Ouers gebroke oor Downsindroom-kind se eensame dood in hospitaal

Rene Andrews.

Die Gautengse departement van gesondheid stel ondersoek in nadat ʼn jong meisie met Downsindroom in die Helen Joseph-hospitaal opgeneem is en daar gesterf het, maar haar ouers eers sowat ses weke later oor haar dood ingelig is.

Rene Andrews (15), van Eldoradopark in Johannesburg, is op 9 Augustus vir ʼn longinfeksie in die hospitaal opgeneem. Weens Covid-19-beperkings kon haar ouers, Colin en Jasmine, haar glad nie in die hospitaal besoek nie. Hulle het die hospitaal egter deurlopend gebel om terugvoer oor Rene se toestand te kry en is herhaaldelik verseker dat haar toestand goed is.

Op 9 Oktober is Rene se ouer suster, Venash, ʼn matriekleerder, na die hospitaal om ʼn spesiale pakkie vir Rene te gaan aflewer.

Charis Pretorius, die familie se woordvoerder, sê Venash is daar ingelig dat haar suster nié ʼn pasiënt in die hospitaal is nie. Sy het daarop aangedring dat haar suster in die hospitaal opgeneem is en is glo aangesê om die volgende dag terug te keer om sélf deur die hospitaal na Rene te soek.

Met die gesin se terugkeer die volgende dag is daar aan hulle gesê dat Rene reeds op 27 Augustus dood is. Hoewel sy aanvanklik in die kindersaal van die hospitaal opgeneem is, is die kind oënskynlik na ʼn vrouesaal oorgeplaas.

Pretorius sê die gesin is platgeslaan en veral Jasmine sukkel om Rene se dood te verwerk. “Hulle is gebroke. Die gesin is deur ʼn verskriklike tyd,” het sy gesê.

Omdat Rene ʼn geruime tyd in die lykshuis was voordat haar gesin haar liggaam kon identifiseer en opeis, is hulle aangeraai om nie na haar liggaam te kyk nie.

Foto: Timothy Bernard/African News Agency(ANA)

Sy is Donderdag in Johannesburg begrawe.

Pretorius sê hulle glo hospitaalpersoneel het bloot nie die moeite gedoen om werklik te gaan vasstel wat Rene se toestand is nie. Óf dít, óf hulle is leuens vertel. Sy sê spesifieke protokol oor die hantering van pasiënte met spesiale behoeftes is duidelik ook nie gevolg nie.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het gesê die waarnemende LUR vir gesondheid in die provinsie, Jacob Mamobolo, het opdrag gegee dat ʼn omvattende ondersoek na die hantering van Rene se saak gedoen word. Hy het ook sy medelye met die gesin betuig.

“Dit is nooit maklik om ʼn geliefde te verloor nie, veral nie as daardie geliefde ʼn jong mens is wie se toekoms voorgelê het nie. Die ondersoek na die hantering van Rene se saak sal ons help om pasiënte se sorg te verbeter,” het Mamobolo gesê.

Senior beamptes van die departement het die afgelope week reeds die Andrews-gesin ontmoet en nog ʼn vergadering word volgende week gehou.

Downsindroom Suid-Afrika het op sy beurt die manier waarop die hospitaal die situasie hanteer het ten sterkste veroordeel. Ancella Ramjas, nasionale direkteur van die organisasie, sê diegene verantwoordelik vir die gebeure moet aanspreeklik gehou word.

Die organisasie eis ook dat die uitslag van die ondersoek na die verloop van gebeure ná afhandeling daarvan bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Dries ·

Ag nee! Hierdie breek ‘n mens se hart! Mag die ondersoek darem daartoe lei dat die familie ‘n mate van geregtigheid kry.

RS ·

Dit is tipiese Suid Afrikaanse diens. Ai so jammer vir die kindjie en haar gesin.

Annelize ·

Wat ‘n skande, ek is met stomheid geslaan! En die regering wil die Nasionale Gesondheidsplan in ons kele afdruk? Nee dankie!!!

Cecilia ·

Dis so hartseer. Ek sal daai hospitaal wraggies laat betaal vir pyn en leiding en skending v mense regte tot by Daanthie in d kalwerhok!
Dan wil d ANC ons privaat mediese fondse wegvat en n Nasionale mediese fonds stig. Dit is n RAMP want dan kan hulle net meer geld in hul sakke druk!

Alet ·

Alles in hierdie land word altyd ondersoek. En die een komitee is meer onderduims as die ander een. Geen probleme word ooit opgelos nie en dan word ‘n komitee aangestel om te ondersoek hoekom word niks ooit opgelos nie. Pateties verby. Medelye aan die familie.

Wakkerslaper ·

Absoluut verskriklik! Ek voel geweldig jammer vir hierdie familie. Dit is werklik tragies…

Marlene ·

NEE, dit kan mos nie gebeur nie!? HOE? My hart gaan uit na hierdie mamma & pappa & res van die gesin. Ek bid dat hulle vrede sal kry. Aanvaar? Vergewe?

