Ouers erg getraumatiseer ná 7-jarige se onverwagte dood

Mechaela Schroeder. Foto: Facebook

Die bedroefde ouers van ʼn sewejarige meisie van Bethal, Mpumalanga, wat Vrydagaand in ʼn bad doodgeskok het, is nog te getraumatiseer om terug te keer na hul huis waar die tragedie hom afgespeel het.

Danny en Lorainne Schroeder is gister in ʼn hospitaal vir dehidrasie behandel en het binneaarse voeding gekry nadat hulle ophou eet het, vertel hul swaer Etienne Botha, by wie hulle en hul ander kind, Yolandie (12), vir eers op Evander tuisgaan.

“Die dokter het gesê hy gaan hulle nie opneem nie,” sê Botha, “maar ek kon hulle nie terugvat na hulle huis toe nie.”

Mechaela het Vrydagaand in die bad sit en speel met stokkies wat in die donker gloei toe sy die kraan wou oopdraai, maar foutiewe bedrading het blykbaar die waterpype in die huis geëlektrifiseer.

Lorainne, wat te getraumatiseer was om Dinsdag met Maroela Media te praat, het vroeër aan die gemeenskapskoerant The Bulletin gesê daar was enkele kragonderbrekings op die noodlottige aand. “Toe die krag weer omstreeks 19:00 aankom, het ek Mechaela gevra of sy wou gaan bad.”

Sy het die badwater vir haar jongste dogter ingetap en ʼn rukkie by haar gesit. “Ek was ʼn paar keer in en uit voor ek ʼn gil uit die badkamer gehoor het. Ek het terug soontoe gehardloop en op haar afgekom waar sy regop gestaan en aan die kraan gevat het met haar oë teruggerol in haar kop.”

ʼn Paramedikus wat naby hulle woon, was gou op die toneel, maar het ʼn halfuur lank vergeefs probeer om Mechaela by te bring.

Volgens The Bulletin sukkel die Schroeders al langer as ʼn jaar met kragprobleme by hul huis, maar kon die Govan Mbeki-munisipaliteit dit nog nie uitstryk nie.

Botha sê dit het Dinsdag “so ʼn bietjie beter” met die ouerpaar gegaan. “Dit het eers gelyk asof Danny nie besef wat gebeur het nie, maar hy begin darem nou al vrae vra. Daar is ʼn bietjie vordering en dit lyk asof hy dit begin aanvaar.”

Hy sê dit sukkel maar om hulle sover te kry om te eet. “Hulle eet so ʼn bietjie vrugte, maar nog nie regtig kos nie. Ek het vir hulle ʼn shake gaan koop, net dat hulle iets inkry.”

Botha vertel die kragtoevoer na die huis is nog nie herstel nie. “[Die munisipaliteit] is nog besig met die ondersoek.”

Die lykskouing sou na verwagting vandag uitgevoer word; eers daarna kan klein Mechaela se naasbestaandes aan begrafnisreëlings begin dink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Andries Visagie ·

Opregte meegevoel, dit is verskriklik. Indien dit nalatigheid deur die munisipaliteit is, is dit nog eintlik veel erger.

Iemand ·

Die bedrading binne in die huis is nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid nie (tensy die huis aan die munisipaliteit behoort). Die eienaar van ‘n huis is verantwoordelik daarvoor om ‘n ECOC sertifikaat te kry by ‘n gesertifiseerde elektrisiën wat moet nagaan dat daar geen foutiewe bedrading in die huis is nie. As mens ‘n huis koop moet die verkoper daardie sertifikaat voorsien. Iemand is verantwoordelik vir die kind se dood, die persoon wat die drade verkeerd instaleer het of die persoon wat dalk n sertifikaat uitgereik het sonder om werklik die bedrading na te gaan…wie weet? Ek hoop die waarheid kom uit. My innige meegevoel aan die familie.

Biebie ·

Dit is blykbaar die die drade wat na die huis loop, nie probleme in die huis nie. Het op ‘n vorige berig gelees. Daar is nie breakers op die drade na hul huis toe nie, maar op die bure sin wel.

Gerrie. ·

Munisipaleteit sal nie verantwoordelik wees vir probleme met krag binne in n woning nie. Hulle verantwoordelikheid stop buite by die krag box. Binne in huis moet jy self n elektrisieen kry om foute te laat reg maak. Eienaar van woning moet elke 5 jr n sertifikaat indien dat krag reg is in huis. Dit is die Noord Kaap se reels.

