Ouers gee jong verdagte oor ná moord

(Argieffoto: pixabay)

Die ouers van ʼn 14-jarige seun het die kind self aan die polisie oorgegee nadat hy glo by die steekdood van ʼn 12-jarige seun betrokke was.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die jong slagoffer, Austin Kiewits, was Saterdag saam met ander maats op pad na iemand se huis in Conville, George, toe die 14-jarige hom kort voor 13:00 in Tinktinkiestraat voorgekeer het.

“Die verdagte het glo ʼn mes uitgehaal en die oorledene in die linkerkant van sy bors gesteek. Hy het op die toneel ineengestort en paramedici wat op die voorval gereageer het, het hom dood verklaar,” sê Pojie.

Die vermeende aanvaller het daarna te voet gevlug.

“Binne ʼn uur ná die voorval het sy ouers hom aan die Conville-polisie oorhandig,” sê Pojie.

ʼn Maatskaplike werker het daarna ʼn sielkundige evaluering gedoen en die seun sou na verwagting Maandag op ʼn aanklag van moord in die George-landdroshof verskyn.

Die polisie het die moord as “sinneloos” bestempel en gesê die motief vir die aanval vorm deel van die ondersoek.

Genl.maj. Oswald Reddy, groepbevelvoerder van die polisie in dié gebied, het sy skok en verslaentheid oor die voorval te kenne gegee omdat “sulke jong lewens so gou op so ʼn verskriklike manier verwoes kan word”.

Reddy het ook sy medelye met die slagoffer se familie betuig en gemeenskappe gevra om na mekaar se kinders te help omsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Barney ·

Ek haal my hoed af vir die ouers – dit kon nie maklik gewees het nie

Harley Davidson ·

Ek sou ook nie kon maar ek is seker my kinders sal nie so iets doen nie.

Elmarie ·

Ek stem. Dit moet ‘n baie moeilike besluit gewees het. Maar op die lang duur glo ek dit was die regte besluit

Linx ·

Beslis,my hart sou dit nooit hou nie,dis soos daar altyd gese word mens loop nie met jou kinders nie wat hulle buite met maats doen is duister net tensy ons heeldag met hlle loop

Niklaas ·

Die ouers het nie juis ‘n keuse gehad nie. Ondersoeke sou baie gou ‘n pad na die jong skuldige gelei het.
en dan het die ouers moeilikheid met die gereg oor verskuiling van ‘n jong moordenaar.

Harley Davidson ·

Dit is tragies die strafstelsel moet herroep word lewenslank blyk nie ‘n genoegsame afskrif middel te wees nie ,ek glo nog doodstraf sal beter wees vir die tipe misdaad maar dit moet selfbeskerming uitsluit en op meriete hanteer word.

Rooikopheks ·

Lewenslank?? Om dan na ń paar jaar op parool vry gelaat te word?? En dan om dieselfde of nog ń erger misdaad te pleeg?? Waar is geregtigheid in so ń situasie??

Johanna ·

Dit was die dapper stap om te neem, ouers wat werklik omgee vir hulle kind en ook vir die kind wie dood is, se Familie.
Sterkte vir altwee die families. Niemand het gewen nie.
Kinders moet DINK VOOR HULLE DOEN.

Blomme ·

Ons kinders word in ń geweldadige omgewing groot. Dis so tragies. Bravo vir die ouers. Soveel ouers smeer hul kinders se verkeerde dade toe.

Sandra ·

Ek dink wat die ouers gedoen het is bewonderingswaardig. Dit moes tough gewees het, maar so leer hulle hom om pa te staan vir iets wat hy verkeerd gedoen het. Voorspoed aan daardie familie.

Darts girl ·

Dis vir my so hartseer, wat moes deur daai ouers se gedagtes gegaan het voor hulle hul seun gaan oorgee het aan die polisie. En dan nog iets wat my pla waar is die slagoffer se maat wat saam hom geloop het?

Peach ·

Welgedaan aan die ouers vir hul optrede. Dis die tipe ouers wie hul kinders leer/wys dat vir elke aksie, is daar ‘n reaksie en, verantwoording vir jou dade. Die ouers wie sê hulle weet nie of hulle hul kind aan die owerhede sou “uitlewer” nie, is die tipe wie met hul koppe in die sand begrawe is vir hul kinders se dade….. waarom het die MOORDENAAR, ongeag onskuldig tot andersins bewys, in die eerste plek met ‘n mes rondgeloop? Simpatie en sterkte aan die familie wie in rou gedompel is.

Charl ·

Wat gaan aan met vandag se kinders ? Hierdie tendens neem onrusbarend toe, so asof hulle met ‘n misdadige geen gebore is !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.