Piet ·

Hulle moes definitief aangedring het om na die liggaam te kyk en inderdaad ook sommer ‘n patoloog gekry het om ‘n privaat outopsie te doen. Wie weet watter onheilighede daar kon gebeur het?

Louisa ·

Dis is so hartseer! My innige simpatie aan die ouers en familie. Ek sal daarop aandring om die lyk te sien en seker te maak dis die regte persoon. Ons het ook nou in lockdown iemand af gestaan aan die dood, en hulle wou vir ons die verkeerde lyk gee. Hulle was so nalatig met haar in die hospt. Wie weet wat moes die engel kind alles deur gaan. Rus sag engel kind.

Elna ·

Dis so tragies, wat de ongeluk gaan in ons hospitale aan, gee simpatie/empatie, so tragies.

Anel ·

Dit is net siek. Hierdie is ook ‘n siek storie dat mense nie in hospitale besoek mag word nie. Veral kinders en oumense. Dit is nou al die hoeveelste geval waar die persoon al lankal dood is en die familie eers baie later van gesê is. Dis hoekom ek maar met pyn rondloop in my skouer. Moet skouervervanging kry maar verduur maar vir eers die pyn.

Ansie ·

Nog een van die ANC se suksesstories? Ek hoop die ondersoek lewer ‘n klomp geskorstes op wat nie hulle werk gedoen het nie. Hoe moeilik is dit om ‘n telefoon op te tel en die ouers van hulle kind se dood te verwittig?

Melanie ·

Dit gaan mos teen elke protocol moontlik wat in enige hosp moet afspeel tydens n sterfte!! Hoe gemeen. Daai klein lyfie alleen in haar laaste uur, en dan die manier wat hul nie eens van haar geweet het nie laat mens wonder hoekom sy regtig dood is. !! Ek sou die hospitaal met regstappe gedwing het om lykskouing te laat doen. Hy berawe jy jou kind as jy nie eens kon koebaai se nie… of haar handjie vashou vir n laaste keer nie… Nee dit is totaal onaanvaarbaar. Is dit waarnatoe SA oppad is?? Ek hoop daai hosp boet vir elke greintjie seer wat daar ouers en haar sussie moet verduur!! Rus sag engel kind.

Katjie ·

Dit is wat my onder gekry het tydens Covid met my man wat telkemale in die hospitaal opgeneem is. Ek kon nie met homself praat nie omdat hy by tye nie kon praat nie dus was ek afhanklik van die verpleegpersoneel se terugvoer…mense wat my man nie ken nie. Ek het elke dag met ‘n knop in my maag wakker geword en daarmee gaan slaap oor die onsekerheid. (Gelukkig) met sy laaste hospitaalopname het ek toestemming gehad om hom elke dag te besoek omdat hy terminaal was. Ek kon dus rustiger wees omdat ek elke dag tot en met sy dood kon sien hoe dit met hom gaan.
Moenie my verkeerd verstaan nie – die personeel het mooi na hom gekyk, maar jou eie oe is beter.

So iets moet nie gebeur nie – dit is net nie reg nie. My hart gaan uit na die ouers en sussie.

Nella ·

So jammer vir die familie en selfs die dogtertjie wat so lank moes lê, al is sy dood en niemand kon simpatiseer en vir oulaas ‘n drukkie kon gee nie. En dit is nou al lank nie meer Jan van Riebeeck se skuld nie, maar ons nuwe Suid-AFrika wat een groot gemors is.

Fae Fubar ·

Ek is met afgryse vervul! RIV, dierbare kind. Innige simpatie aan haar gesin.

Annette ·

Dit is hartverskeurend! My innige simpatie aan die gesin wat hul geliefde dogter verloor het en so wreed daarvan moes kennis neem. Dis totaal onaanvaarbaar. Hoop die skuldiges ry aan die pen. Die omvang van die skade wat die ANC aangerig het met hul drakoniese Covid-maatreëls is onberekenbaar. En heeltyd is dit boetie maak vir baba bang met `n virus waarvan die herstelkoers 90% is.

Daleen ·

Daar is nog mediese personeel wat omgee oor hulle pasiente. Praat uit ondervinding my sus is ‘n matrone in privaat hospitaal en sy loop haar voete deur om wanneer sy aan diens is by elke pasient uit te kom en hulle hand’ n drukkie te gee – veral die kinders en ou mense juis omdat hulle eie mense nie daar kan wees nie. Maar ja ek moet dan ook erken dan kry jy die wat net daar is vir die geld en niks voel vir ander se lyding nie. Sterkte aan die ouers en rus sag Rene.

Ferryman ·

Dit is nou regtig onaanvaarbaar en onmenslik. Daar sal moet koppe rol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.