Biebie ·

Die probleem is buite by die krag pale en drade wat na die huis loop. Geen breakers, maar wel op bure sin. Lees vorigeberig

Philip ·

Ai ek sit hier met trane in my oë. Wat ‘n tragiese voorval. Dit sal moeilik wees om te verstaan maar ons Hemelse Vader weet. Sy rus nou rustig by Hom. Innige simpatie met ouers en vra ek Jesus om julle as familie styf vas te hou in Sy arms.

Anoniem ·

Geen woorde kan hierdie ouers se seer beskryf nie om n kind op so wyse en jong ouderdom te verloor is onbeskryflik seer niks wat enige iemand sal se of doen sal die klein dogtertjie terug bring nie … Alle sterkte en mee gevoel vir die gesin

Christine ·

Ai dis met trane wat ‘n Ouma nou hier tik, so sorry liewe ouers en familie , almal is nou in vakansie gees en opgewonde, wat ‘n tragiese onnodige gebeurtenis. So sorry vir julle verlies, net ons Hemelse Vader kan julle nou versterk en vertroos ek dink aan julle in my gebede. Rus in Vrede pragtige meisiekind!

Blondie ·

Ons Bethallers het al jare probleme met elektrisiteit. Ons krag is so laag die ligte flikker heeltyd en jy’s gelukkig as jou microgolfoond die dag 100% werk. Meestal draai hy net. So rukkie terug kon die TV nie eens aan kom nie en die ligte het so geflikker dat ek dit eerder af gesit het. Toe hoor ons op die veiligheidsgroep dat dit agv kabeldiefstal was. As jy deur die dorp ry sal jy self sien in wat se toestand is ons elektriese kabelkoneksies .

anni ·

Ai Ai, so onnodig en verskriklik hartseer. En wat gaan hier van kom net mooi niks.
Ek is so jammer julle, bid vir Krag en Sterkte.

Blondie ·

Wie sou nou ooit geweet het dat so iets moontlik is…dis verskriklik. My hart breek vir julle. Net die hemel alleen sal weet

maklik ·

Mens kan baie maklik deur ‘n kraan skok as daar fout is en die geyser is nie goed ge-earth nie. Het al by ‘n vakansie plek in harties ‘n skok gekry toe ek aan ‘n kraan vat maar was nie die volle laading nie. het die eienaar in kennis gestel en hy het vinnig gespring en probleem reg gemaak en gese die geyser was ook sleg ge-earth. As hy nie ge-earth was nie sou ek bokveld toe gewees het.

RC ·

Die is baie, baie hartseer. Innige simpatiek aan hierdie familie met hierdie groot, groot hartseer. Mag Jesus julle baie styf vashou en vertroos.

B ·

Kragopwellings (‘power surges’) kan sekerlik tog huisbedrading (en toerusting) beskadig?

Annelize ·

O nee!!! Dis te verskriklik vir woorde! Hierdie arme ouerpaar moes eerder gehospitaliseer gewees het vir skok, mens stuur nie so iemand net huistoe nie. Skok is ‘n vieslike ding.

Daar is beslis groot fout met daardie huis se bedrading self, hierdie klink nie na ‘n Munispale probleem nie. Is dit ‘n huurhuis of is die mense die eienaars? Want as hulle die eienaars is, moes die vorige eienaar met die verkoop ‘n sertifikaat ingedien het as bewys daar skort niks. Selfs as is dit ‘n huurhuis, die eienaar gaan die sertifikaat moet kan toon.

17jaar terug het ons ‘n meenthuis gekoop en met die verkoop, ‘n jaar later, moes ons so ‘n sertifikaat indien. Met ‘n skok moes ons toe uitvind die vorige sertifikaat was vervals! Die vorige huiseienaar is toe intussen oorlede en die “Elektrisien” was onopspoorbaar. Duisende rande verder om foute reg te maak, oa moes ons die hoof toevoer kragkabel vervang, kon ons die sertifikaat indien. Mens speel nie met sulke goed nie.

maak dit saak ·

My innige meegevoel met hierdie gesin, ek is so jammer vir julle verlies, ek dra julle almal op in my gebede, dis verskriklik baie hartseer, aai daai arme Mamma en Pappa, en dit so voor Kersfees, Kan nie glo die Munisipaliteit doen niks omtrent dit nie?? Uiters SWAK, jul het n moord gepleeg, dis julle skuld. Mens mag nie sleg oor n ander wens nie maar was hul vir n jaar te besig?? Hierdie was n kosbare lewe wat te vroeg geeindig het. Kan die verteenwoordigers van die area nie hierdie gesin help nie, waars julle nou, hou vakansie terwyl hierdie famielie rou, sies…. Aan hierdie hele gesin, in my hart my gedagtes en gebede, rus sag mooiste meisiekind *snik*

riana ·

Ja julle dit is baie hartseer. Mens kan dit nie glo nie so vinnig word mens weg gevat. Maar ek dink aan die familie in die tyd dit is nie n maklike tyd vir hulle nie. Die Here moet hulle sterk hou en krag en genade gee. So voor die Fees tyd dan vrae mens hoekom maar ja God kom haal altyd die mooiste blom mens mag nooit vrae hoekom nie.
Danny en Lorraine en oupe Ernst en Ann-marie ek dink aan julle en bid vir julle. Bly net sterk vir Yolande sy het julle nou baie nodig.

