Ouers gebroke, maar klein Milané ‘Jesus se vegtertjie’

Baba Milané is al ‘n week lank in die hospitaal met Covid-19 (Foto: Verskaf)

“Sy was ons reënboog. Sy was ons liggie, ons vlam. Sy sal altyd ons liggie en vlam bly.”

Milané Grobler se ouers, Adela Malan en Christo Grobler, is gebroke ná hul ses weke oue babadogtertjie Dinsdagaand haar stryd teen Covid-19 verloor het.

Milané is meer as twee weke gelede vir Covid-19 in die Life Midmed-hospitaal op Middelburg in Mpumalanga opgeneem. Hoewel dit gelyk het of haar toestand oor die afgelope paar dae begin verbeter het, het haar organe egter begin ingee.

Sy het gisteraand gesterf.

Die dag toe Milané in die hospitaal opgeneem is, het dokters die ouerpaar op die ergste voorberei en gesê sy sal moontlik nie die volgende 24 uur oorleef nie. Sy het egter hard teen die virus geveg terwyl Malan en Grobler onophoudelik vir haar genesing gebid het.

Die ouerpaar sukkel nog om sin te maak van hul geliefde dogtertjie se dood.

“Sy was ons wonderwerkie van die dag dat ons vasgestel het ek is swanger. Ons sal haar altyd onthou, al het ons nou seer en al is ons nou kwaad. Ons weet Jesus het ’n groter plan,” sê Malan.

Adela Malan, Christo Grobler en baba Milané Grobler (Foto: Verskaf)

“Ons vind ook berusting in die feit dat sy nou veilig is en in die mooiste tuin ooit speel.”

Malan sê sy glo met Milané se storie wil God mense – asook haar en Grobler se geloof – versterk.

“Hierdie virus het nie gewen nie, maar God het oorwin. God is groter as ’n virus en my baba is nie net ’n statistiek nie … Almal ken haar naam en wanneer iemand sal vra oor Milané Grobler, sal hulle weet sy was die klein vegtertjie van Jesus.”

Malan het vroeër aan Maroela Media vertel hoe vriende, familie en selfs vreemdelinge in geloof en gebed vir Milané saamgestaan het. Sy het vertel dat sy die krag van gebed ook weer eens hierdeur ervaar het.

“Dankie vir die wêreld dat julle saam met ons gebid het.”

Malan is die suster van die Kokkedoor-finalis en sjef Pieter Malan, ook bekend as PappaChef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Manda ·

Julle geloof in Hom is uitstaande. Hou vas aan Sy troos, julle gaan julle kleinding weer sien.

Elmarie ·

Dankie dat julle nogsteeds sterk staan in julle geloof na die hartseer afsterwe van julle meisiekind. Ek het ook saam met julle gebid vir genesing. Maar God het ander planne. Jesus liefde vir julle

Hennie ·

Tragies.

Dis nou maar die virus – dit gaan beter en dan sterf die persoon.

Tiptol ·

Dieselfde gegaan met ‘n familie lid. Covid gekry, beter gegaan en toe is hy weg.

Irene ·

My hart is nou so seer. Ek is baie jammer vir julle verlies Mamma en Pappa.

Chantel ·

So bitter jammer vir julle verlies. Staan sterk in Jesus-naam

Skappie ·

Jammer om te hoor van Milane. Mag onse Liewe Jesus julle as ouers styf in sy arms vashou in hierdie moeilike tyd.

melW ·

My hart is bitter seer vir julle bitter seer! Mag julle elke oomblik God se vertroosting, vrede en liefde ervaar.

Miskruier ·

So hartseer die tye waarin ons leef. As boervrou wonder ek of dit nie tyd word om terug te keer na die natuurlike manier van leef, borsvoeding, organiese, onverwerkte kos, baie tyd in die buitelug en die bewus word van mens se “spiritual” kant. Ons immuun stelsels is onderdruk die laaste dekades. Alles is superskoon, geen kiem meer te sien. Ek woon langs n plakkerskamp en sien weinig van die virus daar, daarby dra weinig n masker en geld vir sanitasie is daar ook nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.