Ouers eis Laerskool Meyerspark se beheerliggaam moet ontbind

skool-skoene

Argieffoto.

Bekommerde ouers van Laerskool Meyerspark gaan vanaand ʼn versoekskrif met sowat 600 handtekeninge aan die Gautengse onderwysdepartement oorhandig waarin hulle eis dat die skool se beheerliggaam onmiddellik bedank, of deur die departement ontbind word.

Die ouers het verlede jaar met die beheerliggaam koppe gestamp nadat hulle op ʼn algemene jaarvergadering besluit het om Afrikaanse onderrig by die skool af te skaf, die skool se naam, embleem en uniform te verander en die skoolure te verleng. Die onderwysdepartement het bevind die beheerliggaam het nie die regte prosedures gevolg nie en Afrikaans as onderrigmedium het vir eers behoue gebly.

Ouers is egter steeds bekommerd oor die bestuur van die skool se finansies. Hulle eis toegang tot die skool se finansiële state en beleide, asook ʼn oudit nadat die skool glo onder meer ʼn R10 000-boete van die Inkomstediens ontvang het vir belasting wat nie oorbetaal is nie. Die skool se telefoonlyne is ook in Januarie afgesny, nadat die rekening glo nie betaal is nie.

Volgens die versoekskrif is ʼn lid van die beheerliggaam se reiskostes vanuit Kimberley betaal, nadat hy na Pretoria gevlieg het vir ʼn beheerliggaamvergadering. Boonop ontvang sommige van die beheerliggaamslede ʼn maandelikse toelaag vir lugtyd.

“Die eerste paar dae van die nuwe jaar was chaoties. Daar was nie genoeg onderwysers nie, aangesien baie van hulle bedank het oor die nonsens by die skool,” het Yolande Huyzer, ʼn ouer by Laerskool Meyerspark, gesê.

Een van die punte wat in die versoekskrif hanteer word, is die groot personeelomset. In 2016 is 21 nuwe personeelaanstellings gemaak en volgens die besware in die versoekskrif, het die skool 2017 met 11 vakante poste afgeskop.

“Ek is baie bekommerd oor wat tans by die skool gebeur. Hierdie mense is besig om ons skool uitmekaar te ruk,” het Huyzer gesê.

Volgens adv. Frans Mothoa, voorsitter van Laerskool Meyerspark se beheerliggaam, is hy nie bewus van enige finansiële ongerymdhede by die skool nie. “Ek is wel bewus van ouers wat bekommernisse en vrae het oor sekere kwessies by die skool en dit is juis waarom hierdie vergadering vanaand gehou word, sodat ek kan vasstel wat presies die probleme is en hoe ek dit kan oplos.”

Mothoa het gesê ouers kan hom beslis nader as hulle bekommernisse het. “Hulle is welkom om hul klagtes op skrif te stel. Dit is die regte prosedure, maar tot dusver het ek nog geen skriftelike klagtes ontvang nie.”

Hy het verder gesê hy was op 9 Januarie by die skool om toe te sien dat als reg verloop tydens die begin van die nuwe skooljaar en het bevestig daar was ʼn onderwyser in elke klaskamer.

“Ons het daarin geslaag om die verskille oor die onderrigmedium van die skool op ʼn vriendskaplike wyse met die insette van die onderwysdepartement op te los en ek vertrou ons sal dit weer kan doen. Enigiemand wat anders beweer, is net besig om valse propaganda te versprei.”

Dr. Jean van Rooyen, hoof van Fedsas in Gauteng, sê ouers het die reg om aan te dring op ʼn onafhanklike oudit van ʼn skool se finansies indien hulle onraad vermoed. “Gewoonlik sou so ʼn ondersoekspan bestaan uit ʼn onafhanklike regskenner en ʼn finansiële kenner, asook ʼn lid van die beheerliggaam. Die onderwysdepartement kan ʼn skool onder administrasie plaas, maar net die ouditeur-generaal kan dit doen indien daar regsgronde daarvoor is.”

Van Rooyen het bevestig Laerskool Meyerspark se beheerliggaam het onlangs hul lidmaatskap van Fedsas opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anomiem ·

Die is slegs die begin. As die publiek maar net kon weet hoe sommige van die beheerliggaam die personeel behandel, en al die goed wat ‘agter die skerms’ gebeur. Julle sal ook baie verbaas wees hoe die beheerliggaam kan jok om hulself te beskerm.

Marius Botha ·

Verder het hul nie een verpligte beleid in plek nie,bou die BL geboue sonder enige planne en departementele goedkeuring,skik in CCMA gedurende Januarie op onbillike arbeidspraktyte.Die Dept sal vining iets moet doen ter regstelling!

tamboti ·

Tipies, die voorsitter is ‘n advokaat maar dra geen kennis van probleme nie want niks is op skrif en met regte prosedure gedoen nie, en dan gooi hy die “valse propaganda” beskuldiging – reg so meneer dis hoe jy in voeling bly met regte mense op grondvlak!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.