewoon die afgelope… Lees meer »

Bekwaam

Dit klink vir my na ‘n pie in the sky. Nie alle ouers is bekwaam genoeg om oor skoolsake (insluitend die leerplan) te besluit nie. Hoe gaan dit die kwaliteit van skole raak? Hoe word daar vasgestel watter skool presteer beter as die ander (veral met die oog op verdere onderrig na skool) as die leerplanne kan verskil? Sommige ouers het self nie skool klaargemaak nie. Hulle is mos dan nie bekwaam om die besluite te neem nie?