maak dit saak ·

Daar was n post op fb die naweek hieroor, as n mens na die fotos kyk is daar n draad wat op die dak le, so ek is onder die indruk dis wat van gepraat word as daar gese word hulle het dit al geraporteer, die kortsluiting was bo-op die dak, nie binne huise bedrading nie, ek is nie n elektriese kundige nie, een van jul sal meer lig kan skep maar dit was bo-op dak, en daar was n opmering dat dit deur die pype geshort het nie die kabels nie, daarom het die db nie getrip nie, praat onder korreksie

Weet nie. ·

Sorry as ek op tone trap hierso, maar vorige plasing wys die huis met bedrading op dak!!! Krag pale buite die huis se drade. Ek weet ons almal probeer seker net sin maak hiervan. Dis erg traumaties en ongelooflike hartseer vir die arme mense. Sulke mooi dogtertjie. Ons dra julle in ons gebede

Bekommerde Ma ·

Sjoe die berig het sowaar my geruk… ons sit al vir 8maande met die selfde probleem en niemand kry die fout nie. So baie kenners was al by ons huis. Hul kon al met sekerheid sê die fout is nie by ons huis/erf nie maar kan glad nie agterkom waarvandaan dit kom nie. Ek het ook twee klein kinders in die huis wat al self kan krane oop en toe maak. Ek kan myself nie indink waardeer hierdie ouers moet gaan nie maar na vandag se berig gaan ek verseker nog harder werk maak van die saak en my kinders fyn dophou! Jammer vir julle groot verlies! Julle het my oë oopgemaak en my kinders gered!

Marius Botha ·

Die probleem is die neutral en live is omgeruil veral as jy n prepay meter het.Dit is binne die meter.

RG ·

Joe dis erg. Mens se hart val sommer ‘n paar verdiepings. Wat sê mens, daar is nie woorde nie. Innige simpatie aan die familie.

wys my ·

Wys my waar sit daai braker wat die munisipaliteit moet opsit dat jy nie doodskok in jou huis nie? Ek weet net van ‘n DB boks wat jy in jou huis het wat jy verantwoordelik is. Maroela media asb gee ons terugvoer sodra die mense die probleem gekry het van die kraan. wil graag weet

Lientjie ·

Ek het as Klein dogterjie so iets oor gekom, gelukkig het die breaker uit geskop. Ek het ook in die bad gesit, wou water by tap maar toe ek aan die kraan vat het ek geskok ek was uit die bad gegooi, was lank in die hospitaal my hart het groot skade gekry. Ek is Vandag n vrou van oor die 40 en is nog steeds bang dit gebeur weer.

Se Net ·

Dis ongelooflik hardseer. My hart bloei vir die ouers. Baie stekte, niks kan daai hardseer beter maak nie.

Kay ·

Ek lees nou en raak yskoud. Die naweek vistenk skoon gemaak en toe ek aan kraan vat toe skok ek. Wat veroorsaak dit?? Innige simpatie aan die familie!!

Renette ·

Dis baie hartseer, ons ht my niggie ook so verloor.. Di berig ht my sommer terug in tyd geruk. Ek is so jammer vir haar ouers xxx

sus ·

patetiese munisipaliteit, maar wat kan mens beter verwag? en nou moes ‘n klein mensie met haar lewe boet!
my hart gaan uit na haar ouers ….

Marius ·

Voel baie hartseer saam met die gesin en almal wat geraak word. Kan elkeen wat so gereed is om die slegte te sien en te beskuldig nie maar wag tot die ondersoek afgehandel is nie, voordat julle iemand beskuldig en stenig. Daarna kan julle elke klip optel en gooi.

Mellie ·

Hoekom moet die ergste altyd gebeur voor die ‘skuldiges’ (munisipaliteit in diè geval) wakker skrik? AS hulle gaan wakker skrik ….! Dis verskriklik.

Peet ·

Mense moet oplet vir groot bome binne hul erwe wat naby die water en elektrisiteits aanleg na die huis groei. As die twee aanlegte naby mekaar onder die grond is, sal die druk van die wortels van die bome sulke probleme oor die jare veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.